Stemdag in Suid-Afrika het gekom en gegaan, en die politici van die land sal moet leer om soet saam in die mislikepaliteit sandput te speel, anners bly poefies in die strate ons voorland. Oe, my kop warrel in alle rigtings vandag. My sintuie speel te lekker saam.

Omstrede polisie generaal, Jeremy Veary, is ‘n puik skrywer en sy memoir Jeremy vannie Elsies is ‘n belewenis. ‘n gunsteling passasie is waar sy ma uit radeloosheid haar kind uitdaag: “Hoe ruik vars melk.”

Ma het mettertyd van hierdie kreatiwiteit te hore gekom maar het dit as ’n leergeleentheid benut. Ek moes later daagliks vir haar alles van ’n boom tot ’n skaap in vyf sinne beskryf met soveel byvoeglike naamwoorde as moontlik. Maar die een beskrywing wat my gepootjie het, was hoe om Ma se vraag “Hoe ruik vars melk?” te beantwoord. Merle het egter hierdie vraag eendag by die melkery beantwoord. Soos gewoonlik het die spierwit melkery se stal daardie dag gewemel van melkers in wit oorpakke op driepootstoeltjies wat onder koeie met oorvol uiers oor vaal blikemmers worstel om soveel as moontlik gedoen te kry voor die koeie te onrustig raak. Die voorman besluit toe juis op so ’n woelige dag om my te leer hoe om ’n koei te melk. Hy streel eers die koei om haar te kalmeer voordat ek agter haar uier gaan sit. Toe ruik hy haar asem, knik instemmend en kom sit langs my. Met sy eerste trek aan die speen spuit ’n stroom melk luidrugtig in die blikemmer. Daarna neem ek oor, gryp volgreep die twee agterspene en begin melk. Die melk spuit chaoties teen ’n geweldige pas orals buite die emmer en die voorman maan dat melkery nie ’n geveg van eiewil tussen mens en koei is nie. Op sy advies maak ek my oë vir ’n wyle toe en begin versigtig melk, totdat die ritme tussen die koei se vloei en my trek aan die spene een word. Die warm, klewerige roomgeel stroop wat onder my hande uitvloei, voel glad nie soos waterige spierwit winkelmelk nie. Die sterk reuk daarvan is ook nie dié van winkelmelk nie maar ek kry dit nie uitgepluis nie. Ná ’n paar minute vloei die stroom stadiger, die uiere swelling sak en vertikale rimpels begin diep daarop plooi. Die voorman beslis dat die koei uitgemelk is en die emmer word verwyder. Nou is dit tyd vir afroom maar ek is ongeduldig. Ek skep ’n handvol room van bo af en snuif daaraan maar niks ruik bekend nie. Merle staan nader en snuffel versigtig. “Warm soetpap,” verklaar sy en proe ’n handvol. Ek weet tot vandag toe nie of vars melk wel soos warm soetpap ruik nie maar dié antwoord was goed genoeg vir Ma.

Uittreksel uit ‘Jeremy vannie Elsies’ deur Jeremy Veary

So woordwarrel met al jou sintuie en vertel vir my wat sien, hoor, voel, proe en ruik jy as jy hierna kyk?

Hierdie bloguitdaging word gesamentlik aangebied deur https://hesterleynel.co.za en https://lekkervurigeaffere.blog/.

Hoe dit werk:

Die aanbieders sal om die beurt elke Donderdag voor twaalfuur ‘n inspirasievonk in die vorm van ʼn spreuk, spreekwoord, gesegde, vreemde woord, of nuutskepping op haar blog plaas om die uitdaging af te skop.

Deelnemers word genooi om die vonk te gebruik en net eenvoudig te laat waai – gaan net daar waar die woordmuse en jou gedagtestrome jou lei in ’n malse maalkolk, in stroomversnellings, in stil waters of in ruisende valle, vlak of diep.

Daar is geen beperkinge op die tipe skryfsel wat jy wil pleeg nie. Skryf min woorde of baie, ‘n haikoe of enkelreël, opstel, gedig, resep of wat ook al die inspirasievonk losgeskop het in jou skrywersbrein.

Oopbek en loshande is die enigste reël.

  • Publiseer jou bydrae voor of op die Sondag wat volg op die datum van die uitnodiging.
  • Plaas die skakel van jou bydrae in die kommentaarblokkie (“comments section”) onderaan die blog waarin die inspirasievonk verskaf word om te verseker dat daar ‘n terugskakeling (“pingback”) na jou inskrywing sal wees wat deur ander lesers gevolg kan word.
  • Jy mag dit makliker vind om die twee aanbieders se blogs te volg om te verseker dat jy nie die inspirasievonk vir die week misloop nie.
  • Plaas gerus ‘n kopie van ons Woordwarrel-logo bo-aan of binne-in jou blog, sodat ander skrywers weet dat jou bydrae deel vorm van hierdie uitdaging.
  • Gebruik die hutsmerke #Woordwarrel #Afrikaans

Laai waai en geniet dit.

Die plasing Woordwarrel: Donderdag inspirasievonk 4 November 2021 het eerste verskyn in die blog Lekkervurigeaffere. Gaan skakel jou #Woordwarrel in die kommentare.