Vroegoggend stap ek om die stoepdeur vir die Waterval brakbende oop te maak. Bab het vroeg opgestaan om werk te doen en die lampie by die deur brand. In die ligkring op die mat sit ‘n bidsprinkaan, kloutjies biddend tesame.

“Haai jong, jy sit en bid voor mensgemaakte lig, kom saam, dan groet en bid ons buite in die nuwe dag se son,” vertel ek en buk af en hou my hand. Sowaar, bidsprinkaan klim op my vinger. Rustig, asof sy weet. Of was dit ‘n hy? Sal nie weet nie. Kanse is goed dis ‘n sy. Die manne word mos opgevreet na hulle bydrae vir die nageslag. Word vir die einste nageslag kos.

Ons maak ‘n u-draai en ek maak verskoning vir die ompad. Moet my fountjie gaan haal om die saamkuier af te neem. Bidsprinkaan is heel rustig en gou is ons buite. Ons twee, en die bosveldson wat straal. “Kyk, dis vir hierdie lig wat mens en bidsprinkaan moet dankie bid,” vertel ek my metgesel. Dit was ‘n heilige stil oomblik.

Bidspringkaan het handjies gevou en ek het dankie gesê vir wonderwerke klein en groot. Ek word uit my mymering geruk toe my maatjie so ewe my arm opklouter en so die koppie skuins draai, asof sy dankie se, en in die sonlig wegvlieg.

Op 25 Januarie vanjaar het ek ‘n bidboom, waar daar elke wakker uur ‘n kers brand, in die kombuis staan gemaak. Elke oggend en deur die dag word liefmense, slagoffers aan Covid, gesondheidswerkers en ons eie versugtinge hemelwaarts gestuur. Nie lank na my tuin ervaring nie, kry ek sowaar weer ‘n bidsprinkaan. By die kers.

Het jy geweet bidsprinkane hoor met hulle harte. Ag oukei, die enigste oor sit onderkant die buik, net voor die agterpote. Vir my klink dit naby aan waar die hart sou wees. Ek sit en dink hoe wonderlik sal dit wees as ons só gehoor het. Ons mensekinners hoor mos meestal om te reageer, nie om hartlik te luister nie.

Die Khoi glo die bidsprinkaan simboliseer God, en hulle bejeën die insek met heilige agting en let op waar, wanneer en hoe die boodskapper jou pad kruis. Daar is ‘n boodskap te vinde. Ek moet bely my ontmoetings het my tot rustigheid getem en dankbaarheid wat ek kon sien en hoor en voel.

Ons spot te maklik oor die vreeslike vroulike bidsprinkane se wreedheid, kilheid en listigheid, ons het jare gelede lekker gespot in blogland. Wetenskaplikes meen dit darem net 30% van die tyd!

Die insek laat my dink aan stilte, kalmte, geduld, intuisie, ewewigtigheid en dan ook volkome fokus, helderheid en doelgerigtheid. Meeste van alles hou ek van hulle horende harte. Kan ons maar by hulle leer en op mekaar se emosiefrekwensies ingestel leef en verstaan.