Photo by Pixabay on Pexels.com

Genugtig. Wat ‘n verassing is Hester se olel oor spelreëls. Ek dag ons gaan warrel oor krismis en hoop of ‘n interessante woord of twee. Daar haal sy my kinderlike verwagting van ‘n hoë plek af en plak my grondlangs neer. Soos ‘n pornoster wie se rakleeftyd verspeel is. Ek laaik om moerby te speel met my Afrikaans. Jy weet, sommer lukraak en spontaan eie skeppinge aanmekaar (of is dit nou aan mekaar) te flans.

Grappies op ‘n stokkie. Hierdie is nie kremasie praatjies nie, en nee, ‘n pornoster is nie familie van ‘n renoster nie!

Kom ek begin oor.

Genugtig! Wat ‘n verrassing is Hester se tirade oor spelreëls. Ek het gedink ons gaan vandeesweek #woordwarrel oor die feestyd en miskien oor die toekoms hoop, of vir oulaas ‘n interessante woord as inspirasievonk kry. Maar nee, vriendin Hester toets weer grense soos altyd. Sy sukkel nie met spookasem sakies nie. (Haal asem Hester, ek terg net, want ek mag.)

Ek wou net illustreer dat spelreëls en ‘n vorm van standaardisering noodsaaklik is, sodat ons mekaar duidelik kan verstaan. Wat ek wou sê is dat Hester se spelreël woordwarrel my verras het. Sy het my hoë verwagtinge oor vrolike warrels grond toe gebring. Sy het my kinderlike hoë verwagtinge grondwaarts gekeer. Net soos ‘n ou porno-ster sypaadjie langs gesmyt.

Ek gooi graag (moer +by) woorde saam, dis hoe ek Afrikaans praat, en uiteraard slaan my praat deur in my skryfwerk, maar korrekte spelling is noodsaaklik. Koppelteken op die regte plek, korrekte hoeveelheid klinkers, korrekte medeklinkers nog meer so.

Spelery met woorde, en die invloed van mens se omtes gee kleur en dinamika aan taal. Ek is dol op annerlike Afrikaans, streektaal en ook nuutskeppinge. Ek dink dit is hoe ‘n taal geliefd, lewend en altyd vernuwend bly.

Hier in Polokwane omgewing is daar woordgebruik wat kostelik is. Die mense hier rond het nogal ‘n Savannah-droë sin vir humor:

  • Daai manne met die über-laag oopgeknoopte hemde wat die borshare en tepels skaars bedek, sal hier so beskrywe word: “Tag, Hannes gaan vandag weer die katjies laat drink.
  • ‘n Spandabele vrou word ‘n deursleep genoem. Nie ‘n deurtrekker nie, sies man!
  • Daai lang, slungerige outjies wat so in die straat rond flenter met hulle broeke om die knieë word hier ‘n lenter genoem. Lekker woord.
  • Dan my gunsteling: Ouers wat om die beurt by hulle kinders inwoon en geen huis van hulle eie meer besit nie, kuierwoon.

Maar dis nie waaroor ons moet warrel nie, malmaak spelling en al die triljoen reëls, dis wat op die brein moet wees. Laat ek op die spoor terugkom voor Hester en ander maats my agter die oor bykom. Dit kan net almiskie seerder wees as daai blessitse pyn waardeur mense my sit met waardeer se verkragting. Ek raak ook heel skuins as mense, veral nuuslesers, nie moeite doen om hulle voor die nuus lees sessie te vergewis van die korrekte uitspraak van woorde, veral dorpe en lande, nie.

Daar is oulike hulpbronne oral beskikbaar. My vriendin Google-Ina het die Byl van Viva, Sophia Kapp se oulike blog aanbeveel. Tik in die soek blokkie op Google: Afrikaanse spelfoute.

Die AWS is en bly die bron om enige vertwyfeling uit die weg te ruim. Ek is bevoorreg om deur Pharos-aanlyn toegang tot talle taalhulpbronne te hê, maar mens bly maar mens en foutjies glip deur, veral as mens na die qwertybord kyk en nie so nou en dan die oge oor die skerm gly voor jy die stuurknoppie druk nie!

Arrie-warrie. My spelling woordwarrel is uit. Hoop nie ek het te veel reëls oortree nie!

Onthou asseblief om nie 2022 as jou jaar te eis nie. Jy het mos nou gesien wat hoopvolheid oor 2021 ons in die sak gebring het. Bokkerôl en verdrietigheid. Loop die nuwe jaar handjies agter die rug soos ‘n soet kind, tjoepstil en waaksaam binne , en moet tog aan niks raak nie! Onthou om reg te spel my pêl.

Groetnis en allesbeste.

Hierdie uitdaging is die laaste aflewering in hierdie reeks vir 2021. Ons gaan ‘n blaaskansie vat oor die feesdae en sal weer hervat in die 2de week van Januarie 2022.

Hierdie bloguitdaging word gesamentlik aangebied deur https://hesterleynel.co.za en https://lekkervurigeaffere.blog/.

Hoe dit werk:

Die aanbieders sal om die beurt elke Donderdag voor twaalfuur ‘n inspirasievonk in die vorm van ʼn spreuk, spreekwoord, gesegde, vreemde woord, of nuutskepping op haar blog plaas om die uitdaging af te skop.

Deelnemers word genooi om die vonk te gebruik en net eenvoudig te laat waai – gaan net daar waar die woordmuse en jou gedagtestrome jou lei in ’n malse maalkolk, in stroomversnellings, in stil waters of in ruisende valle, vlak of diep.

Daar is geen beperkinge op die tipe skryfsel wat jy wil pleeg nie. Skryf min woorde of baie, ‘n haikoe of enkelreël, opstel, gedig, resep of wat ook al die inspirasievonk losgeskop het in jou skrywersbrein.

Oopbek en loshande is die enigste reël.

  • Publiseer jou bydrae voor of op die Sondag wat volg op die datum van die uitnodiging.
  • Plaas die skakel van jou bydrae in die kommentaarblokkie (“comments section”) onderaan die blog waarin die inspirasievonk verskaf word om te verseker dat daar ‘n terugskakeling (“pingback”) na jou inskrywing sal wees wat deur ander lesers gevolg kan word.
  • Jy mag dit makliker vind om die twee aanbieders se blogs te volg om te verseker dat jy nie die inspirasievonk vir die week misloop nie.
  • Plaas gerus ‘n kopie van ons Woordwarrel-logo bo-aan of binne-in jou blog, sodat ander skrywers weet dat jou bydrae deel vorm van hierdie uitdaging.
  • Gebruik die hutsmerke #Woordwarrel #Afrikaans

Laat waai en geniet dit.

The post Woordwarrel: 10 Des 2021-spelreëls wat my mal maak appeared first on Dis Ekke.