Photo by Reshma Mallecha on Pexels.com

Hester stuur vyf homonieme: taai, sterk, teken, haal en vryheid. Haar opdrag is om hierdie woorde wat meer as een betekenis het goed te bestudeer en dan te vervang met vyf sinonieme. Ek spandeer die hele Sateragmiddag terwyl ek kamtig saam met Rots rugby kyk op my Pharos aanlyn toep. Ek bekyk elkeen van Hester se woorde van hoek tot kant. Ek besluit op die volgende:

taai word moeilik

sterk word herkulies

teken word simbool

haal word trek

vryheid word ongebondenheid.

Vryheid kan ook uhuru, carte blanche, oopheid, emansipasie, ooplaat, vrye teuels, astrantheid impliseer. Dit hang van konteks af. Soos alles dikwels doen.

Terwyl ek deur vryheid se betekenisse en sinonieme lees onthou ek twee godinne wat vryheid simboliseer. Aditi en Libertas

Aditi is ‘n Hindoe moeder godin wat oneindigheid simboliseer. Daai simbool wat soos ‘n rustende syfer agt geen begin of einde het nie. Libertas van die Romeine daarenteen, laat my dadelik aan die mooie Statue of Liberty in New York dink.

Inkommers op soek na beter lewens, sommige voortvlugtig met seer, vrees en angs, en ander met sterre in die oë en drome van roem word al vir meer as 132 jaar deur die sterk standbeeld begroet. Die über simbool van ongebondenheid, onafhanklikheid, soewereiniteit en groot ideale.

As Franse beeldhouer, Frédéric-Auguste Bartholdi sy sin kon kry het die beeld nie in New York gestaan nie. Sy visie vir sy skepping was aanvanklik Egipte se kant toe gemik. Port Said aan die noordekant van die Suez-kanaal sou ‘n reuse beeld van ‘n vrou die kanaal gebruikers groet. “Egypt Carrying the Light to Asia,” die prototipe se naam. Die begroting was egter ook monumentaal. ‘n Streep deur sy droom getrek. Later toe Frankryk aan Amerika ‘n skenking wou stuur om demokrasie te vier, het sy “Liberty Enlightening the World” geword.

Bartholdi het met ‘n herkuliese deursettingsvermoë uitdagings aangepak om die dame te skep. Uit sy prototipe van net oor die 2m het ‘n monumentale werk tot stand gekom. Die statistiek is verstommend.

Die beeld self is 46.05m hoog en staan op ‘n voetstuk van 46.94m. Van die grond tot aan die tip van die fakkel staan die konstruksie 92.99m hoog! Die tablet in haar hand is 7.19 meter hoog. Die arm wat hemelwaarts reik is 12.8m. As jy vir haar nuwe skoeisel sou wou koop, sal ‘n stewige nommer 879 perfek pas.

Van haar voete en skoeisel gepraat. By haar voete lê gebreekte kettings. Simbool van die afskaffing van slawerny in Amerika. Nie iets wat die besoeker wat van ver af kyk of om haar loop sal sien nie.

Wat die foto’s van die beeld ook nie sommer duidelik toon nie, is dat die Lady Liberty aan die beweeg is. Ek praat nou nie van slim Meneer Gustavé Eiffel van die Parys toring se plan met haar binne staal werk wat haar in die wind laat wieg nie. Die Lady kan al wiegend storms weerstaan, en sy is blykbaar ‘n magneet vir weerlig.

Sy is letterlik besig om met ferm tred te stap, haar regtervoet gelig. See in te stap om die tweedehandse inkomende mense as nuwe burgers van die vry land te verwelkom. Die fakkel simbool van “enlightenment, liberty and freedom.”

The raised foot of the Statue of Liberty
Foto: thetowerinfo.com

In sy pragtige tekenboek vertel Dave Eggers, Her Right Foot , dat Lady Liberty hoop gee aan duisende wat haar gadeslaan. Sy, self ‘n immigrant, kan nie anders as om aan die loop te wees nie. Om verlossing van onderdrukking na te streef, verg aksie. Daarom ontmoet sy die arme, die moeë, die bang inkomeling in die see.

Haar krone met sewe strale verteenwoordig die sewe oseane, sewe kontinente en van die belofte van elke dag se nuwe opkomende son. In haar hand hou sy ‘n tablet met die datum van die VSA se onafhanklikheid – 4 Julie 1776.

Sy is egter maar dun van nerf en het oor tyd het haar voorkoms verander. Tipies vroumens. Ek grap. Sy is met ‘n koperlaag beslaan, maar die dikte van twee pennies saamgepers. Toe sy op Bedloe’s Eiland staangemaak is was sy ‘n mooi bruin koperkleur. Dit het 35 jaar geneem voor sy haar blougroen patina verkry het.

Haar voetstuk was blykbaar ‘n probleem om te befonds. Die Amerikaners moes dié voorsien. Die beeld was ‘n skenking van Frankryk. Die destydse goewerneur Grover Cleveland wou nie staatsfondse beskikbaar stel nie, Kongres kon nie tot ooreenstemming kom oor die begroting nie, en ‘n toegewyde fondswerwing komitee kon nie met hulle bydrae vorendag kom nie.

Toe Josef Pulitzer, eienaar van die New York World koerant aankondig dat alle skenkers se name publiseer sou word, het 160 000 mense na hul oomblik van roem gegryp. Kinders, straatveërs, jonk en oud, arm en ryk het die wa deur die drif gekry. Die lady kon in 1885 na ‘n jaar van uittroon bo Parys, afgebreek word en in 214 kratte verpak haar seereis na New York onderneem. Die rekonstruksie op Bedloe’s Eiland het 17 maande geneem en daar staan sy sedertdien. Hoop vir almal wêreldwyd.

Taai, sterk, teken van vryheid, haar bestaan amper met ‘n streep deur gehaal, om haar vir altyd staning te kry.

Klaar is my warrel. Dankie dat jy kom lees!

Hierdie inskrywing is my bydrae tot #Woordwarrel Inspirasievonk 2/2022