In my leefwêreld is daar opeens klomp mense wat in die greep van kanker is. Dat ons die afgelope paar jaar soveel oorleef en beleef het en nou die skoknuus: kanker. Onbekende weë wat betree word.

Mense wie se lywe aangeval word deur aggressiewe verwarde selle. Hul aardse tente se tentpenne word aan geruk en pluk. Vir sommige ‘n lang pad na herstel en oorlewing, vir ander die nie-omdraai pad.

Hoe kan mens troos, bemoedig? Hoe help jy die bangmaak nuus van beperkte lewensverwagting minder fel maak?

Die kosbare jare by die Theunis Fichardt Hospitium, aan die werk saam met aardse engele, het ons daagliks kankerlyers in verskillende stadia van die gevreesde siekte gehelp om vas te hou aan die wete dat hulle lewens, hoe ingeperk ook al, tel. Dat hulle reg op sorg en liefde en waardigheid ons hooffokus is. Ons moes uiteraard ook families wat saam met die persoon die onbekende pad moes loop, ook begelei.

Daar was dae dat die trappe na die vir ewig nie ‘n Jakobsleer was nie, maar eerder ‘n roltrap. Ons het dikwels meer as een keer per dag by ‘n sterfbed gestaan. Dit het baie moed en selfsorg gekos om aanhoudend die ervaring te hê. Maar ek wil nie oor ons span se ervarings praat nie. Ek deel graag wat ons saam met die mense geleer het.

Cicely Saunders se palliatiewe sorg beleid was ons mantra: “You matter because you are you, and you matter to the last moment of your life. We will do all that we can not only to help you die peacefully, but also to live until you die.”

Sy het ook die volgende wysheid nagelaat wat ons altyd voorop gehou het: ‘Suffering is only intolerable when nobody cares.‘

Die heel grootste les: ‘n mens leef totdat jy sterf. Dat mense wat hulle tyd afwag nog steeds dink en voel en ervaar. Dat daar tyd is om reg te maak waar daar kreukels en krake in verhoudings is. Dat hierdie tyd in ‘n mens se lewe nie onderhandelbaar is nie. Daar is een uiteinde.

Op hierdie pad het eerlik wees gegeld. Mens kon nie vals hoop skep nie. Tyd is te kosbaar in die laaste dae. Misleiding is nie meer kreatief as die waarheid nie. Ons vaar die beste in die lewe as ons dit met helderheid beskou, dit geld ook wanneer ons voor die dood te staan kom. Nog ‘n Cicely Saunders wysheid van onskatbare waarde.

Ek het verskeie mense wat goeie en ander wat minder goeie lewens gelei het se wêrelde sien inkrimp. Eers moedig die vreeslike behandeling hanteer, aanhou wees wie hulle is. Dan kom die slag dat behandeling nie werk nie; dat daar nie omdraai is nie. Die besef dat hulle omtes al hoe meer ingeperk word. Eers weg uit jou daaglikse voetspoor maak in die wye wêreld. Dan ingeperk by die huis, maar jy kan darem rondloop en in die tuin sit. Dan kom ‘n terugslag en die leefwêreld net so groot soos die bed waarop hulle lê.

Om dan so ‘n mens wat afskeid neem aan alles bekend, te kry om uur vir uur, dag tot dag te bly leef, was ‘n groot uitdaging. Ook om geliefdes te leer om die tyd as ‘n lewensfase te hanteer, was ‘n steil berg om te klim.

Vir diegene wie met die nie-omdraai van terminale siekte konfronteer word, hetsy dit jyself is, of jy ‘n familielid van ‘n sterwende persoon is, sal hierdie handves van regte ‘n waardevolle hulpmiddel op die moeilike reis wees.

Die sterwende persoon se handves van regte*

Ek het die reg om as ‘n lewende mens behandel te word totdat ek sterf.

Ek het die reg om ‘n sin van hoopvolheid te handhaaf, hoe ook al die fokus mag verander

Ek het die reg om versorg te word deur diegene wat ‘n sin vir hoopvolheid kan handhaaf, hoe veranderlik dit ook al mag wees.

Ek het die reg om op my eie manier uitdrukking aan my gevoelens en emosies te gee ten opsigte van my naderende afsterwe.

Ek het die reg om deel te neem aan besluite oor my versorging.

Ek het die reg om deurlopende mediese- en verpleegsorg te verwag, al verander genesing doelwitte na gerief doelwitte.

Ek het die reg om nie alleen te sterf nie

Ek het die reg dat al my vrae eerlik beantwoord word.

Ek het die reg om nie mislei te word nie.

Ek het die reg om hulp van en vir my familie om my afsterwe te aanvaar te vereis.

Ek het die reg om in vrede en waardigheid te sterf

Ek het die reg om my individualiteit te behou en nie veroordeel word oor besluite wat teen ander se oortuigings mag indruis nie.

Ek het die reg om my geloof- en/of geestelike ervarings te bespreek en uit te brei, wat dit ook al vir ander mag beteken.

Ek het die reg om te verwag dat die heiligheid van die menslike liggaam nadoods respekteer sal word.

Ek het die reg om versorg te word deur besorgde, sensitiewe en kundige mense wat sal poog om my behoeftes te verstaan, en my met empatie te help om my dood in die oë te staar.

*By ‘n werkwinkel “The Terminally Ill Patient and the Helping Person,” in Lansing
Michigan saamgetel en gelei deur Amelia Barbus (1975), medeprofessor in Verpleging, Wayne State University. Losweg vertaal deur die uwe.

Vir die geliefdes en die sterwende persoon is daar ‘n nuwe bang. ‘n Rouproses van afwagting kom saam met die skoknuus dat daar nie omdraai is nie. Die pad se einde kom nader. Dit kan dae, weke, maande wees. Niemand op die aarde kan met sekerheid ‘n dag en datum van finale afskeid gee nie.

Daar word gans en al te min oor die vooraf rouproses gepraat. Dit kan mense in voortydige afskeid en seer dompel. Dit kan egter ook die verrykendste en verreikendste ervaring vir almal betrokke wees. Die hoof rou-beklaer is die terminale pasiënt. Hy of sy is die een wat alles verloor, sy geliefdes daarenteen verloor iemand wat ‘n invloed op hulle lewens het en ‘n spesifieke rol vir hulle vervul.

Wonderbaarlik was dit vir ons by die hospitium om pasiënte en hul families hierdie kosbare ‘tweede kans” uitkoop tyd te sien aangryp. ‘n Boer het tot sy sterwensdag elke oggend sy plaas se bestellings self geteken, sy plaasvoorman en hy het enduit saam geboer uit sy hospitaal kamer.

‘n Ouma het ‘n pragtige pienk trui gebrei en aanmekaar gewerk, deur pyn en ongemak. Sy het die dag na sy die projek voltooi het, stil huis toe gegaan.

Daar is om baie sterfbeddens kosbare onthou uitgepak, saam gelag, gehuil en liefde het geseëvier. Daar is vergifnis gevra en ontvang.

Die lesse en persoonlike groei ‘n ware seën. Die ‘tweede kans’ geskenk is iets wat ek baie mense beny. ‘n Hartaanval en selfmoord het my en my sus aan ouers ontneem. Na soveel jare sou ek wat wou gee om daardie laaste gesprekke en saamwees gegun te word.

In September 1996 het ek uit die werk van Leo Buscaglia die volgende neergepen:

Liefde is onderliggend aan alles wat ons doen, wat ons wil doen en behoort te doen – vir onsself en ander.

Albert Schweizer het gesê: ”We are all so much together, but we are all dying of lonliness.”

As ons nie vir onsself lief is nie, kan ons nie vir onsself omgee nie, en as ons dit nie kan doen nie, hoe op aarde kan ons vir ander omgee? Om met siekes, sterwendes, hulle familie en ook diegene in rou te werk, beteken om vir hulle om te gee.

Die liefdevolle mens het die volgende eienskappe:

1. Ons moet die uniekheid van elke individu in ag neem, beginnende by onsself. Kom ons help ander om aan hulle uniekheid uiting te gee. Met siekes is dit nie sorg aan nie, maar eerder sorg met. Hulle het net soveel om te bied en met ons te deel.

2. Ons moet leer om nie aannames te maak nie. Etikettering laat die mens verlore gaan. Vrese is op aannames gegrond. Vrees is die onbekende. Die Engelse woord “FEAR” staan eintlik vir False Evidence Appearing Real! Vrees ontneem ‘n mens aan spontaniteit en warmte. Hoe kan jy daarsonder omgee? Aannames se enigste nut is om as ‘n riglyn te dien om ons toe te rus om prakties situasies wat hulle verteenwoordig, te kan hanteer.

3. Die liefdevolle mens neem verantwoordelikheid, en die grootste verantwoordelikheid is om mens te wees, in verhouding tot God, Sy Heelal en alles daarin. Die verantwoordelike persoon haat vermorsing – van potensiaal, tyd. Hoeveel keer beweeg ons weg van mense eerder as na hulle? Wanneer jy iemand ‘n drukkie gee – besef hulle hulle leef. Wees jouself – dit is jou verantwoordelikheid – nie om te wees wat ander van jou verwag nie!

4. Die liefdevolle persoon sien die vreugde en wonder van die lewe raak en help ander om dit te sien. Die sterwendes leef nog en ervaar groei en verandering. Indien jy ongelukkigheid en alleenheid ervaar – verander jou uitkyk, nie die omstandighede nie.

5. Die liefdevolle persoon sien behoeftes raak – sy eie en die van ander.

6. Om lief te hê word aangeleer. Onthou dit in alles wat jy doen. Ons weet net wat ons beleef of ervaar. As jy meer wil weet van water – voel dit, drink dit, bevries dit, speel daarmee, maak dit warm – RAAK BETROKKE daarmee. Net só met liefde, met ons verhoudings met ander.

7. Om lief te hê, beteken ook om beperkinge te verstaan. Om ‘n balans te handhaaf tussen omgee en respek vir afstand.

Daar is duisend maniere van liefhê – en elkeen vind sy eie mits hy na homself luister. Liefhê is ‘n uitnodiging en ook ‘n tuiskoms

Mag jy wat die nie-omdraai moet loop, of saam met ‘n geliefde moet loop, die kosbare tyd met vrede, moed en liefde aanpak. Uur vir uur, dag vir dag tot op die laaste oomblik.