©Erna Maré 2017

Begrafnisbrief

Bykans ‘n jaar gelede sterf ‘n tante van my man. Hy en sy ouer broer, alom bekend as die amptelike begrafnisgangers van ons versplinterde familie, reis gemasker en afstandig na Bloemfontein om deel van die vyftigtal uit te maak wat die geliefde tante se begrafnisdiens by woon.

Ons kry per WhatsApp ‘n skakel om ook deel te kan wees. So sit ek stokalleen op Waterval se stoep, en ek en die brakbende en die voëls in die tuin luister na die diens daar ver van die Rose stad. Ek sit met my notaboek en maak aantekeninge. Toe Pieter drie dae later huis toe kom, kry ek Tannie Ans se keurige begrafnis brief. Ek druk dit in my notaboek en vergeet daarvan.

Vandeesweek, met klomp woelinge in en om my, val die begrafnis brief uit die notaboek. Ek onthou die mooie diens en soek my notas op. Kry weer die warm klein bekeer wat ek tydens die inskakel na die gedenkdiens via YouTube, ervaar het. Ek het nodig om die boodskap en my gedagtes destyds neergepen, te deel.

Die predikant lees voor uit Psalm 71: 17-19

17O God, vandat ek jonk was,

het U vir my geleer

dat U wonderwerke doen,

en ek praat nou nog daaroor.

18Ja, ek is nou oud en my hare is grys,

U moenie nou vir my los nie.

Ek wil vir die nageslag vertel,

vir almal wat later gebore sal word,

dat U sterk is en dat U groot dinge gedoen het.

19O God, U doen reg aan almal

op die aarde en in die hemel.

O God, daar is niemand soos U nie,

U wat groot dinge gedoen het.

Die boodskap van Ds Fanie Spamer van NG Kerk Heuwelsig het my diep getref. Uit my krabbel notas is die volgende waarhede vasgepen.

Ons word almal ouer. Ons vriendekringe en families word kleiner. Vir sommiges skaal die lewe af. Kleiner woonplekke, stiller dae, beskeie begrotings en meer tyd alleen is baie ouerwordendes se nuwe realiteit.

Die vuurmaakhoutjies van lekker onthou word nou gereeld gebrand. Mens se jeug avonture en kleintyd se vryheid is voor op in die gedagte. Dit is ons sonsondergangtyd. Jare en tyd snel verby. Ons vlieg na ons einde.

Die predikant vra die vraag: Hoe moet ons die ouderdom takseer? Aan die negatiewe kant is daar liggaamlike aftakeling, verswakte vermoëns na liggaam en soms na denke ook, en ‘n inperking van ‘n mens se leefwêreld.

Die moderne wêreld help ook nie om dit makliker te maak nie. ‘n Verbete geveg teen oudword word oral bemark. Vrees is ook ‘n groot vyand. Ons is bang vir vereensaming, siektes en bevange om hulpeloos ‘n las vir geliefdes te word. Ons verloor slaap en dink ons in gate in oor die moontlikheid om onafhanklikheid prys te moet gee.

Hier moet mens ‘n doelbewuste besluit neem. Haal jou foto albums van onthou uit. Kyk terug oor jou lewe, kyk terug na die mense voor jou se lewens, gaan kyk na die lewens van die mense in die Bybel. Kyk na die storie agter die foto’s wat jou lewe uitbeeld. As mens mooi kyk sien mens die sorg, voorsiening en genade van ons Here. Sy wakende oog, verlossende hart en ewige alomteenwoordigheid is daar. Dis ook nou hier by ons.

Selfs in lelike, seer en bang tye is God teenwoordig. In witgekneukelde stormreise en in epiese veranderinge. Al verander alles. God is altyd dieselfde. Onveranderlik en ewig. Buite ons konsepte van tyd, ruimte en begrip is ons Skepper, en ons behoort aan hom.

As moderne Nuwe Testamentiese gelowiges het God in ons lewe se albums Jesus se offer en belofte ingesluit. ‘n Ander duidelik gefokusde foto is God se trou. Trou soos Dawid in Psalm 71 besing.

Dit behoort ons te dwing om met ander oë na ouer word te kyk. Ouer mense is lewende dokumente van God se handeling in menselewens.

Cicero het gesê elke fase van die lewe is duidelik afgebaken, buiten die laaste een. Die ouer word jare word afgesluit met ewigheid. In die menswees van ‘n bejaarde is daar iets van die ewigheid en tekens van dit wat voor lê, reeds ingestraal. Ouer mense moet jongeres inspireer om so met ‘n verwagting ouer te word. Ons is mos almal God se kinders. Na oudword, wag die hemel op ons. Ons moet daarna uitsien.

Vriendskappe

In die tyd van die pes, hierdie vreesaanjaende Covid-tyd waar vryhede ingeperk is, angs en vrese ‘n daaglikse belewenis word, kry ons ook toenemend te make met ‘n fokus op self, eie-ekke. Ons besorgdheid oor gesondheid, veiligheid en oorlewing het sonderling individualisties geraak die afgelope twee jaar. Ons is geïsoleerd, opgeskeep met eie geselskap. Insulêr. Die afstand tussen geliefdes en vriende is wyer.

Tegnologie help ons nie om te onthou om erbarming en empatie te behou nie. Ons leef afstandig, in tegnologies gedrewe virtuele werklikhede. Die WhatsApp boodskap, die vreemde video-oproep of Zoom-partytjie, gee ons kans om voor te hou, om voor te berei. Daar is nie spontanïteit nie. Alles word analiseer, boodskappe of afwesigheid daarvan word interpreteer. Niemand weet waarlik hoe dit in ander se lewens gaan nie.

Die nuwe normaal

Noudat dinge normaliseer, ervaar mens gereeld bitsigheid en ongeduld. Die straatveër, die huivrou, die sakeman, die verpleegster, almal van ons is diep getref deur die aanslag op ons lewenswyses, ons welvaart en ons menswees. Mens sou dink dat die gemeenskaplike skrik van ons sagter mense sou maak. Toe nie.

Ons moet van meet af leer en onthou dat ons van nature sosiale wesens is. Ons is gemaak om saam huis toe te stap. Ons moet sagter met mekaar wees, waarlik met begrip spasie vir mekaar maak.

As ek vorentoe enige van die nuwe realiteite vergeet, wys my daarop, neem my hand en stap my tot insig. Onthou om my ook te vergewe, asseblief.