Die bidkers verjaar

Op 25 Januarie 2021 het ek my gesin, en my eie sieleheil, ter wille ‘n kers aangesteek. Gister besef ek dis 365 dae later. Die bidboom het plek vir ‘n kers en blikengele plek gemaak. My redes nog net dieselfde as ‘n jaar gelede. Die kers het nog nie ophou om in my wakker tye te brand nie. 365 maal twee kersies per dag. Twee keer elke dag sedert 25 Januarie 2021 het ek stil gestaan en my asseblief en dankie hemelwaarts gestuur vir vreemdes en geliefdes.

Daar het nou reeds 671 Corona dae verby getik. My huishouding se begin draai nou om die stil oomblik by die kers. Om dankie te sê vir genade, en asem en ‘n nuwe dag. Nog nie ‘n onderbreking aan die ritueel nie. Dis heilige, versterkende oomblikke.

Julle onthou hoe ek oor die bidboom, en die swartsak vir die swaweltjies vertel het. Die arme swaweltjies se beskermde nes is mos toe anderdag in ‘n haelstorm verwoes, Rots se sinkplaat beskerming ten spyt.

Wel, hulle het nie gevlug nie. Verwoeste nes, gebreekte eiers, verpletterde toekoms ten spyt. Die twee het oor begin. Hulle het ‘n paleis gebou. Bekkie vir bekkie modder. Vanmore met die wakkerword, hoor ek hulle regmaak om hulle pasgebore kroos te begin kosgee.

In stil vertroue het hulle uit puin ‘n nuwe lewe gebou.

Vanmore toe ek op dag 671 se kers aansteek kon ek bly dankie sê, dat ons tot hier gekom het, drome kon aanpas en elke dag rede vir lof en dank met die kers na die hemelse wierookbak van versugtinge en gebede kon stuur.

Pema Chodron se wyse woorde vind in hierdie nie-weet-wat-wag-tye by my aanklank. Dat ons in alle omstandighede spasie moet laat om nie ten alle koste te moet weet wat die resultaat sal wees nie.

Things falling apart is a kind of testing and also a kind of healing. We think that the point is to pass the test or to overcome the problem, but the truth is that things don’t really get solved. They come together and they fall apart. Then they come together again and fall apart again. It’s just like that. The healing comes from letting there be room for all this to happen; room for grief, for relief, for misery, for joy. When we think something is going to bring us pleasure, we don’t know what’s really going to happen. When we think something is going to give us misery, we don’t know.Letting there be room for not knowing is the most important thing of all. We try to do what we think is going to help. But we don’t know. We never know if we’re going to fall flat or sit up tall.When there’s a big disappointment, we don’t know if that’s the end of the story. It may just be the beginning of a great adventure.

Vanmore kom ek met ‘n bedelhart na die kers toe.

Ek het net my leë hande om uit te steek.

Ek weet nie wat more inhou nie.

Ek weet gister is verby.

Dis net hier en nou.

Gaan ons die vele daaglikse uitdagings die hoof bied?

Sal ons die pes oorwin?

Sal ons sekereheid wat verlore is herwin, of wag iets nuut op ons?

Dankie vir die voorbeeld van die swaeltjies se aanhouer aard, dat seer en ongeluk hulle nie stuit nie. Dat hulle iets beter as voorheen kon bou.

My oggend boodskap na die hemelwierookbak is vol dankie en asseblief. Dat ons in eindes en nuwe beginne sal weet ons kan vertrou dat ons Vir Altyd Pa saam met ons is.