Roep ek weer nou die dag my innerlike Nigella en Prue Leath op en ek kook en smook. Maak lekker suurdeegbrood mengsel aan vir broodrolletjies.

Die deeg rys te mooi uit, ek knie af en rol die mooiste dosyn rolletjies en toe die bekwaam herrys het, sit ek die baksel in die oond. Dit ontgaan my egter dat rolletjies nie so lank soos ‘n brood sal bak nie.

Intussen is ek, volkome verdiep in ‘n riller wat Amazon se aanbevole lys gehaal het. Ek lees nog ‘n hoofstuk, en nog een en my neus kriewel. Gonna patat! Nodeloos om te sê groet bros bruin rolletjies my by die oond, byna bokkom droog gebak.

My gewete, wat nogal streng is, gaan onbedaarlik aan die jil: “Jy kan nie so mors nie, wat nou, wat nou…”

“Kalm”, betig die res van my,”ons sal ‘n plan maak, hier is baie resepteboeke.”

Ek vlieg deur die betroubares. Broodpoeding, broodpoeding skree die koskenners uit elke boek.

Gou kom ek agter dat dit ‘n moewiese broodpoeding gaan wees met twaalf rolletjies. Wat maak ek tog nou! Toe tref dit my, die goed is mos klaar half droog. Broodkrummels, ek gaan broodkrummels maak met die balans.

Die blixemblitser word uitgehaal en sommer gou het ek ‘n bakplaat vol goue krummels in die oond om mooi klaar te droog. Nou kan ek krummels optower vir Schnitzel, bolae en so aan. My innerlike Nigella gee my ‘n goue sterretjie vir die blink plan.

Terug by die resep vir broodpoeding. Ek had nie sultanas nie, maar sulke vet Montagu rosyne. Ek week die in water. Smeer ‘n bak en sny die broodrolletjies korsie en al soos Dine beveel en pak die bak van hoek tot kant vol. Gooi die vloeistof van die deurweekte rosyne af en strooi die oor die wagtende brood blokkies.

Dine beveel ook vir ekstra oemf amandels aan. Ek het nie amandels nie, wel gemengde neute. Ek blits die handvol op, en dit kom soos katjiebotter uit. Dis nou die blixemblitser vir jou. Plaas ek die goed in ‘n plastieksakkie gesit het en met die beukblixem (vleis hamertjie) gekrummel het. Tjag, Mater Chef is maar ‘n strewe. Ek krummel maar die spul tussen die rosyne en broodkrummels in. Geur is geur. Vier kaneelstokkies en (vergewe my asseblief Hart Stigting) 6 eetlepels botter word ook tussen-in ingedruk!

Eiervla met eiers, melk, vanielje essens staan reg. Dit word oor die brood gegiet en dan oond toe. Ek het die Kindle weggebêre. Een ongelukkie in die oond per dag is genoeg.

Maar jinne tog, broodpoeding is ‘n edel en grênd ding, nogal met meringue as hooftooisel.

Ek kies toe kos koningin Dine Van Zyl se broodpoeding raad. In haar onomwonde manier skrywe sy ‘broodpoeding moet nie na gebakte brood proe nie, dit moet soos gebakte poeding proe’ en ‘die meringue moet nie oorbak nie.’

Het jy geweet dat die vroegste aantekeninge van broodpoeding is in Jan van Riebeeck se tyd te vinde? Nog ‘n blameer vir Jan, hehe.

Ek troos my dat ek die basiese voorbereiding sal doen, en my soetgebak prinses Bab kan die bolaag kom maak. Sy het al makrolletjies en spog goete vir verjaardae en troues opgetower.

Laatmiddag, kom die oproep van Bab. “Ma onthou ek kom eers later vanaand, gaan na Katy te konsert toe,” kom die liefstem.

My moed sak in my skoene. Dis toe nou ek en eierwit en strooisuiker wat mekaar vir die eerste keer gaan ontmoet. Witoog in die oë kyk.

Poeding en soetgoed is buite Waterval Master Chef kombuis se stuurhuis. Wat ‘n deeglike leermeester is Dine met haar nuttige wenke.

Ek klop daai eierwitte tot ek dit so ewe die bak onderstebo bokant my kop kon hou. Daarna kom 10ml (2 teelepels) strooisuiker per eierwit in gelid om ingeklop te word.

Gou-gou kan ek lepelsvol punt in die wind wolke stapel op die wagtende appelkooskonfyt besmeerde eiervla brood wat intussen in die oond gebak het.

Ek bely ek het toe maar vir die kos gode mooi gevra om die oond op te pas, en sy kosbare inhoud. Net daar op die vloer voor die oond sit ek en wag.

Siemsalabiem….

Dine en my beeste lyk in hulle skik en my gesin was hemel toe en terug, bly by die hart. Ma het poeding gemaak.

“Die poeding was lekker E,” sê my Rots en hy wil weet watter boek hy kan aanskaf vir as ek weer broodrolle bak.

Ns. Ek trag nie eens om vla te maak nie, Ultra Mel doen dit baie beter…