Vroegoggend stap ek om die stoepdeur vir die Waterval brakbende oop te maak. Bab het vroeg opgestaan om werk te doen en die lampie by die deur brand. In die ligkring op die mat sit ‘n bidsprinkaan, kloutjies biddend tesame.
“Haai jong, jy sit en bid voor mensgemaakte lig, kom saam, dan groet en bid ons buite in die nuwe dag se son,” vertel ek en buk af en hou my hand. Sowaar, bidsprinkaan klim op my vinger. Rustig, asof sy weet. Of was dit ‘n hy? Sal nie weet nie. Kanse is goed dis ‘n sy. Die manne word mos opgevreet na hulle bydrae vir die nageslag. Word vir die einste nageslag kos.
Ons maak ‘n u-draai en ek maak verskoning vir die ompad. Moet my fountjie gaan haal om die saamkuier af te neem. Bidsprinkaan is heel rustig en gou is ons buite. Ons twee, en die bosveldson wat straal. “Kyk, dis vir hierdie lig wat mens en bidsprinkaan moet dankie bid,” vertel ek my metgesel. Dit was ‘n heilige stil oomblik.


Bidspringkaan het handjies gevou en ek het dankie gesê vir wonderwerke klein en groot. Ek word uit my mymering geruk toe my maatjie so ewe my arm opklouter en so die koppie skuins draai, asof sy dankie se, en in die sonlig wegvlieg.
Op 25 Januarie vanjaar het ek ‘n bidboom, waar daar elke wakker uur ‘n kers brand, in die kombuis staan gemaak. Elke oggend en deur die dag word liefmense, slagoffers aan Covid, gesondheidswerkers en ons eie versugtinge hemelwaarts gestuur. Nie lank na my tuin ervaring nie, kry ek sowaar weer ‘n bidsprinkaan. By die kers.


Het jy geweet bidsprinkane hoor met hulle harte. Ag oukei, die enigste oor sit onderkant die buik, net voor die agterpote. Vir my klink dit naby aan waar die hart sou wees. Ek sit en dink hoe wonderlik sal dit wees as ons só gehoor het. Ons mensekinners hoor mos meestal om te reageer, nie om hartlik te luister nie.
Die Khoi glo die bidsprinkaan simboliseer God, en hulle bejeën die insek met heilige agting en let op waar, wanneer en hoe die boodskapper jou pad kruis. Daar is ‘n boodskap te vinde. Ek moet bely my ontmoetings het my tot rustigheid getem en dankbaarheid wat ek kon sien en hoor en voel.
Ons spot te maklik oor die vreeslike vroulike bidsprinkane se wreedheid, kilheid en listigheid, ons het jare gelede lekker gespot in blogland. Wetenskaplikes meen dit darem net 30% van die tyd!
Die insek laat my dink aan stilte, kalmte, geduld, intuisie, ewewigtigheid en dan ook volkome fokus, helderheid en doelgerigtheid. Meeste van alles hou ek van hulle horende harte. Kan ons maar by hulle leer en op mekaar se emosiefrekwensies ingestel leef en verstaan.
Die Here maak mooi!
LikeLiked by 1 person
Hy doen nè.
LikeLike
Ongelooflike mooi skrywe, soos net jy kan! Pragtige foto’s.
Nou wil ek net weet, is hotnotsgot steeds ‘n toelaatbare naam of is dit taboe?
LikeLiked by 1 person
Dis taboe my maat. Bidsprinkaan of Mantis is nou sy naam.
LikeLiked by 1 person
Dit is darem baie mooier. 🙈🙊
LikeLiked by 1 person
Dis ‘n mooi skryfsel Lekkervurig. So ‘n bietjie verstaan en verdraagsaamheid kan ‘n lang pad loop om vrede te bewerkstellig – dis ‘n les wat die nattur ons elke keer loop. Mooi foto’s.
LikeLiked by 1 person
Antwoorde kom soms lank na mens hulle nodig. So leer mens.
LikeLiked by 1 person
Aaa, ek is so bly jy skryf weer…
LikeLiked by 1 person
Dis skoon vreemd terug in die spasie. Ek is kinnerlik verheug jy kom kuier by my.
LikeLiked by 1 person
Jy sien die klein dingetjies raak, so mooi en raak geskryf
LikeLiked by 1 person
Hallo. Dankie vir jou kuier by my. Die kleiner kyk kom van ure alleen met brakke en plaastuin as geselskap.
LikeLiked by 1 person
Ek het gisteraand laat halfpad gelees en na fotos gekyk toe moes ek ophou want mens moet nie sommer haastig jou stuk lees nie. Vanoggend het ek gaan sit en ingedrink wat jy alles geskryf het. Ek is ook mal oor die bidsprinkaan. Kan ure na hom/haar kyk soos sy sit armpies gevou en koppie wat draai om beter te kan sien. Ons het hier eie NZ bidsprinkaan. Nou eers gaan oplees. Ons mantis het ‘n pers kol op sy binne voorbene. Nou lees ek toe sommer hier is ‘n tweede SA mantis wat moontlik 1978 ingekom het wat nou as ‘n eie aan NZ beskou word. Interessante was toe die naam Miomantis caffra Saussure. https://www.landcareresearch.co.nz/tools-and-resources/identification/what-is-this-bug/south-african-praying-mantis/
LikeLike
Dis interessant. Die mantis se gehoor is op vlermuis frekwensie ingestel, oorlewing ter wille. Daai oge kan 180 grade draai. O gits, die geliefde goggabie toor met ons twee.
LikeLiked by 1 person
Maar dis waar, hy is beslis ‘n wonderlike insek. Jy het nog ekstra waarde vir my bygevoeg met jou manier hoe jy die outjie so beleef daar op jou vinger en bidboompie.
LikeLiked by 1 person
Drukkies
LikeLike
Dankie ou mater soos jy sou sê ek mis so gereeld ‘n diebare vriendin om mee te praat. Het al eintlik afgeleer om te praat oor hoe ek diep binne voel en dinge beleef.
LikeLiked by 1 person
Jy weet waar ek is. Drukke.
LikeLike
Dankie, jy’s ‘n steunpilaar.
LikeLiked by 1 person
Pragtige fotos, jou vertel maak my teer om die hart.
LikeLike
Dankie dat jy kom kuier. Die ou goggabies hou ‘n spesiale spasie in my lewe.
LikeLiked by 1 person