Bokkerolletjies in wording terwyl die opslagsomer sonnetjie reënboog strale maak in Waterval se kombuis.

Is julle ook saam Marxisties vandag? Niks met politiek te make nie, maar alles met die groen-en-goues en git swartes se ‘Bybelse-rugbystryd’, aldus Neil Sandilands, vanmiddag op Ellispark, of wat ook al die plek se borg naam nou is.

Ek kan net glimlag. Hier op Waterval voel die Rots en jongste Tante veral voor so epiese rugby stryd soos ouens wat te min geblok het en toe maar die vraestel geraai het. Hol kolle op die maag en natgeswete palms soos wat die afskop tyd aankom.

Ons huis is erg Marxisties – ons is mal oor Malcolm Marx, en ons bid Willie Roux het weer net ‘n minuut nodig om wen punte aan te teken. (Gaan kyk op Netwerk 24 die oulike plakkate.)

Ek wonder of ons Gauteng Goudstad mense beter as Loftus en M-BOM-bela kan sing. Sjoe daai Laevelders het my vel laat krimp aan hoendervleis.

Hier op Waterval het Elisa en ek ‘n ruk gelede ‘n paar spinasie-, kool- en Chinese kool-saailinge geplant . Die Chinese kool het vier mooi koppe gelewer en is al vergete opgevreet in bredies en slaaie. Die arme Johanne14’s is deur goggas aangeval, twee is nog besig om te spartel en begin mooi groot koppe te vorm. Vandeesweek bring sy ‘n skottel lieflike spinasieblare kombuis toe. Ek snipper die lieflike bros blare en kap uie fyn en smoor dit stadig op die stoof. Ons het die afgelope weke las van koperdiewens wat alte lief vir ons omte se elektriese transformator is. Drie keer al verwoes en verbrand. So sit ons weer ‘n hele dag sonder krag toe ek lekker spinasie en sampioen room pasta wil maak. Die bak gaar spinasie moet noodgedwonge yskas toe.

Vanmore wonder ek wat ek kan doen om ons huis te help om die ‘Bybelse stryd’ later vanmiddag te hanteer. Groen en goud. Mmm. Spinasie en kaas. Wat maak ek daarmee? Toe onthou ek die aloo naan rolletjies wat ek ‘n ruk gelede gemaak het.

Siemsalabiem, abrakadabra, tower ek Bokkerolletjies op. Groen spinasie, goue botter en kaas in ‘n heerlik naan geïnspireerde degie toegevou ter ere van ons Springbokke.

Hoop dit gee krag waar nodig. Mag die git swarte Kiwis bokkerrol reg kry nie. Mag die krag van Popeye deur elke Bok loop en die lig van oorwinning tog maar vir ons gunstig val. Die hemel weet, ons sportlui het ‘n reuse taak om ons gemoedere en kenne in ons ou seerkry land te lig.

Bokkerolletjies

(Hierdie kosserasie genaamd Bokkerolletjies is op hierdie 13e dag van Augustus 2022 deur die uwe kreëer om die Bybelse rugby stryd wat vanmiddag tussen die Springbokke en All Blacks plaasvind te vereer. Misbruik die resep soos jy wil)

Bestanddele vir Naan deeg

10g kits suurdeegkorrels

15ml bruinsuiker

60ml lou water

Meng die drie saam en laat staan vir 5 minute om lekker te skuim

In ‘n mengbak:

500g koekmeel

1/2tl koeksoda

1/2tl sout

310 ml louwarm water of melk

30ml olyfolie of canola olie

Kruie na smaak ( ek gebruik Pietersielie, Orego en Basiliekruid, omtrent so 1 1/2 tl se waarde)

Vulsel:

(Maak dit lekker lank voor jy die deeg aanmaak, sodat die mengsel goed in die yskas kan afkoel.)

‘n Pak spinasie blare ( vir tradisionele Aloo Naan rolletjies of plat brood kan jy 500g gaar aartappel blokkies gebruik. Moet dan ook nie kaas byvoeg nie)

‘n fyn gekapte ui

1/2tl sout

1/2tl rissie vlokkies

1/4 tl rooipeper

1/2tl fyn koljander

1/2tl koljander saadjies (opsioneel)

1 tl komyn

1/2 koppie gerasperde Cheddar en Parmesaan gemeng

So maak mens:

Ek knie nie self deeg nie- My Kenwood Chef XL genaamd Jamie Oliver, met sy K-klitser doen die werk blitsig) Meng die bovermelde bestanddele op matig en voeg dan die suurdeeg mengsel by.

Sit menger op matig hoog totdat die deeg lekker ferm vorm. Sit deeg knus in bespuite mengbak, bedek met kleefplastiek en vadoek vir 11/2 uur. Dit rys te mooi.

Knie die deeg af en vorm so 10- 12 bolletjies van omtrent 80g elk. Druk ‘n bolletjie lekker plat en maak ‘n holte waarin jy lepelsvol koue spinasie en kaas mengsel inskep. Vou die plat degie mooi toe en knyp mooi vas om ‘n rolletjie te vorm. Plaas bereide rolletjies op bakpapier gevoerde bakplaat. Sprinkel gerasperde Cheddar en Parmesaan kaas oor, sprinkel gesmelte botter oor. Die foto’s wys hoe.

Plaas in oond vooraf verhit teen 180ºC. So 15-20 minute of tot mooi bros en goudbruin.

Erna Maré 13 Augustus 2022