Hier op Waterval is daar ‘n toneel wat elke liewe middag hom afspeel. Net so voor “Die osse stap aan deur die stowwe, geduldig, gedienstig, gedwee”– ala Jan FE Celliers tyd.

Die bonkige, bruin Beefmaster bul, Klei en die spoggerige Brahmaan bul, Porselein is elke middag as die son sak so oor die plaaspad deur die kampdrade aan die murmureer met mekaar.

Dis ‘n geblaas, gebulk en sulke lae, loei dreigemente. Hulle stamp voete soos Spaanse dansers dat die droë winterstof sulke rooi wolke om hulle maak. Die middag roetine te kostelik.

Die geloei en stof stampery is al maande aan die gang. Kompleet of die een die ander wil vertel hy is beter, sterker.

Albei rasse is familie. Ou Klei is 50% Brahmaan, 25% Hereford en 25% korthoring. Albei se voorvaders Amerikaans van oorsprong. Klei se neefs is Bonsmaras, wat 50% Afrikaner is.

Albei rasse word bestempel as saggeaard, intelligent en maklike diere wat goed op hulle eienaar se sorg sal reageer. Die twee knolle se neukery met mekaar by die draad, weerspreek dit.

Hulle is seker maar soos daai familielede waarvan vertel word “hulle is spieëls van mekaar, die dat hulle nie oor die weg kom nie.” Of erger nog dat albei duidelik alfa diere is en dit pleinweg manlike ego in spel is.

Lyk my onmin in families en tussen manne is nie beperk tot die mensdom nie. Al het almal dieselfde Maker en deur lief genade deel almal Sy asem. Ag ja, die ondermaanse se mense en diere tog.