Daar druk ek mos nou myself in ‘n blik met die eerste #Woordwarrel inspirasievonk. (Daar waar jy graag skrywe, gaan sit gat op stoel en draai jou kop na regs. Wat sien jy? Vertel ons die verhaal van die objek/boek/prent/ wat ookal in jou sigveld beland. Hoe het jy dit bekom? Waarom is dit by jou? Wat beteken dit vir jou.)

Lekker blindesambok word ek toegedien. Sien ek sukkel geruime tyd om van ou griffels ontslae te raak. Ek het baie braaf so ruk gelede ou memento’s en briewe tot as verbrand. Maar daar is een houer met dagboeke wat ek soos die pes vermy. Knus staan die pandoradosie regs van my en nou moet ek oor haar skrywe. Op eie versoek. Bwaha!

Die reënboog vrolike houer verklap niks van die dikwels stomseer, skaamkwaad, traanbenatte en verwytende woorde wat in ‘n verskeidenheid notaboeke opgeteken is nie. My wroeg met my ouers se afsterwe, my beroepslewe, vriendskappe sover terug as 1979. In die houer is my vermaledyde (verduiwelse, vervloekte, verpestelike) verlede weggepak. Goed wat ek net met myself en die Liewe Vader deel. Goed wat ander sal seermaak, verwond of verbaas sal laat.

Hier op die lieflike sonnige, maar koel Sondag môre gryp ek die inhoud en draf na die braai. Voor ek vreeslik kan dink, steek ek die verlede summier aan die brand. Die wind warrel die veraste flenters van die verlede soos sneeuvlokkies oor die grasperk. Weg, net so. Ek is verlig, verheug en vol vrede.

Die leë houer het nou plek vir nuwe gedagtes, griffels wat sagter en wyser is. ‘n Verrassing vir vir diegene wat miskien eendag as ek al Huis toe is, die deksel sal lig en my woorde daar sal ontdek. Wyser, sagter woorde wat vertel van groei, geloof en ‘n lewe voluit geleef.

Hierdie bloguitdaging word gesamentlik aangebied deur https://hesterleynel.co.za en https://lekkervurigeaffere.blog/.

Hoe dit werk:

Die aanbieders sal om die beurt elke tweede Donderdag voor twaalfuur ‘n inspirasievonk in die vorm van ʼn spreuk, spreekwoord, gesegde, vreemde woord, of nuutskepping op haar blog plaas om die uitdaging af te skop.

Deelnemers word genooi om die vonk te gebruik en net eenvoudig te laat waai – gaan net daar waar die woordmuse en jou gedagtestrome jou lei in ’n malse maalkolk, in stroomversnellings, in stil waters of in ruisende valle, vlak of diep.

Daar is geen beperkinge op die tipe skryfsel wat jy wil pleeg nie. Skryf min woorde of baie, ‘n haikoe of enkelreël, opstel, gedig, resep of wat ook al die inspirasievonk losgeskop het in jou skrywersbrein.

Oopbek en loshande is die enigste reël.