‘n Openbare liefbrief vir my Rots

4 Augustus 1984

My liefste Rots

Dis 4 Augustus 2022.

Op 4 Augustus 1984 het ek en my liewe Oupa Faan buite Bethal-Noord NG Kerk aangekom in ‘n spoggerige antieke Ford, so swarte met sy regop bakwerk en agterstevoor oopslaan deure.

Ek in my R30 Indian Cotton Nagrok trourok en Oupa met sy grys hare mooi Vitalis gekam.

Voor in die kerk het jy in jou duur pak (danksy die boete wat jy gekry het toe jy in die stad dit gaan koop het) op my gewag. Kan jy onthou hoe ons albei se knieë gebewe het?

Ek en jy teen die wêreld, ek sans ouers en jy met jou moeder oor. Hoe ons jou Cortina Big Six verkoop het om troue en onthaal te kan hou.

Toe het ons al geweet hoe mens beurte maak om vir die ander een in te staan, by te staan. Eendag loop een voor, die ander dag die ander. Hoe ons ook geleer het dat ‘n huwelik voltydse werk is. Dat dit gaan oor vergifnis, geduld en boweal saam glo.

Vyf sakke en ‘n paar knippe sout al opgevreet. Ons het al soveel beleef en oorleef. Ons verhouding beleë en geslyp, dikwels tot op die nerf. Hier is ons nou.

Die wêreld nog meer onrustig as ooit, na-Covid oorlewing ‘n steil bult. Ons het klomp drome laat vaar en goed geleer dat elke oomblik, hier en nou tel.

Ons kind is steeds eenloper alleen. ‘n Besondere mens. Beste staatmaker vriendin vir ‘n trop vriende, sakevrou en vasbyter van formaat. Die kroon juweel op ons 38 jaar saam.

My Petrus-Pieter-Rots, ek weet om saam met onwennige, verwarde, vol draadwerk ek is nie aldag maklik nie. Dat my diepgewortelde einas en vrese julle laat les opsê, nog nooit jou of ons kind gillende die stofpad af laat jakkalsdraf het nie. Dat julle alles van my weet en steeds van my hou.

Ek dank die Here dat Hy weet waar elkeen van ons in die lewe moet staan.

Al voel dit of ons maar die Waterval brakbende ter wille bymekaar bly, al is ons toekoms onseker. Ek moet bely dat ek dit nie anders sal wil hê nie. Altyd lief, al hou ons soms nie baie van mekaar nie.

Ons leef ons nuwe oomblikke (al is dit soms bang, bewend, woedend en ander kere oopbek en los hande) in vertroue en bowenal saam. Daarvoor is ek eindeloos dankbaar.

Liefde altyd

E.

Naskrif: Dankie dat ek na al die jare nog in jou skouer inpas, dat dit net my plek is.