En toe is die kersliggies al aan en die krismisboom al versier? Hier op Waterval het ons gisteraand die bidboom wat ons op 25 Januarie vanjaar staangemaak het, kersfeesmooi getooi. Ek is dankbaar dat ons voorbereidings vir ‘n vredige feestyd kan tref. Om vir ‘n oomblik te vergeet van Omicronamoerigheid en vaksinerrusies. Vrede op aarde tyd.

In die gees van die feesgety, warrel ‘n vrolike storie met ‘n warrelknoop.

Die volgende moet alles ingesluit word in jou vrolike verhaal:

  • Gunsteling dier
  • Gunsteling blom of boom of natuurverskynsel (klippe, grasse, patrone)
  • Gunsteling plek in die natuur (berg, rivier, see, vlaktes….)
  • Gunsteling kleur
  • Laastens, span alliterasie en assonansie in
  • Mik vir 600 woorde of meer. Niks minder.

Warrel woerts-warts woordryk en vertel ‘n vrolike verhaal.

Woordwarrel se so-maak-mens volg hieronder. Kom speel saam.

Hierdie bloguitdaging word gesamentlik aangebied deur https://hesterleynel.co.za en https://lekkervurigeaffere.blog/.

Hoe dit werk:

Die aanbieders sal om die beurt elke Donderdag voor twaalfuur ‘n inspirasievonk in die vorm van ʼn spreuk, spreekwoord, gesegde, vreemde woord, of nuutskepping op haar blog plaas om die uitdaging af te skop.

Deelnemers word genooi om die vonk te gebruik en net eenvoudig te laat waai – gaan net daar waar die woordmuse en jou gedagtestrome jou lei in ’n malse maalkolk, in stroomversnellings, in stil waters of in ruisende valle, vlak of diep.

Daar is geen beperkinge op die tipe skryfsel wat jy wil pleeg nie. Skryf min woorde of baie, ‘n haikoe of enkelreël, opstel, gedig, resep of wat ook al die inspirasievonk losgeskop het in jou skrywersbrein.

Oopbek en loshande is die enigste reël.

  • Publiseer jou bydrae voor of op die Sondag wat volg op die datum van die uitnodiging.
  • Plaas die skakel van jou bydrae in die kommentaarblokkie (“comments section”) onderaan die blog waarin die inspirasievonk verskaf word om te verseker dat daar ‘n terugskakeling (“pingback”) na jou inskrywing sal wees wat deur ander lesers gevolg kan word.
  • Jy mag dit makliker vind om die twee aanbieders se blogs te volg om te verseker dat jy nie die inspirasievonk vir die week misloop nie.
  • Plaas gerus ‘n kopie van ons Woordwarrel-logo bo-aan of binne-in jou blog, sodat ander skrywers weet dat jou bydrae deel vorm van hierdie uitdaging.
  • Gebruik die hutsmerke #Woordwarrel #Afrikaans

Laat waai en geniet dit.