Al wat jonger ek van karringmelk geweet het is dat gekoopte Ouma beskuit se karringmelk beskuit kon vir moordwapens gebruik word. Blerrie hard en suig g’n koffie op nie. My ouma en ma het nie botter gekarring nie, so ons klompie het doodgewoon nie daarmee in kontak gekom nie.
Toe Rots met suikersiekte diagnoseer word, besluit my wyse skoonma om haar seuntjie ter wille en ook ons begroting in ag genome, dat sy haar karringmelkbeskuit resep met my sal deel.
Nommer 13 van die tuisnywerheid se suikervrye beskuit het rêrig soos saagsels geproe het my soettand ega gekerm, en dis duur. Biebs kom tot my redding.
Dis ‘n lekker resep. Nie suikervry nie, maar Rots hap net so enetjie soggens. (Sien resep hieronder) Ek het lank in Ouma Groot se enemmel skottel die bestanddele en my omgee in die 1-2-3 resep se metode ingewerk. In Covid-tyd toe Jamie Oliver die Kenwood my lewe kom verander het, het hy die inwerk-proses met styl en spoed oorgeneem. Dis nou sommer woerts-warts dan is die twee panne deeg in die oond.




Biebs se bruin beskuit
- Bestanddele
- 500g Stork To Bake
- 300ml Huletts Treacle suiker (Demerara of muscovado suiker is net so lekker)
- 1 500ml Karringmelk houertjie
- 7 koppies Nutty Wheat (1kg pak)
- 2 koppies koekmeel
- 4 opgehoopte eetlepels bakpoeier
- 1 1/2 teelepel sout
- 4 groot eetlepels omega saad mengsel
- 1 koppie lekker pitlose rosyne
- (Opsioneel 2 eetlepels papawer saad)
- So maak mens:
- Smelt margarien in mikrogolf. Roer loopsuiker by gesmelte botter tot opgelos.
- Terwyl die afkoel tot lou, meng saam: Nutty Wheat, Koekmeel, bakpoeier, sout, saadmengsel en rosyne.
- Gooi die lou Margarien/suiker mengsel by die droë bestanddele en vryf dit in tot alles soos fyn krummels lyk en goudbruin gekleur is. Voeg nou 500ml Karringmelk by die krummel mengsel en knie tot sagte deeg. Deel in twee en druk in gesmeerde of bespuite vierkantige bakpanne.
- Bak teen 180ºC vir ongeveer 45 minute.
- Wanneer afgekoel, sny in beskuit vingers en droog teen 100ºC vir ongeveer 3 ure tot bros en droog.
- Vir ‘n ware diabetes vriendelike weergawe van hierdie resep: Laat die suiker uit die gesmelte margarien, voeg die ekwivalent van 300g suiker met Natreen of stevia vloeistof by die karringmelk)

Ons huishouding is ook baie lief vir donker, klam muffins.
‘n Gunsteling nie-kroek donker muffin resep is uit my Karoo-kookboekie wat ek circa 2007 in my geliefde Graaff-Reinet gekoop het. (Karoo family favourites van Union Preparatory School)
So maak mens:
- 2 1/2 koppie Nutty Wheat
- 1 koppie semels (Bran)
- 3/4 koppie bruin suiker
- 2 teelepel koeksoda
- 1 plat teelepel bakpoeier
- 2 koppies karringmelk
- 1/3 koppie kookolie
- 2 eiers/
- Klop karringmelk, kookolie en eiers saam. Meng al die droë bestanddele saam. voeg dan die nat en droë mengsels tesame en meng goed. Meng dan wat jy ook al verkies by (neute, rosyne, of wat ook al)
- Ek kap ‘n handvol neute fyn, maak ‘n piesang of twee tot moes, rasper ‘n lekker groot wortel grof, rasper ‘n appel. ‘n knypie neutmuskaat en ‘n knippie kaneel en ‘n teelepel vanieljegeursel word ook bygesit.
- Ander dae sal ek ‘n koppie Jerusalem toffies (ontpitte dadels) in bietjie kookwater met 1/4 teelepel koeksoda sag maak en fyn snipper na die vloeistof afgegooi is.
- Skep in gesmeerde of bespuite groot muffin panne, so 3/4 vol. Bak in oond teen 180ºC vooraf verhit, vir ongeveer 20 minute. Gesonde lekkerte.
- Lui huisvrou dag is as ek die klaar meel mengsel uit die Master Chef koskas haal. Ek vervang die melk wat hulle saam met 125ml kookolie en 1 eier vir die nat bestanddele aanbeveel, met ‘n 500ml botteltjie karringmelk.
My gesin kan dan by die werk teetyd ‘n lief drukkie geniet. Daar is ook altyd ‘n paar in die yskas vir ingeval Rots die bewerasies kry of iemand in die huis middernag voor die yskas staan.
Ek maak ook al lank nie meer die eier-melk macaroni-en-kaas nie. Vervang die melk met 500ml karringmelk. Klits goed met 5 eiers, ‘n skeut rooipeper en ‘n milde teelepel of twee mosterd poeier en sout en peper na smaak. Daai macaroni-kaas kom smerig lekker uit die oond!
Een resep wat ek lees en dan weer van wegstap is uit Dine van Zyl se Die groot Boerekos-boek. Karringmelkpoeding op bladsy 212.
Ek lees hom gereeld, en dan gaan my innerlike Nigella aan die verskrompel as ek lees: “Karringmelkpoeding is lig soos ‘n soufflé, hoewel die wit en geel van die eiers nie geskei word nie. Dit het ook die nukkerigheid van ‘n soufflé: wil nie in ‘n koue oond gesit word nie, wil nie die oonddeur laat oopmaak nie, wil nie staan en wag om geëet word nie.”
Dit troos nie dat Dame Dine vertel jy “meng alles bymekaar, giet in bakkies en skiet in die oond, bak, haal uit, eet onmiddellik” nie. Ergste nog haar wenk om seker te maak die poeding is gaar! “Gee die stoof ‘n woeste klap. Loer deur die venster. As die gereg bewe, is dit nog rou. As dit die aanslag oorleef is dit gaar. Kyk veral in die middel, want dit moet regdeur gaar wees.”
Ek is bekend dat ek hard met my hotklou aangaan met breekgoed, kasdeure en so aan. Met my geluk moker ek die stoof skuins en die karringmelkpoeding tot afblaas! Ek lees maar liewer en giggel vir my verbeel oomblik by die geklapte stoof!
Gelukkig is ek nie as poeding maker en koekbakker bekend nie. Ek kook en smook eerder aan maaltyd disse. My bak vernuf volstaan met die beskuit en muffins met karringmelk as die held.
Wat tower jy met karringmelk op?
Groetnis van die Waterval Master Chef koskas vrou.
Ek gaan dit moet probeer
LikeLiked by 1 person
My oorlede Pa kon enige steeks elektriese toestel weer reg klap! Tot die laaste klap die ding oor die rand stoot en dit nooit weer skop nie… Klink my as jy vir die stoof gaan mik kan dit dalk dieselfde uitwerking he.
😀
LikeLiked by 1 person
Dis net so. Dis hoekom ek nie daai poeding gaan probeer nie.🤪
LikeLiked by 1 person
Nee, jy het die oond nodig vir daai ander liplek-lekker geregte wat jy van gesels!
LikeLiked by 1 person
Jy sien. Oorlewing eerste. Hehe. Dankie vir die inloer.
LikeLiked by 1 person
Altyd lekker om by jou te kom kuier!
LikeLiked by 1 person
😁 Ons outydse JVC tv-stel (circa 1976) het altyd ‘n harde klap nodig gehad om aan die gang te kom.
LikeLiked by 2 people
Ek het gereeld my groot rekenaar geklap. Tot geen nut…🤪
LikeLiked by 1 person
😀
Dit klink so bekend!
LikeLiked by 1 person
Eendag se eendag kom sit ek op jou sonstoep en pleeg koffie en beskuit…
LikeLiked by 1 person
Jy is welkom💝👋
LikeLike
Lekkervurig, jou karringmelkbeskuitresepte klink heerlik. In my huis oorleef ‘n bottel karringmelk nie langer as 5 minute nadat ek dit uit die inkopiesak gehaal het nie. Dit sal nooit by die deeg uitkom nie. Jogurt gaan dieselfde pad – ek maak jogurt in die Pot (een van my nuwe vaardighede wat ek aangeleer het) en dis veronderstel om ‘n dag of twee te “rus” – tsk – binne twee dae wonder almal waar die jogurt heen “verdwyn” het. Ook maar goed, want sommiges hier rond se lywe sal nie baie lank in hulle klere pas as ek skielik ontpop in ‘n bakster van formaat nie.
LikeLiked by 1 person
Ek beny julle gesonder lewendes met goeie goed. Soos ek vir Dina gesê het oor die blokke botter op my stêre.🙈
LikeLiked by 1 person
Ja, maar ek vrek oor beskuit en koop so een keer elke paar naande all bran beskuit by die bakkery om saam met vriende te geniet – dis die enigste tyd wat ek koffie drink.
LikeLiked by 1 person
Ek gaan bak en vir jou stuur, met strikke om💝
LikeLiked by 1 person
Soos in valstrikke?
LikeLiked by 1 person
Dat jy gereeld op jou bure se sypaadjie sal sit, in die son met ‘n beker koffie en my beskuit….
LikeLiked by 1 person
Nee, jy mag dit nie doen aan ‘n vriendin nie!!!
LikeLike
Aw….rêrig…💝
LikeLiked by 1 person
Ek het die voorloper tot Dine van Zyl se Groot Boerekosboek besit, maar dit is opgevreet deur die huishond – ek was NIE beïndruk nie! Sy skryf darem so onderhoudend, klap die oond om die poeding te toets, bwahahaaa…
LikeLiked by 1 person
Ek voel haar by my as ek die resepte lees.😉
LikeLiked by 1 person
So lekker soos daardie beskuit klink (en lyk), sal ek nie my hand daaraan waag nie … ek is nie so ‘n bobaas bakker nie. Maar ek gaan beslis weer ‘n keer na jou muffin resep kyk – die blikke hier is leeg en ek reken jou lekker muffins kan ‘n wenner wees.
Maar kyk, nou het ek hardop gesit en lag … ‘Jerusalem toffies’ 😅, ek het geen idee gehad dis wat dadels (ook) genoem word nie! En daar is juis sulke lekker dadels wat al die pad van Klein Pella af kom (daar in die Noord-Kaap) in ons yskas … maar ai, dis die yskas in Langebaan …
LikeLiked by 1 person
Aweh. Reis wet and dusty roads Langebaan toe met karringmelk en muffinpanne 😘
LikeLiked by 1 person
So sal dit moet wees 😁.
LikeLiked by 1 person