Hester is sonder krag, dankie Eishkom, duiwelskind van die donkerte wat beurtgewys ons dae en nagte beduiwel. Ek staan dus as agent vir Hester in met ons #Woordwarrel 2/2022.

Daar is nie reg of verkeerd of reëls nie, wel net so paar huishoudelike goedjies om #Woordwarrel sinvol te laat vloei.

Hester en ek sal elke twee weke ‘n inspirasievonkie plaas. Broei so bietjie oor die vonk en gaan sit en slaat die gedagtes wat by jou opkom via die qwertybord die eter in. Kom ons gesels en wonder en deel gedagtes en maak 2022 die jaar van strome woorde en inspirasie vir ons almal.

#Woordwarrel Inspirasievonk 2/2022

Om skryfwerk lewendig en prentjiemooi te maak, moet ons dikwels mooi gaan sit en dink aan vars maniere om ons woorde saam te snoer. Om ons liefde vir onse mooie Afrikaans te wys en lekkerleesgoed die eter in te gooi. Dis mos onder andere wat ons hier in Blogland doen. Of hoe?

In die voorwoord van die Sinonieme en verwante woorde van die WAT (Pharos,1995) skrywe DJ van Schalkwyk, die destydse hoofredakteur, sinonieme help ons “om noukeurig te kies ten einde noukeurig te kan sê.”

In ons taal is daar ‘n aantal homonieme (woorde met dieselfde vorm, maar met verskillende betekenisse en onverwant aan mekaar beskou).

Hester het vyf homonieme verskaf:

taai (Pharos se toep dui 237 resultate)

sterk (Hier is 1261 resultate, aldus Pharos)

teken (Pharos bied 568 resultate)

haal (Pharos het 537 resultate opgelewer)

vryheid (210 moontlikhede vertel dei Pharos soekenjin)

Jou uitdaging is om die woorde se onderskeie betekenisse te bekyk en oordink. Kies dan ‘n sinoniem vir die betekenis waarby jy aanklank vind.

Jy moet met vyf woorde in plek van taai, sterk, teken, haal en vryheid sit.

Nou laat jy die vyf sinonieme van welke homoniem jou aandag getrek het, jou inspireer om te warrel! Verras jouself en ons. Lekker #Woordwarrel.

As dit nie jou skryflus aanwakker nie, skrywe sommer net vrylik wat in jou gedagtes opkom. Dis die eintlike doel van #woordwarrel.

Woordwarrel se so-maak-mens volg hieronder. Kom speel saam.

Hierdie bloguitdaging word gesamentlik aangebied deur https://hesterleynel.co.za en https://lekkervurigeaffere.blog/.

Hoe dit werk:

Die aanbieders sal om die beurt elke tweede Donderdag voor twaalfuur ‘n inspirasievonk in die vorm van ʼn spreuk, spreekwoord, gesegde, vreemde woord, of nuutskepping op haar blog plaas om die uitdaging af te skop.

Deelnemers word genooi om die vonk te gebruik en net eenvoudig te laat waai – gaan net daar waar die woordmuse en jou gedagtestrome jou lei in ’n malse maalkolk, in stroomversnellings, in stil waters of in ruisende valle, vlak of diep.

Daar is geen beperkinge op die tipe skryfsel wat jy wil pleeg nie. Skryf min woorde of baie, ‘n haikoe of enkelreël, opstel, gedig, resep of wat ook al die inspirasievonk losgeskop het in jou skrywersbrein.

Oopbek en loshande is die enigste reël.

  • Publiseer jou bydrae voor of op die Sondag wat volg op die datum van die uitnodiging.
  • Plaas die skakel van jou bydrae in die kommentaarblokkie (“comments section”) onderaan die blog waarin die inspirasievonk verskaf word om te verseker dat daar ‘n terugskakeling (“pingback”) na jou inskrywing sal wees wat deur ander lesers gevolg kan word.
  • Jy mag dit makliker vind om die twee aanbieders se blogs te volg om te verseker dat jy nie die inspirasievonk vir die week misloop nie.
  • Plaas gerus ‘n kopie van ons Woordwarrel-logo bo-aan of binne-in jou blog, sodat ander skrywers weet dat jou bydrae deel vorm van hierdie uitdaging.
  • Gebruik die hutsmerke #Woordwarrel #Afrikaans

Laat waai en geniet dit.