Genugtig. My Oscar brakkie, tandloos en in hondejare Metusaleg oud is verwoed verward en sommer net vol klutskwyterriggeite. Hy pik verward rond en kerm en kla or alles, vergeet dat honde buite moet piepie, weet nie wanneer hy laas geëet het nie, loop en bedel en dan as hy tot rus kom lê hy sommer ongeskik oopketel en slaap in geselskap.

Hy laat my dink aan die stand van die omtes om my en ook ons land en die wêreld in die algemeen. Skoon klutskwyterig.

Terwyl ons oral nog worstel met Covid-19 se nagevolge en verwoesting op ons lewens, sekerheid en asems, is dit al meer as 100 dae wat die mense van Oekraïne se lewens ontwrig is ontwortel is deur ‘n malmok wat onder die vlerke van ‘n kerkman reken hy mag maar ‘n militere oefening op mense ontketen. Rararaspoetin lover of the russian queen…so herhaal geskiedenis. Klutskwytererige egoisme.

Nogal naïef het ek gereken dat die globale pandemie-skrik die ondermaanse ‘n sagter, meer empatiese plek sal maak. Aweh, hoe kon ek so mistas. Oorloë, selfsug, materialisme, mangelliefde het net ‘n sesde rat bygekry. Helaas.

Terwyl gewone mense hul lewens aan skerwe sien spat daar ver in Oekraïne, en hier by die huis, kom ‘n banale Hollywood huismoles om die aandag af te lei. Jack Sparrow en Amber Turd. Bewerings van misbruik, slanery, en poef in die bed. Jô. Ja nee. Nè. Vanmore lees ek die volgende ‘men too’ is Brad vs. Angelina. Siestog.

Dit terwyl mense in Soedan vergaan aan hongerte. Myle agter gerugte van reën met hulle bokke loop, om te hoor die reën het nie gekom nie. Daar is nie weiding nie. Hulle manier van lewe is nie meer volhoubaar nie.

In die ‘land of the free and the brave’ hou hulle verhore na die kakste weergawe van ‘LesMisrables’ en daar is sprake dat Trompie wragtig weer gaan probeer om brekfis in die Withuis te eet. MFM. Dit terwyl hulle regte weekliks mense die reg gee om ander met aanvalsgewere uit te wis. Amerika het sielsondersoek nodig. Miskien ons almal. Klutskwyteriggeit is groter as enige pandemie.

Klutskwyteriggeite het baie te maak met ekkiggeite. Met ek-regte. Wragtig, die hemel ween.

Hier aan eie bodem sit ons ademloos en wag vir die Guptas om oranje pakke te kom dra. Maar of dit nie genoeg is nie, het iemand nou wragtig miljoene uit ‘n stoel in Ramaposiedoringrosie se wildsplaashuis gegaps….aweh.

So terwyl ek sit en skryf, fok my brein links. Skoon klutswyterig. Waarheid is vreemder as fiksie. Ons leef in magtelose en woedende skreeu ten hemele geite wat ons self veroorsaak.

Die engele kyk liewer annerpad oor ons mensies wat plek by hulle kan kry. Vergewe ons ons klutskwyteriggeite. Sela.