Gister, 13 Februarie 2022, was Wêreld Radiodag met die tema vertroue. (RSG het sommer al saam met hulle 85e feesvieringe al Vrydag begin met onthoue van bekendes.)

Toe die morester vroegdag helder flonker, het ek Biebs se efempie aangeskakel. Ja, baie ouwêrelds, maar om die skakelaartjie te klik en die klank sag te stel bly lekkerder as die ou fountjie wat immer in jou hand is.

Ek het die honde vrygelaat en ‘n lekker kan koffie gemaak. Met ‘n stomende beker wakkerword op die bedkassie lê ek en luister na Estie Gross se rustige stem en keurige musiek keuses en lees die Rapport op die tablet van hoek tot kant.

Ek is ‘n entoesiastiese RSG fên. Sondae my gunsteling luister dag. Klassieke musiek, besielende gesprekke van hoop, en dan Loof die Here wat my besield op soek sit na reënboë in die opwaswater se seepborrels.

Dan, wyl Sondag vleis berei word luister ek kerk. Gister se boodskap een net vir my. “Wat maak jy hier?” Wat God twee keer aan Elia rig. Stof tot nadenke en ‘n warm klein bekeer om te weet dat God met ons bemoeienis maak. Ons in ons spore stuit en help rigting verander.

Willem Pelser fokus op die BeeGees se musiek. Ai, hulle vroeë treffers was darem mooi. “In the event of something happening to me… “ en “when we were small and Christmas trees were tall…” het ek lekker saam geneurie. (Hou nie so baie van die disko falsetto wat hulle later gepleeg het nie. My ore stem saam.)

Die lys verjaardag groete vir 90- plussers maak my hart so seer. Meeste verjaar oues is gesetel in ouetehuise en alleen. Groete van kinders en vriende van elders en oor die water. Ek tel my seëninge dat my baba tante by my woon en my ander oorblywende tannies goed versorg by hul kinders is.

‘n Taalles met Viva se Byl, Sophia Kapp en vrae aan kundiges laat my wyser. My dag se hoogtepunt is Nic de Jager se mooie stem, nugtere perspektief en uitmuntende musieksmaak. Gister kon jy met my toor toe Baritenor, Michael Spyres, se welluidende sang die huis deurspoel.

Na die eenuurnuus, neem die weeklikse musiek plesier ‘n drastiese wending. Dan rock ons met vergange se klanke met Fritz Klaaste. Hy laat waai met klanke uit die verlede.

Ietwat skisofrenies is Sondae met my skonie se efempie wat in 2011 heel laaste uit haar woonstel gekom het en nou, jare later vir my geselskap hou, inlig, laat dink, laat lag en huil. My vertroude vriend.

Danksy my metgesel, leer ek ander se sêgoed en geniet ek ons mooie taal in al sy skakerings.

Ek leer by Amore, onse radio-engel dat ‘n mens daagliks dankbaarheid moet beoefen. Fokus op klein seëninge. Sy leer my om die lens waardeur ek na die lewe kyk te verander. “Jy moet leer om jouself belangrik te ag, om vir jouself beter dinge te gun, dat jy dit verdien, en jou lewe mag begin leef. Voluit.”

Sophia Kapp herinner my dat “Jou Afrikaans is jou noukeurige aandag waardig.” Sy laat my skater as sy vertel as mense nie verstaan nie, “hulle met dooie vissie oë in ‘n vuil akwarium” kan staar.

Ek leer van swart swaan gebeure soos 9/11, die Spaanse griep, Die pes van die 16e eeu, Covid-19. Dit is aldus die gereelde WAT insetsel: “Enige gebeurtenis wat as onverwags en verreikend beskou word, en waarvan die impak wydverspreid en ingrypend is: Vir my is die koronavirus ’n swart swaan; dit is ‘n konsep wat ons gebruik wanneer ons scenarios ontwikkel. Dit is ’n onvoorspelbare, hárde krisis wat jou tref en waarop jy nie kon voorberei nie (Netwerk24, 20 Mrt. 2020, E). In die buiteland sluit die swart swane die volgende in: … die sukses van Google, die ramp van 11 September, en die VSA-inval in Irak wat die hele Midde-Ooste gedestabiliseer het (Die Burger, 27 Des. 2007, 18).

As ek nie my efempie gereeld op RSG instel nie, sou Anneli Botes se woorde my nooit opgeval het nie. Dit was 25 Mei 2019 toe die radio-engel lekker met die nimlike skrywer gesels. Sy vertel hoe sy ‘n gefrustreerde onderwyser was en eendag so deur ‘n vuil klas venster gestaar het. Sy het haarself afgevra “ hoe lank gaan jy deur die spinnerak by die venster uitstaar.” Sy het summier bedank en begin skrywe. Anneli vertel dat as jy ‘n dwingende begeerte het om woorde in paragrawe en paragrawe in hoofstukke tot ‘n boek wil bring, en jy ignoreer dit, dit dieselfde is as om ‘n kind te verloor of weg te gooi. Harde woorde wat my anders na die stories in my kop laat kyk.

Ek geniet vir bekkige radio-engel Amore Bekker baie. Sy struikel en stamel en lag uit haar maag. Sy verduur nie gekke nie. So midde-in die eerste pes jaar vertel sy so ewe “Daar is niks soos rooibos, tuisgemaakte beskuit en ‘n kankerbos pil nie.” Ek skater nou nog oor die betekenis van Tabasco. Dis Meksikaans en beteken aldus Chappies.com “waar die grond vogtig is.” Ek onthou nog hoe ek daai November-oggend lekker geskater het. Die betekenis het my laat wonder of die vogtige grond dan nou vanweë trane in die oë en ‘n blaas glipsie ontstaan as daai brandrissie gehap word!

Haar gesels met Antoinette Pienaar is ook van groot waarde. Een van die dinge waaraan ek in Covidtyd vasgehou het is haar wyse woorde: “Ons moenie coronamonas wees nie, dit is nie die eerste keer wat die mensdom so swaar kry nie. Ons het wêreld-oorloë, Spaanse griep, polio, Swart Pes en vele ander aanslae oorleef. Ons kreatiwiteit moet nou lig op die pad vorentoe maak.” Ek wil haar bekkie altoos jêm gee.

Op 29 Julie 2020 vertel Cas Abrahams vir Amore: “Partymaal gee die lewe jou ‘n snotklap, dan gaan jy in ‘n anner rigting.” Sela. Volronde waarheid.

Ek is lief vir my vertroude geselskap. Inligting, goeie Afrikaans en ‘n ryke verskeidenheid word mooi verpak om my ore te bereik. Dankie RSG. Skuus dat ek kleintyd van Radio Sonder Mense gepraat het.