Gister was skoon linne en handdoeke ruil dag hier op Waterval. Ek het die pas gewaste handdoeke lekker in die sonskyn gaan uithang.

So al om die wasgoeddraad gesels ek met God.

‘Ag, dankie Here vir die sonskyn, vir die voorreg om self te kan handdoeke uithang. Dat ek tuis mag wees, dat ek gesond en sterk genoeg is om te kan rek en strek. Dankie vir die bloue lug, hierdie mooi omtes waar ons mag bly….Maar ai, moet ek altyd iets bykry om te doen,” gesels bid ek.

Die ou treurige aan skouer deur geskuurde wasgoedpennetjie sakkie het my so in die dankie sê, kom seeroog.

“Ag Here, ek kan nie eers mooi naaldwerk doen nie, sal maar weer ‘n winkel ene gaan koop, wat seker oor ‘n paar maande net so oes gaan lyk,” brom ek.

So dwarrel ek deur my dag en laatmiddag keer Pippa van die dorp terug met ‘n pakkie vir my van ons oudste tante.

Sowaar, die mooiste wasgoedpennetjie sakkie! Nogal van duursame denim gemaak en die vrolikste pienk blom. Die waskamer lyk sommer vrolik!

Ons Pa, Hy!

Hy luister en sorg en voorsien op groot en klein wyses.

Ons moet net met Hom praat, heeldag en altyd.

Dis wanneer #ToeValLig gebeur.