
More, more.
Woordwarrel 6/2022 se inspirasievonk is enige woord wat met ‘f’ begin.
Net nie fokkit, fokkietog of faktor nie. Mooi en lekker woorde soos fabelagtig, falsaris, fantas, femel en so aan.
Ek persoonlik lief faktotum. Figaro van die opera wat so lekker tierelier :”Figaro, figaro…” is ‘n faktotum. My liefling radio roomstem, Nic de Jager, vertel op sy Sondag program dat ‘n faktotum ‘n doen-alles is.
Doen-alles. Dis nou waarmee ek volkome identifiseer. In my huis is ek die doen-alles. Bestuur die huishouding, bestuur die park van ‘n tuin, doen ete bereiding, beplan aankope, wasgoed, honde versorging, naaldwerk, troos en bemoedig. Ruil tandepasta en toiletrolle, maak honde poef en piepie skoon. Sieketrooster, voorbidder, en plaaslike bron van inligting, houer van antwoorde op alle vrae. Verder kan ek bril regmaak, naaiwerk doen(met ‘n Elna nè!), skilderye hang, skoene heelmaak, sorg dat skoon handdoeke en vars linne my huismense gekoester laat voel. Ek kan ook peslike mynas verjaag, my potdeksels vol duike wys hoe gekwalifiseer ek is. O, en ek weet hoe om ‘n spoegkobra met ‘n sambok middeldeur te slaan. Ek ken ongelukkig nie die wen lotto nommers nie. En nee, daar is nie knoppe waar my engel vlerke besig isom uitgroei nie. Ek is meestal natgesweet en kramperig doen-alles besig. My mense en honde almal brokkiebederf. Sela. “Figaro, Figaro…”
My ander gunsteling f-woord is almal ter wille verbode. Al wat ek te sê het, is dat my gunsteling byvoeglike naamwoord waarheid beskrywe. In my doen-alles kapasiteit is dit soms noodsaaklik, oorlewing ter wille. Daar word gereken dat mense wat gemaklik f-bomme gooi, nogal eerlik en outentiek is. So wê al julle femelaars.
As kind het ek in Swaziland, ag ekskuus eSwatini, Seswati billik leer praat. Ons elke twee jaar verhuisery die hele Laeveld en later Oos-Kaap vol, het egter my taalbedrewenheid vervlak na fanagalo. Ek vind egter dat my gebruik van die gebroke mynmenegetaal my meermale help en meer glimlagte as uitskel bring. Soort van respek en ek-sien-jou oomblikke.
Arrie warrie, lekker warrel en moet ou nie obskure f-woorde gaan opsoek nie. Wees fantasmagories, fabelagtig, fiktief, en onthou tog om more te gaan loer hoe mooi Venus flonker as die son wakker word.
Kies nou jou f-woorde en warrel ernstig of tong in die kies, ware feite of uit jou duim gesuig, dit maak nie saak nie, neem gerus deel. Almal wat graag Afrikaans skryf is welkom om deel te neem aan hierdie uitdaging. Doen ‘n “pingback” na hierdie blog of plaas die skakel vir jou bydrae in die kommentaarblokkie (“comments section”).
Sien die reëls vir deelname hier onder.
Hierdie skrywe vorm deel van die bloguitdaging wat gesamentlik aangebied word deur Dis Ekke en die uwe, Lekkervurigeaffêre.
Hoe dit werk:
Die aanbieders sal om die beurt elke tweede Donderdag voor twaalfuur ’n inspirasievonk in die vorm van ʼn spreuk, spreekwoord, gesegde, vreemde woord, of nuutskepping op haar blog plaas om die uitdaging af te skop.
Deelnemers word genooi om die vonk te gebruik en net eenvoudig te laat waai – gaan net daar waar die woordmuse en jou gedagtestrome jou lei in ’n malse maalkolk, in stroomversnellings, in stil waters of in ruisende valle, vlak of diep.
Daar is geen beperkinge op die tipe skryfsel wat jy wil pleeg nie. Skryf min woorde of baie, ’n haikoe of enkelreël, opstel, gedig, resep of wat ook al die inspirasievonk losgeskop het in jou skrywersbrein.
Oopbek en loshande is die enigste reël.
- Doen ‘n “pingback” of plaas die skakel van jou bydrae in die kommentaarblokkie (“comments section”) onderaan die blog waarin die inspirasievonk verskaf word om te verseker dat daar ’n terugskakeling na jou inskrywing sal wees wat deur ander lesers gevolg kan word.
- Jy mag dit makliker vind om die twee aanbieders se blogs te volg om te verseker dat jy nie die inspirasievonk vir die week misloop nie.
- Plaas gerus ’n kopie van ons Woordwarrel-logo bo-aan of binne-in jou blog, sodat ander skrywers weet dat jou bydrae deel vorm van hierdie uitdaging.
- Gebruik die hutsmerke #Woordwarrel #Afrikaans
Laat waai en geniet dit.
Jou beskrywing van jouself as faktotum kan maklik by my pas … ek kan ons Sondag middag ete nie sonder Nic de Jager kook nie … en fanagalo het my ver gebring – veral toe ons in Botswana velore geraak het 🙂
LikeLiked by 1 person
Ja, ek dink vroue is almal doen-allesse.Dis lekker om te weet ons huise klink Sondae eenders. Voorwaar, fanagalo het my ook baie meer kere gehelp as gehinder.😉 Dankie dat jy kom inloer Anne.
LikeLiked by 1 person
Jy gebruik die letter “f” so mooi hier … dit wil voorkom of jy regtig seekat arms daar in jou huis het 🐙 (en ek’s seker baie van daardie dinge wat jy noem, doen jy soms sommer so gelyktydig)! Ek dink die eerste “f” woord wat ek geleer het (sonder dat ek toe nog geweet het hoe spelling werk), was “fiemies” … my ouma het dit baie gebruik wanneer sy kos op die tafel gesit het 😉: “En julle eet hierdie kos op, ek wil nie hoor julle’s vol fiemies nie”.
LikeLiked by 1 person
Vertel wat ouma as fiemies beskou het. Ek het slae oor afval en varkpootjies gekry. Verder g’n niks verdere fiemies gehad nie. 😉
LikeLiked by 1 person
Blomkool 😉 … en vandag is ek so lief daarvoor! O aarde, ouma het geweet sy moes nie eens probeer het met afval nie (daar het ek beslis vasgeskop) – en dan het ouma my so effe jammer gekry en spesiaal vir my melkkos gemaak … dan was dit weer my ma wat gese het “Ag moeder, die kind is net vol fiemies” en dan het ouma altyd terug geantwoord: “Jy kan ‘n kind baie dinge dwing om te eet, maar nie afval nie” 😊.
LikeLiked by 1 person
😄🌻
LikeLiked by 1 person
Ek is bly jy het die kierietjie-letter gekies en nie die daai ander gevaarlike een wat ek so graag gebruik nie, maar ek sê liewer niks daaroor nie. Lieflike Figarodag vir jou.
LikeLiked by 1 person
Haha, baie goeie skryfsel. Ja, ons vrouens kort almal engelvlerkies of goeie dienende Martha medaljes.
LikeLiked by 1 person
Bly jy het gelag. 😄 Ons kan breëbors met al ons medaljes loop.
LikeLiked by 1 person
Ek kan hoor hoe drawer Figaro Figaro fiiiiiigaaaaaroooooo deur die eens museumhuis. Dit maak my hart bly
LikeLiked by 1 person
LikeLike