Hierdie is my bydrae tot Hester se #Woordwarrel 3/2022 uitdaging.

Ekkenoster Renoster , Byelyfie Luiperd, Sonderbondelsmaanhare Leeu, Dwarsvurige Buffel en Langtand Lantjie Olifant bly vredig in die Wille Dieretuin van Oom Paul. Op die oog af en van buite gesien moet gevaarlike vrede en ‘n gespanne kalmte deur die vyf gehandhaaf word. Sommiges kan immers vir aandete deur ander beskou word. Hulle unieke vriendskap kom egter van toweragtige gebeure.

Hulle watergat se naam is PowWow. Hulle sorteer hier geselsend kwessies uit. Aanvanklik het die vyf Ingels gebesig. Sedert hulle ontdekking van veerkragtige Afrikaans, beywer hulle hul om met die mooie taal te speel. Ekkenoster vertel van oksimoron. Langtand Lantjie en Sonderbondelsmaanhare gee ‘n gesamentlike sug.

“Aggenee Ekkenoster. Wat is dit nou oor ‘n geroeste dommerd,” sug Langtand Lantjie. Dwarsvurig en Byelyfie skater van die lag.

“Nee, man julle twee, ‘n oksimoron is ‘n stylfiguur wat twee teenstellende begrippe in een uitdrukking verbind, soos ‘n jeugdige grysaard, geleerde ongeletterdes, mannetjiesvrou, hennetjie met spore, lewende dood en so voorts. ‘n Oksimoron is opsigself ‘n oksimoron Dis saamgestel uit die Griekse woorde “oxys” ( “skerp”) en “moros” ( “stomp”),” verduidelik Ekkenoster.

“Bwahaha,” brullag Sonderbondelsmaanhare. “So ons kan sê brandend ongevoelig of duidelik dof” is van daai oksidinges.”

“Net so,” sê Ekkenoster.

Die vyf maters trek skielik los met ‘n oksimoron #woordwarrel, of eerder ‘n woordevloed. “Plastiek glas.”

“Virtuele werklikheid.”

“Klein skare.”

“Dieselfde verskil.”

“Oop geheim.”

“Lewende dooie.”

“Dawerende stilte.”

“Enigste keuse.

Soet bitterheid”

Oorspronklike kopie”

‘n Donderende stilte volg toe Sonderbondelsmaanhare,wat bekend is vir aller mooi skilder en sommer haar swiepende stert se punt vir ‘n kwas gebruik, verduidelik dat chiaroscuro deur Renaissance skilders gebruik is en verwys na die oorgang van lig na skadu oor ‘n voorwerp, byvoorbeeld ‘n gespierde arm om die persepsie van diepte te skep.

“Leonardo Da Vinci  se The Adoration of the Magi (ca. 1481-82) is ‘n goeie voorbeeld van chiaroscuro. In Italiaans beteken chiaro, “helder of lig” en oscuro  “obskuur of donker. Toe ken ek lankal ‘n oksimoron,” vertel Sonderbondelsmaanhare.

Die dierematers se monde hang oop.

‘n Bewerige sing stemmetjie uit die akasiaboom se takke breek die dawerende stilte.

“Sal dapper lafaard of briljante idioot ook tel?”

Byelyfie spring rats in die boom op. Op ‘n takkie teen die boomstam sit ‘n voëltjie, vlerk oor die kop in afwagting om afgemaai te word. Die benoude gevlerkte kwetter ‘tiktiktitik.’

Dwarsvurig gril en skud haar kop heen en weer. Klink net soos ‘n vingernael wat vinnig oor ‘n staalkam se tande getrek word.

“Wie is jy, wat maak jy hier,” grom Perdebylyfie sag dreigend

“Ek vlug van ‘n gevaarlik bevallige arend en klomp ander gevlerktes wat baie kwaad is vir my,” antwoord die beangste neddikkie (Cisticola fulvicapilla).


Die Neddikkie
Foto: Buckham Birding

“‘n Watse arend”, vra Dwarsvurig herkouend.

“Kom sit hier by ons en vertel jou storie,” nooi Ekkernoster.

“Tseep. As julle nie omgee nie, sal ek maar in die skuilte van die boom bly. Julle wil nie weet hoe groot my probleem is nie,” sê die voëltjie.

“Praat net duidelik en luid,” trompetter Langtand Lantjie.

Die vyf grotes staan onder die akasia, ore gespits.

“Ek is Ncede. My moeilikheid het begin net na die Skepper al die diere van die see, land en lug gemaak het en besig was met sy afronding werk aan die mens.

Nkwasi, die groot visarend het ‘n vergadering van al ons gevlerktes byeengeroep. Die flamink, wewer, olyfboomsanger, die uil en al die ander, ek het ook opgedaag.

Arend het ons gekwetter met een roep stilgemaak. “Ek het julle byeengeroep om ‘n dringende saak te bespreek. Almal weet die groot maanhaarleeu, Bhubesi is die koning van die diere

Sonderbondelsmaanhare gee ‘n ontevrede brul in protes. Ekkenoster kalmeer die briesende leeu. Dis net ‘n storie, jy is die koningin hier.” Die leeu se stert bly kwispel.

“Askies,” sê Ncede en gaan voort:

“Nkwasi reken toe mos dat Bhubesi nie baas kan speel oor die diere van die lug nie. ‘n Eie leier vir die voëls moet gekies word. ‘n Luide gekwetter breek uit en Nkwazi moet weer hard roep om orde te herstel.”

“Ek is die mees majestueuse en koninklike voël van ons almal. Ek stel voor julle stel my aan as koning van die voëls,” verklaar Nkwazi breë bors.

Die gekwetter crescendo en ‘n luide stem is bo die lawaai hoorbaar.

“Nkwazi, jy is waarlik koninklik, maar ek reken ek moet koning wees, aangesien ek die grootste oë van al die voëls het. Ek sien alles wat gebeur en is baie wys. Ons het wysheid meer nodig as statigheid,” sê die Reuse-Ooruil, Khova, en rek sy oë groot.

‘n Gebrom breek weer los en ‘n derde stem praat luid.

“ Khova is baie wys en niemand kan Nkwazi se statigheid betwis nie. Ek wil voorstel dat ek as koning van die voëls gekroon word,” sê Ngqithi, die gompou.

“Ek is die grootste van almal. Krag is sekerlik nodig in ‘n goeie leier,” en hy stap na die middel van die kring wat om die visarend en reuse-ooruil gevorm het.

‘n Babelse gekwetter breek uit. Sommiges steun Ngqithi, ander vir Nkwazi en nog ‘n groep vir Khova. Dis toe ek aanhoudend roep. Tiktiktitik, tiktiktitik.

Ek het uiteindelik hulle stil gekry en hulle het stil na my, ‘n kleine neddikkie, gestaar. Ek sê toe dat ek ook oorweeg moet word om koning van die voëls te wees. Hulle het my uitgelag en uitgejou. Wie dink ek nou is ek! Gekwetter dat ek grap. My arrogant en windgat genoem.

Nkwazi vra my toe om ‘n rede te verskaf waarom ek koning van die voëls moet word. Ek het hom vertel daar is geen rede nie, behalwe dat ek ‘n geleentheid gebied moet word, dat dit almal se reg is.

Terwyl Visarend, Gompou en Reuse-ooruil my uitlag, het die vergadering my moedigheid bewonder.

Nkwazi stel toe ‘n kompetisie voor. Daar is ooreengekom dat die voëls almal die eerste dag na volmaan byeen sou kom op die oop veld, wanneer die son al hoog staan. Sodra die son die hoogste bergspits raak, sou die kompeterende voëls begin vlieg. Die een wat die hoogste kan vlieg en aan die Skepper se hand kon raak, sal as koning gekroon word. So het die dag aangebreek. Nkwazi, Ngqithi, Khova en ek, Ncebe was daar. So ook elke ander gevlerkte. Ek was daar met ‘n plan.

Toe die son die hoogste bergtop raak, maak die al voëls reg om opwaarts te vlieg. Kleine ek het onder Nkwazi se uitgestrekte vlerk ingeklim en aan sy groot vere vasgeklou. Op my eie sou ek nooit aan die Skepper se hand kon vat nie. Nkwazi was so gefokus op sy ooglopende oorwinning dat hy niks agtergekom het nie.

Gou het kleiner voëls uit die opwaartse wedloop geval. Hulle vlerke nie opgewasse nie. Uil, gompou en arend was die enigstes nog in die lug. Uil het eerste bes gegee en met ‘n bittersoet ‘whoo-hoo” grondwaarts gekeer. ‘n ruk later het die gompou ook omgedraai, sy gewig sy ondergang.

“Wheeeee-whee-whee, het Nkwazi ‘n oorwinnings kreet geuiter.

“Nie so vinnig nie, Nkwazi, jy het nog nie gewen nie. Toe vlieg ek onder sy vlerk uit en raak aan die Skepper se uitgestrekte hand. Briljante idioot, dis wat ek was. Jy sal dink dat die ander voëls my sou bewonder. Maar nee. Hulle was woedend omdat ek Nkwazi geflous het. Hulle was reg om elke veer wat ek het te pluk. Ek het summier in die naaste slanggat ingevlug.

Gompou het woedend voor die gat op en af geloop en my gemaan om uit te kom. Ek het net dieper in die donker ingekruip. Dit het so aangegaan tot die son wer opgekom het. ‘n Klomp voëls, waaronder Nkwazi en die gompou, kla dat hulle moeg en honger is. Uil offer toe om die eerste wagbeurt waar te neem. ‘n rooster word opgestel en so bly uil voor die slanggat sit. Gewoond om tjoepstil te sit en wag op sy prooi. Na ‘n ruk besluit hy om een oog te laat rus. Kort voor lank is hy vas aan die slaap. Ek het laat spaander, bosse toe. Arme uil is oor die kole gehaal oor hy my laat wegkom het. Dis die dat Uil vandag nog bedags slaap en snags jag. So vermy hy ander voëls se nare opmerkings oor hy my laat wegkom het. Ek bly sedertdien immer fladderend in bosse, dan hier dan daar, vir kort rukkies om nie opgespoor te word nie.

(Bron: https://www.canteach.ca/resources/social-studies/society-and-culture/african-folk-tales/king-of-the-birds/)

Ekkenoster vra: “Wie is toe koning van die voëls gekroon?”

Ncebe antwoord laggend: “Tseep, tseep. Ek vermoed hulle soek nog so hard na my, hulle het nooit tot ‘n besluit gekom nie. Die briljante idioot. Kyk wat het my plan veroorsaak.Ek leef maar koes-koes.”

Briljante idioot, voorwaar ‘n goeie ene, brom Buffel en stap weg en warrel nog oksimorone.

Vol leegheid, sonore eensaamheid…..”

______________________________________________________

Hierdie bloguitdaging word gesamentlik aangebied deur https://hesterleynel.co.za en https://lekkervurigeaffere.blog/.

Voel jy lus om saam te speel? Jy’s altyd welkom.


Mens maak so:

Die aanbieders sal om die beurt elke tweede Donderdag voor twaalfuur ’n inspirasievonk in die vorm van ’n spreuk, spreekwoord, gesegde, vreemde woord, of nuutskepping op haar blog plaas om die uitdaging af te skop.

Deelnemers word genooi om die vonk te gebruik en net eenvoudig te laat waai – gaan net daar waar die woordmuse en jou gedagtestrome jou lei in ’n malse maalkolk, in stroomversnellings, in stil waters of in ruisende valle, vlak of diep.

Daar is geen beperkinge op die tipe skryfsel wat jy wil pleeg nie. Skryf min woorde of baie, ’n haikoe of enkelreël, opstel, gedig, resep of wat ook al die inspirasievonk losgeskop het in jou skrywersbrein.

Oopbek en loshande is die enigste reël.

Plaas die skakel van jou bydrae in die kommentaarblokkie (“comments section”) onderaan die blog waarin die inspirasievonk verskaf word om te verseker dat daar ’n terugskakeling (“pingback”) na jou inskrywing sal wees wat deur ander lesers gevolg kan word.

Jy mag dit makliker vind om die twee aanbieders se blogs te volg om te verseker dat jy nie die inspirasievonk vir die week misloop nie.

Plaas gerus ’n kopie van ons Woordwarrel-logo bo-aan of binne-in jou blog, sodat ander skrywers weet dat jou bydrae deel vorm van hierdie uitdaging.

Gebruik die hutsmerke #Woordwarrel #Afrikaans

Laat waai en geniet dit