Hester se kosmakery op haar oudag blogs het hierdie inspireer.

Ter inleiding moet ek eers vertel van my koskas en yskas en algemene huishou op Waterval.

Jare se buite die dorp bly met geen Meneer Aflewer of die Griek se kafee of die Handelshuis om die hoek nie, het ek geleer om aankope met ‘n plan te doen. Dis ook te danke aan my Ouma Stompie en my Anna Malat-ma vir wie ek so lank kwaad was oor sy nie wou bly lewe het nie, dat ek eers hier in my oudag haar invloed op my lewe en doen en late agterkom. Met grysheid kom wysheid en kalmte.

‘n Paar reëls geld:

As jy die tweede laaste toilet rol of badseep uithaal, skryf dit op die inkopielys op die yskas. Die tandepasta, stort seep die kan tot die laaste ene gaan voor dit die lysie haal.

In die skoonmaak kas is daar altyd vir wat ook al in gebruik is: Handy Andy, Sunlight Liquid, Toilet Duck, Ultra Kitchen Cleaner, Omo (Surf werk nie lekker met brak water nie), Sta-Soft hervulle en rolle kombuis servette (ek het die Watervalbende se blapse en ‘n kaggel se ruit om skoon te maak, en ek is links…blapse met koffie, en sop en so aan jy weet.)

Nou jongste tante en haar se meisiekind kom bly mos so vyf maande gelede by ons. Hulle ly aan bomskok oor die koskas wat speserye, ekstra noodsaaklikhede en planmaak goete hou. Hulle doop my spenskas summier die Master Chef koskas. Jy kan vinnig iets aanmekaarslaan. Daar is blikkieskos, olies, asyne, suiker, mieliemeel, en kits sop en-souse en koekbak goete. Daar is altyd broodmeel en pakkies kitsgis. Noodsaaklik as jy boerbrood, focaccia, ciabatta, vetkoek, melkbrood of beskuit wil bak.

Ek wou my wip, ek kan nogal dun nerwerig wees, want ek leef al so lank op my eie. Maar gelukkig onthou ek my mense se sin vir humor en ook hulle skuins manier om te sê mens is oulik…altyd met ‘n terg.

Daar is ‘n paar betroubare maters waarsonder ek nie in ‘n kombuis kan funksioneer nie. Daar moet uie wees, en in die yskas: vars tamaties en pakkies tamatie puree, en seldery en vars wortels. Luuks is sampioene en rooi en geel en groen peppers. Daar moet eiers in die yskas wees en ten minste vier botteltjies karringmelk. O ja, en regte egte botter. Ek vrek oor Mooirivier se ‘salted butter.’

Wat jy altyd in die Master Chef koskas sal kry is: Suikermielies, Boeliebef, Tamatie Pelsers (Pilchards), sardientjies in olie, ansjovis filette, Boerie Relish, en Baked Beans.

Oor kruie en speserye sal ek anderdag relaas, maar sonder my huiskombuis mengsel en die Arabiere se Ras El Hanout (Letterlik:”Head of the Shop,” maar in omgangstaal “top of the shelf”) en koljander en komyn en paprika en knoffel sal ek maar stotter en sukkel.

So om my kos reeks met die betroubare staatmakers in my koskas in te lei deel ek my Ras El Hanout geheimpie. Ek gebruik dit met benevleis, kookvleis, op hoender, met skaapvleis. Dis rokerige soet aardse lekkerte.

Waterval se bo-aan die rak spesery (Ras El Hanout)

(Hoeveelheid maak so 3 eetlepels)

Bestanddele:

1 teelepel gemaalde komyn (cumin)

1 teelepel fyn gemmer

1 teelepel sout

¾ teelepel vars gemaalde swartpeper (hier wil ek onthul dat ek swartpeperkorrels, witpeper korrels en gemengde peperkorrels in gelyke dele maal vir huis gebruik, lekker skerp mengsel, maar dis ons huis se voorkeur, swart peper is voldoende)

½ teelepel gemaalde kaneel

½ teelepel gemaalde koljander

½ teelepel gemaalde rooipeper (cayenne)

½ teelepel gemaalde pimento (allspice)

¼ teelepel gemaalde naeltjies

Meng deeglik saam en bêre in ‘n lugdigte houer. Dit hou vir ‘n maand. Ek gebruik ‘n eetlepel op ongeveer 1 kg vleis, so dit hou maar twee weke in my huis. Dis ‘n sensoriese fees om dit gereeld aan te vul -beneweld en lekker.

Waterval se “bokant van die rak” spesery mengsel (Ras El Hanout)

In deel twee vertel ek meer van wat karringmelk in my huis beteken.

Groetnis.