Ek is baie lief vir my kombuis. Hier kook en smook ek na hartelus my liefde vir my mens uit. Die vertrek is groot. In ‘n lang reghoek is die breekgoedkaste en yskaste en kombuistafel en spenskas tuis en dan so om die hoek loop ‘n sloop wat eens ‘n stoep was, met bykans 5 m venster waar die pottekas, stoof en opwasbak spasie met ‘n lekker werkblad deel. Die baie venster maak dat ek meestal kos-gim doen. Dit bak warmer as ‘n sauna in die Laeveld. Ons het die kombuis met sulke sjokoladebruin vertikale blinders geërf. ‘n Yl verweer teen die son se felle aanslag van 12h00 tot sonsaktyd. Maar ek kla nie, ek woon lekker vir jare.

Nou die oggend net so met die eerste lig stap ek om die voëltjiekos te gaan haal en ligprikke in die blinders tref my oog. Daar is ‘n horde gate in die blinders. Ek stap geskok nader. Sal daar ‘n meneer sit en lekker met sy kloue snipper aan nog in blinder. Agt stroke het hy reeds deurgewei. Dit lyk soos ‘n boorkewer van ‘n aard. Ek is nie ‘n kenner nie. Hy is gou met Doomwalms na die anderkant. Faktor is nou sy naam.

Ek wil ontsteld wees. Danksy Covid het ons geldboom ophou oorvloedige vrugte dra. Sommer net vervang wat breek of stukkend raak is lank nie meer hoe ons leef nie. Rots en Bab en ek sit koppe bymekaar. Ons kan die 5m blinders vervang, ons kan gordyne hang, of kom ons sit ‘n afdakkie op. ‘n”Awning” soos die Ingelse sê. Ons kan self die raampie vervaardig, en dan kan ons stoffeervriendin die seiltjie maak. Daar word navorsing gedoen en ons afdak plan is vir ons beperkte begroting sakpas.

Die afdakkie is nou ‘n week op.

Dankie meneer faktor…die lig val mooi danksy jou. Toevallig dat die kewer in die huis kon inglip, nee #ToeValLig, om vir my ‘n nuwe uitkyk te gee.

Die son klits nie meer die vensters raak nie, die vensters is aan kleding naak en oop, wyd oop. Die bergbries vloei nou heerlik daardeur. Die huis is koeler. My kos-gimmery op ‘n einde.

Vreugde om die natuur te kan sien terwyl die seepborrels in die opwasbak reënboog, en ek ook hoop in die opwasbak kan raak lees. Laat jou liggie skyn.