Die woord wat my sintuie aanskakel is ‘windpomp‘ Eintlik is dit ‘lekker’, maar hierdie liefwoord het ek lankal in my blog aangeteken. Doer toe die Bokke die konings van die wêreld geword het, en ons nog niks van Covid en mislikepale verkiesings geweet het nie. Gaan lees.

Jy weet, die Iere het ‘n doodsbode. Banshee. Sy is rooioog gehuil en haar stem skrei ten hemele. As sy kom besoek kan jy weet dis kisboude met iemand in daai omte.

Nou ek het vir julle al vertel van Waterval se mannetjieswinde wat testosteroon woedend die palmtakke afruk en oral smyt. Vrydagaand kom hier ‘n storm van formaat op. Binne minute sommer vir ons in die stikdonkerte. Dit net na Eishkom reeds hulle ding gedoen het. Ons gee nie om nie want broodnodige stikstofbelaaide druppels val – 30mm.

Ons gaan slaap en in die nanag maak die skril getjier van die geroeste speel-speel windpompie in die kruietuin neffens die kombuis my wakker. Maar daar is ook ‘n ander vreesaanjende skril. Ek hoendervleis, my nekhare staan regop, my hart klop tjoklits. Ek sweer ek ruik swawel. Dis ‘n helse geluid. Die blinders in die kombuis staan horisontaal en hier is die geskril op die felste. Ek spartel om die ventster toe te kry. Die windfeeks het haar volmag hier kom vestig. Terwyl ek stoei voel ek hoe sy soos haar doodsbode Ierse vriendin kom nuus gee van skade aan mens, dier en natuur.

Sy skrei dat my oortromme rittel, my stopsels wat ek nie meer het nie, skok. So vinnig as wat sy kom toeslaan het met haar lang kloue en wilde hare, neem sy die wyk. ‘n Onheilige stilte laat sy na. Toe die son opkom is dit takke en voëlnessies en verstopte geute en lekkende plafon wat ons begroet. So windfeeks, sy! Blêrrie banshee se niggie. Ban haar sommer terug na Ierland.

Windpomp warrel my gedagtes ook terug na ‘n plek genaamd Frischgewaagd, net buite die nou vreeslik vervalle Bethal in Mpumalanga. Dis ‘n plaas waar ons ‘n mooie sandsteen, stoepomringde huis gehuur het. Jonk getroud, so net bo die broodlyn kerkmuiserig. Sien, ek moes my werk by die plaaslike koerant bedank toe ek swanger raak. Joernaliste kan nie ‘n lewe hê nie. Sulke chauviniste. Ons het nie daai dae Afriforum en die CCMA gehad nie. Jy het maar alleen by die asblik jou bra gebrand.

Ek dwaal alweer af. Die sandsteen huis en skuur, was een van die eerste skoolterreine in Bethal omgewing. Die huis was die skoolmeester s’n en die skuur was die skoolgebou. Die plaas het geen elektrisiteit nie. Daar was ‘n listertjie in ‘n enjinkamer so ent van die huis. Die water word voorsien deur ‘n windpomp. Die stoof is ‘n AGA. Ons kan die huur bekostig en dis ‘n avontuur. Ons het so grootgeword. Waarom sal ons nou bang wees om basies te leef?

Ons lê groentetuin aan, en gou het ons boontjies, tamaties, pampoen, spinasie. Watwou kerkmuis. Ons is trots en opgewonde. My lekkerste onthou is een aand toe ek in die sagte kerslig in die pootjiesbad lê en my Bab die eerste keer vlinder. Die water in my naeltjie het so gebewe. Toe weet ek my baba is rerig erig. Rots en ek het lekker gelaghuil.

So stap die tyd aan en hoogswanger kry mens mos so energieskop ala RedBull. Ek klim boep op die kombuiskaste om die reuse vensterraam te verf, ek plak kurkteëls bo die wasbak en kaste. Ek skrop venster. Skrop nes, noem die oumas dit. Die tyd vir Bab se aankoms is naby. Die tuinier sny gras met die petrolmasjientjie, ek spuit tuin nat. Dis windstil. Die skoon linne en gordyne op die wasgoeddraad hang roerloos. Die windpomp staan wag. Stip en stil.

Die plaaslyn lui verbreek die stilte. Drie kortes en ‘n lange. Dis vir ons. Ek gaan antwoord. Dis my skoonma. Dit was toe sy en ek nog aan mekaar geskaaf het. Sy beskermend teenoor haar seun, ek moedswillige weeskind. Sy wil kom kuier.

“Maar Ma, jy kom dan wanneer die baba gebore word,” protesteer ek. Sy vat g’n nee van my nie.

“Ek sal more arriveer,” groet sy.

Einde van die storie. Ek staan hand in die sy met die spreekbuis in my hand. Smyt hom neer op die mikkie. Pfft. En skielik besef ek die derde persoon in die huis gaan water gebruik. Bad, toilet, tee. Jinne, sy kon tee drink, my skoonma!

Ek stap kombuis toe. Die waterdruk is reeds kleinserig flou. Die wind sal sekerlik begin waai, dan sal die windpomp draai en dan tap die tenk vol troos ek myself. Ag nou ja. Jy moet tog nooit aan waagspele met my deelneem nie. Vergeet van dit as ek in die omgewing is. Ek kry nooit sulke gelukkies nie. Nie die kerklys nie, nie dobbel nie, nie wen lottokaartjies nie. Wat ek gedink het toe ek myself moed inpraat dat die windpomp sou begin draai op daai windstil dag, weet net die hemel. Die winde het hulle tome ingetrek en ver op die horison vir my groeiende benoudheid gesit en lag. Wyl ek hoopvol benoud vir ‘n wonderwerk wag. Blikslaers. Teen sonsak, nog nie ‘n piep uit die windpomp nie.

Rots kry my nie getroos nie. Ek snik en huil en hy vertel my weer dat my skoonma sulke omstandighede ken. Sy het vier orrelpypies in net sulke wonings moes groot kry, en hier is een dan nou reg voor my. Dit help niks, ek snik net harder. Sy gaan alles wat ek dink sy dink, van my bevestig. Dat ek vreemd, vuil en sleg is. Swanger vrou sonder water in haar huis. O die skande! (Jinne, ek sit en lag vir jong ek, skoon simpel. Die lewe is maar net soos dit is. Belangriker om sielsvrede met goed buite jou beheer te hê.)

Ons gaan slaap en vroegdag toe Rots gaan werk, gaan kniel ek by die windpomp. Ek het vir die Here mooi vertel dat ek wees op aarde is en Hy my enigste Pa is, en Hy weet hoe ek en my skonie so skuur aan mekaar, maar kan Hy assegrootblief die winde aanjaag sodat die tenk tog net volkom en my huis se water sterk loop en my skoonma skoon kan bly. Vredesonthalwe. Ek sukkel boepensgroot op en gaan kop en stert en trek een van my sirkustente aan. Rots het my toonnaels vir my geverf. Die voëltjies sing, die honde blaf. Die bloekoms en die windpomp roer nie. Laatoggend kom daar ‘n stofstreep padlangs. Die rooi golfie met my silwergryse statige skoonmoeder agter die stuur.

“Die tuin lyk mooi,” groet sy.

“Dankie,” sê ek. My vingers agter my rug gekruis. As jy net weet, ek het jou badwater op die gras uitgemors dink ek by myself.

So sleep die dag aan, Rots kom huistoe en braai vleis. Jinne, ek kon nie vleis se reuk uitstaan nie. Ek kon sweer Bab gaan ‘n vegetariër wees. Toe nie. Karnivoor van formaat.

Ek maak verskoning oor die waterbeperkings wat ingestel moet word. “My kind, dis nie om te bad dat ek kom kuier nie. Ons saamwees is belangriker. Niks te kommer nie,” troos skoonma. My bek is toe. My wat asse warrel weg. Ek hou van die kwaai vrou.

Daardie nag maak ‘n tjier geluid my wakker. Ek gaan saggies buitentoe en kniel voor die windpomp. “Dankie Pa.” My trane loop oor saam met die watertenk. Les geleer en ‘n ent in my skoonma se liefhê ingegroei.

—————————————-

Hierdie bloguitdaging word gesamentlik aangebied deur https://hesterleynel.co.za en https://lekkervurigeaffere.blog/.

Hoe dit werk:

Die aanbieders sal om die beurt elke Donderdag voor twaalfuur ‘n inspirasievonk in die vorm van ʼn spreuk, spreekwoord, gesegde, vreemde woord, of nuutskepping op haar blog plaas om die uitdaging af te skop.

Deelnemers word genooi om die vonk te gebruik en net eenvoudig te laat waai – gaan net daar waar die woordmuse en jou gedagtestrome jou lei in ’n malse maalkolk, in stroomversnellings, in stil waters of in ruisende valle, vlak of diep.

Daar is geen beperkinge op die tipe skryfsel wat jy wil pleeg nie. Skryf min woorde of baie, ‘n haikoe of enkelreël, opstel, gedig, resep of wat ook al die inspirasievonk losgeskop het in jou skrywersbrein.

Oopbek en loshande is die enigste reël.

  • Publiseer jou bydrae voor of op die Sondag wat volg op die datum van die uitnodiging.
  • Plaas die skakel van jou bydrae in die kommentaarblokkie (“comments section”) onderaan die blog waarin die inspirasievonk verskaf word om te verseker dat daar ‘n terugskakeling (“pingback”) na jou inskrywing sal wees wat deur ander lesers gevolg kan word.
  • Jy mag dit makliker vind om die twee aanbieders se blogs te volg om te verseker dat jy nie die inspirasievonk vir die week misloop nie.
  • Plaas gerus ‘n kopie van ons Woordwarrel-logo bo-aan of binne-in jou blog, sodat ander skrywers weet dat jou bydrae deel vorm van hierdie uitdaging.
  • Gebruik die hutsmerke #Woordwarrel #Afrikaans

Laai waai en geniet dit.

Die plasing Woordwarrel: Donderdag inspirasievonk 4 November 2021 het eerste verskyn in die blog Lekkervurigeaffere. Gaan skakel jou #Woordwarrel in die kommentare.