“Kan jy ‘n lekker nuutskepping met “spook” bedink? Vertel ons daarvan”, is Hester se #woordwarrel inspirasievonk.
Onse liewe Hester #woordwarrel al ‘n ruk by spook rond, en ek sit en wonder of haar Noord-Kaapse herkoms iets daarmee te doen het. Jy kan gaan luister wat ‘n spookstorieskatkis is in haar grootword omtes opgeneem. Die Afrikaanse Taalmuseum en -monument (ATM) is al sedert 2008 met ʼn mondelinge oorleweringsprojek in die Noord-Kaap besig. Klomp unieke verhale is opgeneem, ook verskeie en is talle verhale opgeteken, waaronder tale spookstories. Gaan kuier daar.
Nou ja, wat warrel in my verbeelding rond as ek aan ‘spook’ nuwe betekenis wil gee. Daar is lekker spookwoorde oral opgeteken. Spookuur, spookskrywer, spookmaer, spookpersoneel. Hier volg my #woordwarrel spook skeppings:
Kreeërspook

(Photo by Sachith Ravishka Kodikara on Pexels.com)
Dis nou ‘n baie persoonlike spook. Dis hy wat mens tart en pes elke keer as ‘n skryfsel of skildery of gedig of skets by mens opkom en jy doen net mooi bokkerôl daaromtrent. Hy karring helderoordag, en dis hy wat die woordkonfetti jou brein vol spatter. Jy skuif hom eenkant, want die huis is vuil, die tuin moet natgemaak word, die honde moet gebad word. Jy kan nie nou gaan gat op stoel voor die qwertybord gaan sit nie. Die kreeërspook maak ‘n hol kol op my maag wakker, want ek gaan vergeet wat ek wil neerpen, of vertel. Daar is ook nie tyd om die spook te laat rus nie, jy hou toe nie ‘n notaboekie en pen byderhand as die idee manifesteer nie. Iemand het my vertel dat daar nog iets beter as die kreeërspook is om mens na jou verfkwas of pen te laat gryp. Die man het in sy laatjare begin skilder na ‘n droom. Hy vertel hy droom hy is in die hemel. Die Skepper van alles stap saam, dis ‘n uitstalling van die mooiste kunswerke. Hy verwonder hom en vra wie die skilder is. Die antwoord: “Alles wat jy nie geskilder het nie.” Die man vertel hy het na veertig jaar sy kwaste en esel uitgepluk en nog nie ophou skep nie! Praat van ‘n wekroep!
Onthouspook, koesterspook en spytspook

(Photo by A Koolshooter on Pexels.com)
Dié trio spoke is nou verwant aan mekaar, maar elkeen spook lekker op sy eie manier.
Die onthouspook kom sukkel veral in tye soos ons huidige omstandighede. Hy is so ‘n liegbek. Maak mens wys dinge was beter in die verlede. Laat jou na alles om jou kyk met ‘n gitswartbril, al wanneer hy rooskleur voorhou is in onthou. Pfft.
Koesterspook, is daai gunsteling dorinkie wat jy diep wegbêre, en met niemand deel nie, behalwe nou as hy begin kriewel. Dan ontgeld mens en dier om jou sy pyn. Jy weet partykeer nie eens hy is die oorsaak nie. So het ek gister, omdat my koesterspook nou verwant is aan verbeelde gevoelens verwerping en van geen belang en nie die moeite werd om gehoor te word nie, ‘n muffinpan krom geslaan. Tot my skande!
Ou spytspook. Hy hou van monoloë laat in die nag. Al die goed in sy tassie pak hy netjies uit tot mens helder wakker die donkerte instaar. Al die sê nou net, wat as, het ek maar, ek moes nie en daai monstertjies sit en bene swaai en spytspook gesels te lekker. Mens kry nie boe of ba uit nie. As die son opkom, staan mens spookbleek op en mis die moontlikhede van ‘n nuwe dag om oor te begin.
Apartheidspook
FW de Klerk se afsterwe laat my dink aan die ou apartheidspook wat maar nie tot rus wil kom nie. Hy is so aan die gang dat hy nou al by die begin van die mensdom al sy draaie maak. Hy het tentakels, en het vreeslike speelmaats vir hom byeen geskaar. Mens weet nie rêrig wat om met hom te maak nie. FW se bewende, bykans sterwens apologie het klomp reaksies ontketen en weer rowe afgeruk oor daar meer vrae as antwoorde is en geen adres waar mens kan aanklop om klarigheid te kry nie. Askies word byna nêrens voetstoots aanvaar nie.
Spookgesienbleek en spookasemreën
Moeder Natuur is omgesukkel die laaste paar jaar. Die aanvang van wat ons somerreën seisoen moet wees is ‘n deurmekaarspul. Hier kom winde op wat om die huis kom skril en skreeu, skade berokken. Donderweer wat mens spookgesienbleek laat, krag wat uitgeslaan word en bome wat ontwortel. Dan, na al die drama kom sak spookasemreën uit. Kortstondige en vervlietend. More brand die son die bietjie genade douvoordag al weg.
Net so laaste ‘spook’ ding. Saamtrekspook: Verandering van lewenswyse of gewoonte beteken nie noodwendig dat vorige probleme afgeskud is nie. Om spoke te besweer, verg moed en deursettingsvermoë net daar waar jy is. Weghol en ignoreer, kan mens nie, die spook kom saam.
Ek is nou lekker uitgespook en klaar gewarrel. Mooi loop en dankie dat jy kom inloer het! Kom #Woordwarrel saam.
———————————–
Hierdie bloguitdaging word gesamentlik aangebied deur https://hesterleynel.co.za en https://lekkervurigeaffere.blog/.
Hoe dit werk:
Die aanbieders sal om die beurt elke Donderdag voor twaalfuur ‘n inspirasievonk in die vorm van ʼn spreuk, spreekwoord, gesegde, vreemde woord, of nuutskepping op haar blog plaas om die uitdaging af te skop.
Deelnemers word genooi om die vonk te gebruik en net eenvoudig te laat waai – gaan net daar waar die woordmuse en jou gedagtestrome jou lei in ’n malse maalkolk, in stroomversnellings, in stil waters of in ruisende valle, vlak of diep.
Daar is geen beperkinge op die tipe skryfsel wat jy wil pleeg nie. Skryf min woorde of baie, ‘n haikoe of enkelreël, opstel, gedig, resep of wat ook al die inspirasievonk losgeskop het in jou skrywersbrein.
Oopbek en loshande is die enigste reël.
- Publiseer jou bydrae voor of op die Sondag wat volg op die datum van die uitnodiging.
- Plaas die skakel van jou bydrae in die kommentaarblokkie (“comments section”) onderaan die blog waarin die inspirasievonk verskaf word om te verseker dat daar ‘n terugskakeling (“pingback”) na jou inskrywing sal wees wat deur ander lesers gevolg kan word.
- Jy mag dit makliker vind om die twee aanbieders se blogs te volg om te verseker dat jy nie die inspirasievonk vir die week misloop nie.
- Plaas gerus ‘n kopie van ons Woordwarrel-logo bo-aan of binne-in jou blog, sodat ander skrywers weet dat jou bydrae deel vorm van hierdie uitdaging.
- Gebruik die hutsmerke #Woordwarrel #Afrikaans
Laat waai en geniet dit.
Lekker “gekreëer” met spookwoorde. Sommige spoke wil nooit tot ruste kom nie.
Uitstekend geskryf, Erna!
LikeLiked by 1 person
Dankie Dina. Ja, daai onafgehandelde goed se spoke kan knaend wees.
LikeLiked by 1 person
Lekkervurige ou ding, jy weet hoe om te kreëer met die geringste aanmoediging (en soms sonder enige aanmoediging ook). Jou verbeelding het weer galop en ek het dit geniet. Daai trio is my gunstelinge – ek ken hulle almal intiem en nou by die naam ook. Dankie vir die skakel na my kontrei se stories ek gaan nou oorfone inprop en gaat skuinslê.
LikeLiked by 1 person
Ek is bly by my hartjie as #woordwarrel jou plesier gee. Ek dink die spooktrio moet lesse geleer word. Geniet die luister uit jou kontrei.😘
LikeLiked by 1 person
Genade maar jy het darem weer daardie spoke laat spook hier op jou werf. Ek oortree op oomblik deur te sit en werk totdat ek wil omval. Dis al verby bedtyd.(eintlik spook ek om my jaar se geskryfde stukke in my boek vir die skryfgroep te verenig. Moet dit die week ingee) Jou Werkspook gaan beslis vannag in my kop rondloop.
LikeLiked by 1 person
Sterkte Scrapy. Hester moet die blaam vir die spookwarrel kry…😉
LikeLike
Haha hy het beslis gisternag gespook hier by my.
LikeLiked by 1 person