Toe koning Saul se lewe begin uitrafel en hy sy woede op Dawid uithaal, red Jonatan sy vriend. Saul se lewe en sy huis vergaan, behalwe Mefiboset. Hy is maar vyf jaar oud toe sy oupa se koninkryk inplof. Toe sy pa, Jonatan saam met Saul by Gilboa omkom. In die angs en vrees toe die mense by Saul se huis besef dat hulle op vlug moet slaan, vlug Mefiboset se oppasser met die toekomstige koning in haar arms. Sy laat die kind egter in haar haas val. Hy is lam gelaat. Kreupel. In ‘n tyd waar gebrek in koninklikes nie geduld word nie, word die kind versteek in Lo Debar, wat “land van niks” beteken.

Jare gaan verby en Dawid sit op die troon wat eens aan Saul, Jonatan en Mefiboset behoort het. Sy vyande word links en regs verslaan en Dawid is diep onder die indruk van God se genade en guns. Hy herinner homself aan sy belofte on na Jonatan se nageslag om te sien. Dawid rig die vraag of daar enige nakomeling van Saul nog lewe, en ‘n slaaf wat aan Saul behoort het, Ziba tree na vore. Vertel van die kreupel kind van Jonathan. Dawid stuur Ziba om Mefiboset na die paleis te bring sodat die koning sy belofte aan sy vriend gestand an doen.

Kan jy dink hoe beangs die kreupel Mefiboset moes wees? Die koning wat op sy familie se troon sit, laat hom roep. Gaan dit sy einde beteken?

Groot moes sy verligting gewees het toe Dawid hom nooi om aan sy tafel te sit soos familie, nog groter toe sy rykdom herstel is. Nog groter Ziba se verligting. Hy word aangestel om Mefiboset se erfenis te bestuur.

Het hulle gelukkig en tevrede verder geleef. Sowaar, nee. Vyandskap, verraad, misleiding vier tipies mens hoogty. Ek lees iewers dat Mefiboset (ook Ziba s’n) se verhaal, oppervlakkig en kortliks op drie plekke in 2 Samuel versprei, ‘n enigma van motiewe en ‘n studie eie-belang is.

Mefiboset het skaars sy sit aan Dawid se tafel gekry, toe broei onheil om die koning uit. Dawid moet vlug. Ziba oortuig Mefiboset om nie te vlug nie. Die kreupel man luister vir sy bestuurder. Ziba is vort om broodnodige voorraad kos aan Dawid te bring. Dawid vra waar Mefiboset is. Ziba se antwoord breek Dawid se hart. Aldus slimme Ziba, wag Mefiboset om as koning herstel te word. Kan dit waar wees? Dawid het nie baie tyd om te tob oor die oënskynlike verraad nie. Hy moet oorleef.

Dawid seëvier oor sy vyande en die terugtog huistoe word aangepak. Amper tuis kom hy ‘n vuil, onversorgde Mefiboset teë. “Wat maak jy hier?” Mefiboset antwoord:”Op advies van Ziba het ek tuis gebly. Ek is net ‘n las. ‘n Dooie hond is beter as ek.”

Dawid besef dat onmin tusen Mefiboset en Ziba het vir misleidende boodskappe gesorg.
Dawid, wat die volste reg had om met geweld albei manne uit te haal, te vernietig, doen ‘n wyse en genadige ding. Hy vergewe albei en deel Saul se rykdom in twee. Mefiboset se plek aan Dawid se tafel bly in stand.

Ek leer hieruit dat ons maar almal struikel en oorlewing ter wille eie-belang bo ander s’n stel. Ek leer Dawid se wyse en genadige optrede spieël God se liefde en genade vir gebroke mense.

Jy weet hoe dit gaan. Regerings wankel, kerke word in skande gedompel, jou vriend se voete blyk van klei gemaak te wees. Wat doen ons? Ons maak soos Mefiboset, bly uit die pad, eenkant. Of ons maak soos Ziba en gaan offer hulp, maar steek soms sodoende iemand anders in die rug. Mefiboset en Ziba, die honger, bang wolfies binne ons. Myself die duiwel binne ons, en dan blameer ons die duiwel vir ons selfsugtige besluite.

In die gang van die lewe sal mense ons laat val, soos Mefiboset se versorger gedoen het. Mense sal jou in die steek laat, jou ‘drop.’ Jy word ignoreer, oorsien. Dikwels die gevolg van ander se skaamkwaad projeksie omdat jy lig werp op ander se swaar, seer, kwaad, verwerping of wroeging. In sulke tye moet jy nie toe laat dat mense jou na Lo Debar -“land van niks”- verban soos Mefiboset nie.

Ek sit vanmore en dink hoe dikwels Mefiboset in ons manifesteer.

  • Ons kruip ook maklik verlam, swak weg vir ons Koning
  • Ons skei ons maklik van God se alomteenwoordige liefde en genade
  • Ons leef maklik onbewus van God en Sy liefde vir ons
  • Ons ontvang genade in ons lewensrekening, maar aanvaar dit nie
  • Ons ontvang meer as wat ons verloor het as ons na Hom terugkeer en by Sy genadetafel aansit
  • God neem nie ons swakehede en verlamming weg nie. Hy gee ons eer en guns wat ons seer en gebrek verlig. Dit draagbaar maak. Dis hoe genade werk.
  • God verander hoe ons oor onsself dink. Ons verander van versteekte, verworpene na begenadigde geliefde.
  • Mefiboset se naam beteken ‘verdrywer van skande.’ God se genade en vergifnis verdryf ons skaamte en skande. Maak van ons nuwe mense om Sy liefde in die gebroke wêreld te spieël.

Dankie vir die verhaal van Dawid en Mefiboset. Dawid, self sondig en vol berou, se deernis met Mefiboset spieël Jesus se liefde. Ons word hier gewys op ons eie hulpeloosheid om onsself te red. Ons verdien om verguis te word vir al ons menslike terkortkominge en foute. Alles ten spyt, ontvang ons genade. Jesus kom red ons en ons word aangeneem as kinders van die Ewige Vader

Dankie vir genade.