Photo by Polina Tankilevitch on Pexels.com

‘n Geliefde in ons kring is met kanker gediagnoseer. Mens is so hande afgekap omdat mens ver bly. Weet nie wat om te doen vir die mens, haar gesin en familie nie. “Ons bid, ons dink aan jou,” haal nie die paal nie. Magteloos.

In wese is hierdie nie net ‘n siekte met simptome wat behandel moet word nie. ‘n Mens se lewe word omgekeer. Jy dink skielik aan die verganklikheid van die lewe. Die pasiënt word onmiddellik in ‘n rouproses gedompel. Veral vroue (en mans) wat ‘n mastektomie moet ondergaan, of ‘n cholostomie-sakkie moet dra, se hele menswees word aangetas. Hulle seksualiteit, voorkoms word onherroeplik verander.

Dink hoe haarverlies, naarheid, moegheid saam met ‘n legio emosionele gevolge jou sou laat voel.

Al die jare by die Theunis Fichardt Hospitium en saam met die Reik Na Herstel vrywilligers moes ons alte te dikwels seer en stukkende vroue letterlik van die vloer optel omdat ‘n chirurg van ons stad baie ongevoelig en onnadenkend na ‘n mastektomie langs hulle beddens sou kom staan en as die vroue sou huil het hy koelbloedig en emosieloos afgehaak:”Wees bly jy lewe, dis net ‘n tietie.” Oe, ek kan julle nie vertel welke moord gedagtes by ons klomp opgekom het nie. Ons het maar ons eie veiligheid ter wille, ‘n prentjie van die man met veerpyltjies bestook. Dit het ons en ons pasiënte goed gedoen.

Pasiënte se emosies en gevoelens gaan deur al die stadiums van rou. Angs, vrees, woede, depressie, ontkenning, opstandigheid, gelatenheid, aanvaarding. Hier moet mens nooit voorskriftelik en met oppervlakkige raad en opmerkings probeer troos nie. Dit is belangrik om jou geliefde of vriendin te laat weet jy is daar. Jy is teenwoordig . Jy moet nie oorneem nie. Wees teenwoordig, wees empaties en liefdevol. Die vraag: Wat wil jy hê. Soms is net daar wees al genoeg.

Ek onthou hierdie woorde lank gelede deur ‘n pasiënt neergepen. Waardevolle raad vir enige persoon wie ‘n pasiënt wat met behandeling en die gevolge van ‘n kanker diagnose moet sien worstel.

Ek is siek….

– moet my nie vermy nie….wees my vriend, die geliefde wat jy nog altyd was

– raak aan my. ‘n Eenvoudige drukkie van my hand, sê jy gee nog om

– bel my en sê jy bring my gunsteling dis en sê hoe laat jy kom. Sit die kos in wegooibare houers, sodat ek nie my hoef te bekommer oor hoe om jou gunsteling bak terug te besorg nie

– versorg asseblief my kinders. Ek het alleentyd met my geliefde nodig. My kinders het ook ‘n “vakansie” weg van my siekte nodig

– huil saam met my. Lag wanneer ek lag. Moenie bang wees om my wipplank emosies met my te deel nie.

– neem my op ‘n plesierrit – maar neem ook my beperkinge in ag

– bel my vir my inkopie lysie en maak ‘n “spesiale” aflewering

– skakel my voor jy kom kuier – maar kom kuier. Ek het jou nodig. Ek is alleen

– help my om spesiale dae en ook my lewe te vier, deur my hospitaal kamer of huis te versier of deur klein geskenkies te bring – blomme of ander klein natuur skatte

– help my gesin. Ek is siek – maar hulle ly ook. Bied aan om my geselskap te hou, sodat my geliefdes ‘n breuk kan geniet. Nooi hulle uit, neem hulle saam na geleenthede.

-wees kreatief. Bring ‘n boek met spesiale gedagtes, opnames van musiek, ‘n plakkaat vir my muur, koekies om met my geliefdes te deel of beter nog ‘n vriend wie ek lanklaas gesien het.

-praat met my oor my siekte. Ek mag dit nodig hê. Vind uit deur te vra: “Voel jy daarna om daaroor te praat?”

– moenie dink ons moet altyd praat nie – ons kan in stilte saam verkeer

– neem my kinders musiek toe, na die atletiek of waar ook al. Ek mag ook soms vervoer benodig – dokter toe, haarsalon toe of winkel toe

– help my om op my voorkoms te let. Sê vir my ek lyk goed, my siekte ten spyt

– sluit my in wanneer besluite geneem word. Ek is van soveel gestroop – moet my nie die geleentheid ontneem om besluite binne my gesinsverband en ook in my lewe te neem nie

– praat met my oor die toekoms. Môre, volgende week, volgende jaar. Hoop beteken vir my soveel

– bring ‘n positiewe houding met jou saam. Dit is aansteeklik

– wat is nuus? Tydskrifte, foto’s, koerante, mondelinge vertellinge help my om nie te voel die wêreld snel my verby nie

– help my met my huishouding – afstof, wasgoed, skottelgoed, maak my plante nat

– stuur ‘n kaartjie wat sê: ‘Ek gee om

– bid vir my en deel jou geloof met my

– sê wat jy graag vir my wil doen en as ek instem – DOEN DIT!!

– Vertel my van ondersteuning groepe in my omgewing sodat ek my ervaring met ander soos ek kan deel.

Skrywe omgee en empatie op die vensters van jou hart. Wees daar vir mense wat die swaarkry pad met kanker moet loop. Al deel jy net inligting. Elke bietjie maak ‘n verskil.

Nuttige bronne vir kankerpasiënte:

https://www.cancer.org/treatment/survivorship-during-and-after-treatment/coping.html

https://www.facebook.com/LookGoodFeelBetterSouthAfrica/