Rumi Maré: Kyk, my mensma het my geteken.
Hierdie storie is met liefde aan Jean-Pierre en Mila
.

Hallo. My naam is Rumi Maré, die jongste van die woeste Watervalhondebende. Ons bly saam met ons mense: Ma, pa en Bab op ‘n plaas met ‘n reuse tuin met ‘n groot groen grasperk en baie agapante, ‘n Oom Jakarandaboom en klomp reuse palmbome. Ons het ook bure en Jakkals en Bruno, die Jack Russels, is my maatjies. Ons kan mekaar lekker jaag, saam toutrek en stoei totdat KodaKoos, die mambavanger Labraboel, besluit hy het nou genoeg van ons kerjakker gehad. Dan gee hy ‘n iesegrimgrom en ons bedaar maar liewer.

Ek het my mensma se woordwarrelbeurt gesteel. Sy is mal oor kameelperde, sonneblomme, vere, die Waterval werf en ek dink haar gunsteling kleur is bont. Hier is baie, baie kleure in die huis.

Sy vertel nou haar gunsteling plek is die Waterval werf. Dis eintlik die Karoo se vir-altyd-vêr-berge en blouer as blou hemel wat haar gunsteling plek is. Maar ons praat nie deesdae baie oor die plek nie. Die gogga wat mense so siek maak maak dat hulle al vir lank nie soontoe kan gaan nie. Daai simpel virus het haar hart so seer dat sy nie oor die Karoo wil dink of praat nie, maar ek kry haar baie voor Oom Wessel Cronjé se mooi skildery van die Vallei van Verlatenheid, dan het sy so seersmaail. Die dae wat hartseer oor die Karoo haar tref lek ek maar haar hand of draai pensie na bo voor haar voete dat sy my begin vryf en so help ek dat haar seer wegdryf. So nou is Waterval se werf haar en ons gunsteling ruimte.

Ons bly saam met klomp voëltjies. Ma voer suikerbekkies soet suikerwater by haar kantoorvenster. Dit klink soos ‘n konsert as daai kleine karnallies kom dors les. Glasogies en muisvoëls kom drink ook van die lekker water. Daar is ‘n kwikstertjie wat baas van die swembad se rand is, en gevlekte en oranjebek lysters wat saam met ons die werf vol stap.

My mensma hou nie van die moedswillige mynas nie. Ma sê hulle is indringers van ‘n ander land. As hulle buite in Urdu (Hulle land se een taal) kras, gryp sy sommer ‘n lepel en potdeksel om met lawaai hulle lug in te laat vlieg. Julle moet sien hoe vol duike is daai deksels geslaan. Ek is maar versigtig om nie vreemd te praat nie. Sy raak Xena Xenofobies, glo my dis ‘n vreeslike vlieëry as sy so lawaai. Miskien moet sy biekie onthou hulle is ook geliefd geskape deur die Asemmaker.

So van geveerdes gepraat. Mensma is veer betotterd. Sy tel gedurig ‘n veer in die tuin op, dan steek sy dit agter haar oor en sy lag vrolik. Elisa en Andries tuinier lag oopbek saam. Sy sê sy is ‘n Swazi. Sy het kleintyd in Swaziland gebly. Dis mos nou Eswatini. Die Swazi mense hou van tarentaal vere en ystervarkpenne in die hare. Ma loop heeldag met daai veer agter haar oor en dan gaan hy skryfkamer toe. Sy het ‘n vere rangskikking op die lessenaar by die venster waar die suikerbekkies soet suiker kom suig.

Sy het nou die dag gaan stem met ‘n veer wat Mila in haar hare gedruk het. Die mense het haar nogal aangekyk. Sy kon nie verstaan nie, tot sy by die huis die veer gesien het. Sy het veer vergeet gehad! Haha.

Ek sukkel om die veer wat sy soms in my verkeerdeveer verwaaide kuif druk, te dra. Die gespikkelde tarentaal veer en grys kransduif se veer is lekker kougoed.

As ons nou in die bollie wil wees, moet ons ‘n windmaker swaweltjie of dowwe duif vang en in die sitkamer kom uitmekaar haal. Mensma raas oor ons spelery en persente wat ons indra. Sy kom gryp die dooie voëltjie en vere sommer gou en vertel kwaai dat dit nie mooi is nie.

Jinne, sy wolf saam met ons as ons smorens huil as Bab en pa gaan werk. Rerig, so wooo-wooo. Ons vyf brakke en Ma. Verstaan sy dan nou nie van jag nie? Pfft.

Weet julle, my ma kan toor. Ek en Jean-Pierre en Mila glo dit. As hulle plaas toe kom dan kan ons nie wag dat die son sak nie. Ma bring haar Briza voëlboek en so Harry Potter klankkatoeter en ‘n kombers. Dan lê ons by haar op die kombers en Jean-Pierre blaai na die foto van die Nonnetjiesuil met haar wit om die oge en wye vlerke.

Ma skuif die katoeter oor die foto en dan spring die foto-uil se roep daarin. Ma hou dit in die lug, en sowaar, voor jy kan pasop blaf, kom die plaaswerf se twee nonnetjieuile nader. Hulle fluit skerp prrrjjjt-prrrjjt en swoesj-swoesj oor ons koppe. Na ‘n rukkie vlieg hulle weg en ons lê stil vir die sterre en kyk.

Een Sondagoggend na ons so met die uile gespeel het, het ek en Mila ‘n wit donserige veer op die grasperk gekry. Ek dink dit was die nonnetjiesuil s’n, maar Mila het na ma gehardloop en die veer agter haar oor ingedruk. “Kyk Ouma Erna, die engele was hier.” My ma het sag geglimlag en haar oge was effe waterig. Sy is baie lief vir daai twee kinders.

Ek verstaan die kameelperd se groot naam is camelopardalis. Dan moet hy mos ‘n kameelluiperd genoem word. En ma vertel my dat dogtertjie kameelperde klossies hare op daai knoppies op hulle koppe het. Hoekom het die seuntjies nie ook nie? Dis darem diskriminasie. Ja, ek weet van die woke wêreld en so. My mensma kan nogal aangaan oor die tipe goed as sy haar lekkervurig wip. Joe, ons lê maar agter haar stoel as sy by haar lessenaar hard op die qwertybord slaan. Of ons gaan speel buite.

Die liefde vir kameelperde het op my afgevryf. Nou die dag toe ons klomp hondesalon toe is vir ons haarsnye, het Bab saam met my na die speelgoed gekyk. Sien ek is nog klein, net nege maande oud, so ek mag speelgoed kry. Die groen en pienk kameelperd is vir my so kleurvol en ek hap na hom. Bab het gelag en gesê ek het hom self uitgekies. Hy en die wol kersvader is my gunsteling speeldinge.

Elisa is baie lief vir mensma, en sy is ook lief vir al die plante op die stoep en om die huis. Vrydae is ons bad dag. Dan skrop daai twee vroue darem vir ons brakbende dat die skuimbolle so spat. Ek raak lam as Elisa my verkeerdeveer kuif en rug so lekker skrop. Ma sê ek hang soos ‘n vuil cowboy met my voorpote oor die rand.

So lief as wat Elisa is, sy word baie vies as ek met die plante op die stoep toutrek. Sjoe, dis darem ‘n lekker speletjie. Om my te leer om nie die poinsettia so te snoei nie, het sy en ma rooipeper in en om al die blompotte gegooi. Hulle sê my niks. Het ek geskrik en my alie af getjank toe my neus en tong so brand. Hou verby Verwey, ek speel nou maar liewer met kameelperd en kersvader.

Ma bak elke Vrydag vir Elisa Agapébrood. Dis hulle ek-is-lief-vir-jou-ding. Een goeie dag kom Elisa met so reuse gedroogde sonneblom vol met pikgitswart sade om vir ma dankie te sê. Oral in die tuin is die sade ingedruk. Nou staan daar oral sulke lemmetjiegroenerige stele en blare. Mensma vertel ons gaan een van die dae saam met giggelgeel sonneblomme lag en ook ons koppe son toe draai nes hulle. Ek hoop nie ons word dronkkop van al die draaiery nie.

So daar weet julle nou van ma se liefgoed. Maar as ek nou mooi dink is sy die liefste vir ons, die mense en brakke van Watervalwerf, en dan kom kameelperde en sonneblomme en die Karoo, ekskuus Watervalwerf, en bont kleure. Ek weet ook sy is baie lief vir olifant, luiperd, renoster en leeu, en sy spot altyd as sy ‘n dier moet wees sal dit ‘n buffel wees. Ek weet darem nie, sy is maar vir my soos ‘n lekker sagte teddiebeer, behalwe as sy raas, dan is sy sommer net ‘n kwaai mammabeer.

O jitte, ek hoop daar is genoeg geallitereer en -assoneer. Ek is maar nege maande oud, onthou.