Hester en ek gesels vroeër die week oor verhoudings en hoe maklik mens so diep in die dinges beland, heel onskuldig en nooit aspris nie, en dan baie gou stiefmoederlik ‘n eenkant swartskaap gemaak word. Dis ‘n tema in my lewe omdat ek nooit lank op ‘n plek gewoon het nie, dis nou behalwe die laaste 34 jaar in Poloniekwane. Die eerste deel van my lewe was so woes dat as “Ramblin Rose” speel, my speelgoed en boeke sommer hulself gepak het. Rêrig. Ek het net ‘n nuwe skool en die kinders en onnies leer verstaan en amper vir my ‘n nessie uitgeskrop, dan verhuis ons. Dit is woes op mens se sosiale vaardighede. Jy leer jou eie oorlewing ter wille maar liefs eenkant as waarnemer oorleef, en doen jou eie ding want afskeid en groet is onlekker as jy 5, en 6 en 8 en 10 en 13 en 16 is. Ek loop vandag nog met ‘n knop op my maag, hy is ingeburger. Hester troos my oor swartskaap wees en stuur vir my Anuschka se blog https://levensjutters.com/2021/11/15/elke-kudde-heeft-zijn-zwarte-schaap-nodig/.

Wela kepela. Die wêreld het toe swartskape nodig. Dit is toe dan maar logies toe ek die #Woordwarrel beurt kry en besluit om met letterkeer/anagram te speel, dat swartskaap na so lekker woord lyk.

Foto: Erik Mclean op Pexels.com

Swartskaap. Ek sorteer die letters in alfabetiese volgorde: aaakprsstw. Natuurlik neurie ek ‘swartskaap, swartskaap het jy baie wol’ – dis ‘n blêrrie oorwurm daai. Sit die letters op die tafel en almal in die huis speel saam. Ons kry 72 wisselvorme/angramme/letterkere. Dit was vet pret. Maar tipies van Hester en my se tipe uitdagings, sal dit nou nie voldoende wees om net die lys te plaas nie. Nee ons moet danksy Rare Name, die uwe se anagram sonder die é, ‘n storie skrywe. Die relaas volg na die lys.

Kliek gerus op die skakels in die lys, dis ook lekkerlees goed.

  • aak
  • aap
  • aaptwak
  • aar
  • aas
  • apart
  • ark
  • arts
  • kaap
  • Kaap
  • Kaaps
  • kaas
  • kap
  • kar
  • karp
  • kas
  • kat
  • krap
  • kwaak
  • kwak
  • kwart
  • kwarts
  • kwas
  • paar
  • pak
  • paraat
  • park
  • parka
  • pars
  • pas
  • pasta
  • praat
  • psst
  • raak
  • raak
  • raap
  • rak
  • rap
  • raps
  • ras
  • rat
  • saak
  • sakpas
  • sar
  • skraap
  • skrap
  • skraps
  • spaar
  • spar
  • spraak
  • staak
  • star
  • strak
  • swaar
  • swak
  • Swakara
  • taak
  • tak
  • tap
  • tas
  • traak
  • trap
  • twak
  • waak
  • waar
  • waks
  • war
  • wars
  • was
  • wat
  • wraak

Lekker neem swartskaap al woordwarrelend op my wraak. Wat maak mens met 72 letterkere. Jy raap al die woorde en probeer Jack Parow rap. Net toe ek ritme kry toe val ek van die #woordwarrelkar. Die idee skrap ek toe liewer. Dis of ek aaptwak gerook het, en nie vir medisinale doeleindes nie. Ek sien net letterkere voor my oë.

So fladder die woorde in my brein rond. Ek skraap maar ‘n tas van die rak in my brein om die woorde in te pak, maar hulle psst-psst tot ek strak en verskrik voor die qwertybord kom sit.

Dit reën al heeldag te lekker. My sielmens mater het kom kuier. Sy vertel my van haar ervarings op haar oupa se karakoel boerdery in Namibië. Het jy geweet van so 2013 af heet dit Swakara boerdery? Suidwes-Afrika Karakoel word Swakara. Karakoel kom van Afghanistan en beteken swart wol.

Swartskaap, swartskaap het jy baie wol. Die pels van veral lammers is gesog. Gaan lees. Dis maar vir my wreed, en gelukkig sal nie eers ‘n velletjie in my sakpas begroting pas nie. Nie eers ‘n parka met so pelsie kraag kan ek bekostig nie. Kan darem nog pasta bekostig. Dis darem lekker en geen dier word in die vervaardiging verniel nie.

Is dit nie wonderlik dat Kaaps nou ook in die Afrikaans-familie sy staning kry nie. Ek is opgewonde om in die meer kleurryke Afrikaans in te tap. Sal net moet waak om nie verkeerd te trap en die annerlike woorde verkeerd gebruik nie. Netnou kom raps die taalpolisie my oor die vingers. Paraat moet mens praat, want net nou net is jy van hoofkaas na swartskaap. Swartskaap eenkant apart.

Jinne, die aaptwak warrel laat my lam. Ek praat nou sommer twak. Ek wil jou nie sar nie. Ek staak nou die relaas.

O, nee wag.

Ek het vergeet. Die liedjie het in die 18e eeue ontspring. Swart kleurstof kon op daardie stadium nie goed produseer word nie. So swart wol was gesog en skaars en swaar belas. Dis ‘n protesliedjie. Oor raap en skraap oorlewing en geldwolwe wat oor rykdom waak. Maar sowaar in die kanselleerkultuur van die moderne mens is die liedjie as rassisties klassifiseer en Yanks en Aussies sing nou so ewe ‘Reënboogskaap, reëboogskaap het jy baie wol‘ om so inklusief as moontlik te wees. Ek is nie op aaptwak nie, gaan lees oor Baa-Baa black sheep. Ek bars sommer in aar, alles gaan oor ras. Ek dink die mensdom het ‘n kap van die windmeul weg.

Nou toe. Ek het nie meer heuning om aan die kwas te smeer om jou nog verder te verlei met my aaptwak oor swartskaap nie. Ek staak dus summier. Netnou kom klap ‘n gesinslid die waks uit my ore…daar is kos op die stoof en die honde knaag al aan die lessenaar se poot.

NS. Dankie aan vandeesweek se mede- #Woordwarrel blogmaters: PerdebytjieKameel, Dis Ekke, onse Hester en ver vriendin Scrapy. Julle laat dié swartskaap altyd in. Aan die ander lesers en loerders: #Woordwarrel is oop, kom speel gerus saam, watter kleur van die reënboog jy voel is. Jy is welkom.