
Onse Vader wat in die hemel is, Pappa, Mamma, ons ewige Ouer wat hoog sit om naby te sien, wat respek afdwing, maar ons sag omhels en onbegryplik liefhet. Vader van Jesus – en deur U Seun se kom na ons, Sy leef met ons en Sy sterwe vir ons – nou ook ons Pa. Here, dankie dat U ons leer en lei en tot voorbeeld strek. Dankie dat U met sagte gesag ons naby U toelaat en ons veilig, versorg en geborge laat voel omdat ons aan U behoort. U wat daar hoog en van altyd af en oral gesê het: “Laat daar aarde, see , lig, donker, plante en diere wees,” maar naby aan ons kom staan het om ons na U beeld te skape en ons geasem het. Onse Vader, maker van alles en almal, laat my onthou U is ook die vyand, vreemdeling, anderste mense se Vader. Leer my om U in hulle te eien. O heilige magtige onse Vader, wat woon oral waar geen mense hande iets geskep het nie, U wat onbevatlik is*, dankie dat ek U Vader mag noem.
laat u Naam geheilig word, U wat sê “Ek is wat Ek is”, onvergelykbaar en daarom heilig. U hoedanighede word bekend deur U hoe-doenighede* met mense, die skepping, die natuur, ons geskiedenis. U bemoeienis met gewone mense se lot, U beskerming, U teenwoordigheid in elkeen van ons se nietige bestaan. Heilig is U naam.
Laat u koninkryk kom, U wat deur Abraham ‘n volk tot stand gebring het, wat Moses gelei het om vir ons spelreëls te gee. U wat Jesus gestuur het om ‘n nuwe bedeling te kom aankondig. Jesus wat ‘n onder-nuwe-bestuur bord om ons kom hang het en met nuwe waardes vir ons nouer by U koninkryk ingeskakel het. Laat U koninkryk kom lei ons in slegte tye, in donker, deur chaos en vrees. Laat U koninkryk kom word ons toekoms roep deur oorloë, peste, Sharpville, 9/11, Covid-19, Oekraïne se wrede verwoesting, hongersnood en natuurrampe, Sirië en Soedan se snood, die weg kalwing van ons land se infrastruktuur, alles wat goed is, in die aangesig van wreedheid, onreg en vrees. “Laat U koninkryk kom,” roep soveel armes, hongeres, vervreemdes en ontheemdes wat die pad hier op die ondermaanse moet loop.
Laat u wil geskied, soos in die hemel net so ook op die aarde is ons hoopvolle roep dat alles tog asseblief anders moet, kan en sal wees* Laat ons verstaan dat U wil van ons vereis om soos die engele van die hemel te maak. U wil vra dat ons van ons persoonlike ekheid afstand sal doen om in U diens te staan. Laat U wil geskied is ons smeking om wysheid om U koninkryk reeds hier en nou uit te leef
Gee ons vandag ons daaglikse brood, Hier vra ons groot asseblief Liewe God, om midde in ons mensheid en behoeftes te kom staan. Ons ou plannetjies is erg menslik en so feilbaar. Ons smeek Here vir sekerheid aan veiligheid, kos, leef middele. Ons bring ons materiële behoeftes na U, en glo dat U ons deur elke oomblik van elke nuwe dag sal naby wees. Here laat ons dan ook U hande en liefde wees wanneer ‘n ander se smeking ons ore bereik.
en vergeef ons ons skulde, soos ons ook ons skuldenaars vergewe. Here ons is soveel slegter as wat ons dink, niemand maar niemand staan vlekkeloos voor U nie. Leer ons om nederig te wees en ons foute te ken en verstaan. Here daar is soveel korrupsie, magsug, onderdrukking om ons, dat dit maklik is om mens te verbeel jy is beter as ander, maar tog loop ons met ‘n weersin, ‘n wrok, ‘n byltjie te kap teenoor vreemdes en naastes. Hou ons op ons knieë en haal tog die balk uit onse oë
En lei ons nie in versoeking nie, maar verlos ons van die Bose. Vader, ons is soveel swakker as wat ons voorgee en soos baie voor ons leer ons met seer egos en nerfaf knieë hoogmoed kom tot ‘n val. Kyk maar vir Josef met sy spoggerige kleed wat hom in soveel onmin by sy broers gebring het. Wat het Petrus gedink toe hy met oormoed aan U Seun lojaliteit gesweer het? Daai hanekraai beloftes wat ons so maklik bely. Niks werd. Ons hier op aarde dink al te dikwels heimlik meer van onsself as getrouheid en toewyding aan U Ryk. Tereg sug ons saam met Paulus: “Die goed wat ons wil, die kan ons nie uit onsself doen nie.” Net genade en U verstommende “Ek is lief vir jou,” lei ons op die regte pad.
Want aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid. Here as ons hierdie bely, staan ons naak en oop voor U, van ons mense ego gestroop. U ewig, buite ons tyd konsep en begrip, onveranderlik, oneindig alomteenwoordig, ons aller-oorvloedige bron van alles wat goed en reg is. Dis to U wat ons bid, dit is in U wat ons opgeneem sal word. “Dis in U lof ons eie self verdwyn.”
Amen, beslis, waarlik, laat dit so wees. Dankie Vader, ons Rots dat ons tot U ewige adres ver buite en bo ons ons bedes en lof kan rig en reken op U en u standhoudende vir ewig liefde en beloftes. Dankie dat ons op U kan reken.
***
Geloof, leer Piet Naudé my, is die suurstof, die asem van van my siel. Dit is die enigste manier, in gesprek of stomstil, dat ek my nood, behoeftes na God kan bring. Waar ek Hom kan loof. Waar my verhouding met Hom kan groei. Wat ‘n blye versekering om te besef dat God van my naderkom, my vertroue en lof hou. Dat Hy dit geniet.
Naskrif:
Woorde hierbo * gemerk: Piet Naudé se woorde en gedagtes inleidend tot “Die Groot Gebede Boek” (2014, Lux Verbi)
Ook geïnspireer deur Nadia Bolz Weber se “Extended Dance Remix” van die Onse Vader. Kyk en luister gerus die video waar sy met Jennifer Garner bid.
Dankie hiervoor!
LikeLiked by 1 person
Groot voorreg. Dankie dat jy so gereeld kom inloer. “Onse Vader” se lang weergawe was ‘n verrykende seëning om te oordink en skrywe.
LikeLiked by 1 person
Die Onse Vader – soos ek dit nog nooit gehoor het nie, maar so mooi.
LikeLiked by 1 person
Dankie! Mens vergeet menslik maklik dat die oorspronklike baie meer gelaai met betekenis is.
LikeLiked by 1 person
Lekkervurig, jy sal seker nie omgee as ek hierdie copy en paste vir ‘n groepie mense daar in die verre Noord-Kaap wat nie lekker toegang tot die internet het nie en dus nie die blogs kan lees nie?
LikeLiked by 1 person
Jy is baie welkom.💝
LikeLiked by 1 person
❤️
LikeLike
Besonderse uiteensetting Vuurtjie⚘😍
LikeLiked by 1 person
🙏💝
LikeLike
Besonders. Dankie
LikeLiked by 1 person