So klomp jare gelede raak ek moeg vir ‘n marmotwielbestaan, vir die slaafse najaag aan erkenning en lof van ander, die smag na meer en aanhang van etikette, in die mode sin en samelewing veral. Ryk, arm, dik, dun, slim, so-so, dom, vuil, skoon, skynheilig, mangelliefde, sneeuvlokkie korrektheid, die hele boksemdaais van ismes wat die mensdom uitdink.

My gesin sê les op, en ‘n paar van ver maats klou soms verbete as my buffelagtige aard oorkook. Mense het my oor baie jare so teleurgestel, weggegaan. Om te mens maak my seer, protesteer ek. Ek is liewer alleen. Ek het my werkklere weggepak, begin kaalvoet rondloop, my huis en omtes ingeasem. Net die yskas se sagte neurie en die swembad pomp se dreun as onderbrekings. .

Verder het ek my honde bende geniet, die plante in ons park grootte tuin leer ken. Natuurlik ook al die geveerdes wat in die bome en struike nesskop. Ek vind God weer. Daar in my tuin.

Vrede in my gemoed neem egter ’n lang ruk. Ek raak verslaaf aan eensaamheid. My huis bedags ’n onbesoekde museum van herinneringe, ek dwalend deur my dae. Ek gesels met God, ek ignoreer Hom ook soms en metter wyl wroeg seer en kwaad gereeld en aanhoudend uit my uit.

Helaas, dis nie ’n goeie ding om te lank op jou eie te wees nie. Kyk nou vir Tom Hanks in Castaway. Hy het vir homself moes geselskap skep, en sy bal, Wilson het sy vriend moes word. Siestog.

Tom Hanks en Wilson in Castaway (Bron: Metro)

Soos enige dwelm, oortuig my eensaamheid my dat wat ek dink, my nuwe realiteit is. Die duiwelse gedagtes dat almal jou as minderwaardig beskou, dat mense nie van jou hou nie, dat jy altyd die vark in die storie is, die buffel in die porselein winkel. Voor jy jou kom kry is jy bitter, kwaad en wroetvarkie in seer gedompel. Jy besef nie hoe diegene naaste aan jou ook maar sukkel om te oorleef nie.

Omdat jy niks waarlik met iemand deel nie, raak jou konneksie met mense so oppervlakkig soos skermspeletjies se verbeelde werklikhede. Die ou WhatsApp groepies, en vriende en familie word met versies en mangelliefde boodskappies getroos. Outomaties, robotagtig. Candy Crush en Gardenscapes se nuwe vlakke en nou onlangs Wortel, Watse, Wordle en Quordle se daaglikse enkelwoord oplossing word jou manier van stil spog.

Tot my ontsteltenis lees ek iewers raak dat die woordvaardigheid nie noodwendig iets vertel van jou intelligensie nie. Om goed te wees in spel oplossing maak jou nie slimmer as die volgende Wortelaar nie. Aaron Seitz, ’n professor in sielkunde, reken mens is gewoon iemand wat goed vaar met Wortel vergeleke met iemand wat nie so suksesvol is nie. Dieselfde geld vir mense wat Scrabble besig. Sulke mense herken bloot woorde vinnig. Dié vermoë dra ook nie noodwendig oor na nie-Scrabble verbandhoudende take nie. Dit is volgens die kundiges ook onwaarskynlik dat om goed te wees in Wortel of Wordle, enigsins jou brein oefen en help om agteruitgang in breinkrag en denke te voorkom. Dit sal ook nie waarborg dat jy in enigiets anders sal goed wees nie.

Diegene van ons wat so baie blokraai, vertel geleerdes het ’n hoë kognisie behoefte. Dit op sig self is ook nie ’n aanduiding van intelligensie nie. Dis nie iets wat jy noodwendig doen omdat jy slim is nie, maar eerder omdat dit iets is wat jy van nature geniet. Wortel en Wordle is egter anders as blokraai, omdat jy nie die betekenis van ’n woord hoef te verstaan of ’n uitgebreide woordeskat hoef te hê nie.

Hierdie nuwe 5-letter woord afleiding moet spontaan gespeel word. Om strategieë te gebruik om die raaisel op te los, beroof jou brein van aandag en geheue prosesse. Moenie kroek met lyste woorde en gebruik van baie klinkers nie. Daag jouself uit, en spog dan stil.

Wat Wortel en Wordle en meeste skermspeletjies wel doen is om jou te verslaaf en so word jy van tyd beroof. Ek weet nie hoe jy voel oor die lengte van jou strepie wat oor is nie, maar tyd is vir my ’n kosbare kommoditeit.

Hoe verder my vereensaming verslawing verdiep het, hoe meer het ek begin besef dat die leë vervlietende ure aan ’n skerm vasgenael, nie die nalatenskap is wat vir my lewe beplan is nie. My seer, gekraakte hart het ’n verstommende kapasiteit vir empatie en omgee wat my bang maak. Ten spyte van seer, teleurstelling en verstoting. So val ek op my knieë en pleit by my Vader se voete om my te help en om my te wys hoe ek myself uit die alleen kan wurm.

’n Geliefde familielid se leefwêreld spat met verraad in sy slegste vorm uitmekaar. Die mooi, sterk vrou word ’n brose weergawe van haar self. Vrou-alleen op ’n plot, wil en kan sy nie meer nie. “Waar sal ek heen,” gesels sy eendag. Ek antwoord dadelik: “Kom na my toe.” My smekinge word beantwoord.

Die rustigheid waarmee ons huishouding se museum-status en ook Rots, Bab en my se saam alleenwees-verslawing verbreek is, is net aan ToeValLig toe te skrywe.

Ons gesin groei aan tot vyf. Arme Rots die enigste haan. Dit kwetter en lag, ons kyk saam sport en heruitsendings van Law and Order SVU, ons word soggens saam stil voor God in dankbaarheid vir ons nuwe dag, ons dag se brood en genade.

Uit my vereensaming kom die grootste geskenk ooit. Die wete dat ek eintlik oukei is, met my seer stukkende hart; dat ek lekker kos kan maak en nogal goeie geselskap is. Ek is dankbaar om te berig dat ek weer hard, en snorkend, weet hoe dit voel om te lag. Om te kan onthou wie se skouers my vas laat staan in hierdie wêreld.

 Die vreugde om midde in ’n werk week genooi te word stoep toe, want die twee jonger vroue in my huis, Bab en Pippa, het vir ons lawwe speelklei geskenke gemaak en ons bederf met eierbrood, spek en Maple stroop. Sommer net oor ons mag en kan. Op die stoep met ons inwonende familie streepswaeltjies swiepend oor ons koppe.

Om skoon linne vir al die beddens in die huis oor te trek, groot bakke sop te kook, en iemand kan witoog, weg van skerms, in die regte wêreld, is loutere vreugde en die beste medikasie vir die genesing van my verslawing.

Wat maak ek as nuut ont-slaafde aan speletjies en oppervlakkigheid? Ek kies om elke dag iets nuut te leer of beleef. So het ek die afgelope week Aloo Naan (aartappel gevulde Naan) geknie en gebak. So lekker is die deeg dat ek vanmore sommer ʼn eie skepping maak:  Aloo driekaas-balletjies.( Rolletjies Naan deeg gevul met Parmesaan, Mozzerella en Cheddar en gebraaide ui en knoffel.) Julle moet ruik hoe lekker geure hier in die Watervalhuis warrel.

Ek skrywe weer, ek lees weer drie boeke tesame. Spandeer nou net my eerste koppie koffietyd aan Wordle en Wortel. Lag en leef in uiterse dankbaarheid dat ek lewe-verslaaf is. Ek is effe kieskeurig met wie ek my omkring. My naastes, my eie, my maats wat gebly het al was ek nie lekker om te ken nie, en die vreemdeling wat voor my kom staan – dis vir wie ek leef en dien. My Pa sê dis al wat Hy vra.

Vir die van julle wat my eensaamheid verslawing moes deurleef en oorleef: Dankie dat julle saam met my geloop het en nie weggehol het nie.


Hierdie skrywe vorm deel van die bloguitdaging wat gesamentlik aangebied word deur Dis Ekke en, die uwe, Lekkervurigeaffêre.

Jou inspirasievonk vir hierdie Woordwarrel is verslawing.

Hoe dit werk:

Die aanbieders sal om die beurt elke tweede Donderdag voor twaalfuur ’n inspirasievonk in die vorm van ʼn spreuk, spreekwoord, gesegde, vreemde woord, of nuutskepping op haar blog plaas om die uitdaging af te skop.

Deelnemers word genooi om die vonk te gebruik en net eenvoudig te laat waai – gaan net daar waar die woordmuse en jou gedagtestrome jou lei in ’n malse maalkolk, in stroomversnellings, in stil waters of in ruisende valle, vlak of diep.

Daar is geen beperkinge op die tipe skryfsel wat jy wil pleeg nie. Skryf min woorde of baie, ’n haikoe of enkelreël, opstel, gedig, resep of wat ook al die inspirasievonk losgeskop het in jou skrywersbrein.

Oopbek en loshande is die enigste reël.

  • Doen ‘n “pingback” of plaas die skakel van jou bydrae in die kommentaarblokkie (“comments section”) onderaan die blog waarin die inspirasievonk verskaf word om te verseker dat daar ’n terugskakeling na jou inskrywing sal wees wat deur ander lesers gevolg kan word.
  • Jy mag dit makliker vind om die twee aanbieders se blogs te volg om te verseker dat jy nie die inspirasievonk vir die week misloop nie.
  • Plaas gerus ’n kopie van ons Woordwarrel-logo bo-aan of binne-in jou blog, sodat ander skrywers weet dat jou bydrae deel vorm van hierdie uitdaging.
  • Gebruik die hutsmerke #Woordwarrel #Afrikaans

Laat waai en geniet dit.