
Nou ja toe. Hier is ons weer met iets lekker, uniek om ons mooiste, liefste taal te bevorder. Dankie Hester dat jy ons uit ons covid geperkte skryf hiatus kom haal het met #Woordwarrel. Met formaliteite afgehandel, plons ek dan summier in die woordstroom met nuutskeppings as my reddingsboei.
Vandag(16 Oktober ) sestig jaar gelede het woordmaestro, Fanus Rautenbach, sy eerste Flinkveria program uitgesaai. Ek het nou nie as driejarige die uitsending gehoor nie, maar later jare was Fanus en Oupa en ekke smorens vroeg saam wyl die ketel op die Aga stoof ritteldans. Oe, hoe Fanus Afrikaans gebesig het was vir my te wonderlik. My gesin praat nou nog van sinus as sinies! Fanus se skuld.
Wat ek by Fanus geleer het is dat mens jou eie Afrikaans mag en kan praat en skrywe. Dis jou vingerafdruk en unieke bydrae om ons taal lewend, geliefd en veerkragtig hou. Daar is soveel maniere waarop mense se omtes en leefwêreld in taal tot uiting kom. Ryke teelaarde vir nuutskeppings.
Terwyl ek so woordstroom op dobber, onthou ek ‘n nog wonderlike woordmeester. Ek het ‘n artikel gebêre wat in 2018 geskrywe is. Hierin word nimlike Coenie de Villiers as ‘n meester woordsjef beskrywe. Die artikelskrywer, Gerhard van Huyssteen vertel so: “En sy bydrae tot Afrikaans se woordeskat? Ek loop bou ʼn klein korpussie van die lirieke van maar slegs 67 van sy liedjies, in totaal amper-amper 12 000 woorde. Hierin kry ek 57 woorde wat nie elders in ʼn groot korpus van 50 miljoen woorde voorkom nie; dus byna een nuwe woord per liedjie! Laat Coenie se nuutskeppings dié naweek lêplek in jou mond loop vind: moerbeibloed, soldatehemel en pomelomaan; opslagsomer, Winterkaap en randjiesveld; kaneelverkoper, fluweelsnoet en blommejas
Almiskie is Coenie ons eie Willem Wikkelspies!
Ek het met groot opgewondenheid Viva se Varsgebek (Is dit nou nie ‘n beter naam vir nuutskepping nie!) gevolg. Ai die kostelike en raakvat nuutskeppings het vir my groot plesier verskaf. Ons klomp blogmaats het ywerig nuutskeppings ingespan danksy ons rasieleier Hester! As jy lus het lees hier hoe lekker ek en die maats gespeel het:
En toe kom 2020. Covid-19 keer ons leefwêrelde om en ‘n rits nuutskeppings oorval ons saam met die virusvrese. Klomp mense word coviddose, doen stormkopies, toiletpapier word moetgoed en ons dra smoelkappies. Dis vandag 18 maande of as jy wil 81 weke of eerder 567 dae, van kamtige ‘nuwe normaal’ Vandeesweek se nuutskepping is ‘ploeterpakkie’

Ek wag opgewonde op die dag dat ‘covidiote’ die Corona nuutskepping lys haal. Covidiote sal mense insluit wat ongegronde stellings maak, wat fopnuus versprei, wat stoepid besluite neem omdat hulle die kat aan die stert beet het. Ek is seker die leksikograwe en mense soos Viva se Byl, Sophia Kapp, kan die woord beter as ek omskrywe. Hy rol lekker oor die tong. Die krediet hoort aan die ontstelde arts wat die anti-vaksers in Kaapstad aangevat het.

(Foto: Netwerk 24 – Augustus 2021)
Die Covid-19 woordeboek is pure nuutskepping plesier. Dit het hierdie blog van my inspireer: Pandemieprosa ala Lekkervurig.
Kom spring saam in, laat daai woorde wat soos confetti in jou gedagtes warrel, rigting via die qwertysleutels van jou slimfoon of tablet of rekenaar die wye wêreld in. Afrikaans ter wille, daar is lemme vir haar uit. Dit kan nie toegelaat word nie!
Hierdie bloguitdaging word gesamentlik aangebied deur https://hesterleynel.co.za en https://lekkervurigeaffere.blog/.
Hoe dit werk:
Die aanbieders sal om die beurt elke Donderdag voor twaalfuur ‘n inspirasievonk in die vorm van ʼn spreuk, spreekwoord, gesegde, vreemde woord, of nuutskepping op haar blog plaas om die uitdaging af te skop.
Deelnemers word genooi om die vonk te gebruik en net eenvoudig te laat waai – gaan net daar waar die woordmuse en jou gedagtestrome jou lei in ’n malse maalkolk, in stroomversnellings, in stil waters of in ruisende valle, vlak of diep.
Daar is geen beperkinge op die tipe skryfsel wat jy wil pleeg nie. Skryf min woorde of baie, ‘n haikoe of enkelreël, opstel, gedig, resep of wat ook al die inspirasievonk losgeskop het in jou skrywersbrein.
Oopbek en loshande is die enigste reël.
- Publiseer jou bydrae voor of op die Sondag wat volg op die datum van die uitnodiging.
- Plaas die skakel van jou bydrae in die kommentaarblokkie (“comments section”) onderaan die blog waarin die inspirasievonk verskaf word om te verseker dat daar ‘n terugskakeling (“pingback”) na jou inskrywing sal wees wat deur ander lesers gevolg kan word.
- Jy mag dit makliker vind om die twee aanbieders se blogs te volg om te verseker dat jy nie die inspirasievonk vir die week misloop nie.
- Plaas gerus ‘n kopie van ons Woordwarrel-logo bo-aan of binne-in jou blog, sodat ander skrywers weet dat jou bydrae deel vorm van hierdie uitdaging.
- Gebruik die hutsmerke #Woordwarrel #Afrikaans
Laai waai en geniet dit.
Die plasing Woordwarrel: Donderdag inspirasievonk 14 Okt 2021 het eerste verskyn in die blog Dis Ekke. Gaan skakel jou #Woordwarrel in die kommentare.
______________________________________________________________________________________________________
Ek kan my altyd verkneukel aan hoe jy woorde besig. Dit inspireer en laat lekkerkry diep binne my kielie
LikeLiked by 1 person
Dankie mater, die vingers en woorde confetti het maar gesukjel om bymakaar uit te kom die laaste tyd. Mwah.
LikeLike
Hopelik warm hulle vinnig op ek het jou skrywes gemis
LikeLiked by 1 person
Presies soos ek jou onthou, pittig en spitsvondig. Hou so aan want aanhouer wen altyd.
LikeLiked by 1 person
Jy is my rasieleier blogmaat saam met Hester van die begindae. Dankie liewe Scrapy.
LikeLike
Mooi man. Toe ek Abrie se woorde lees oor ons begin dae het ek heerlike herinnering opgeroep.
LikeLiked by 1 person
Ek sit nou so lekker hier en lees so lekker dat ek nog nie eens my ploeterpakkie aan het nie, sit nog hier in my pj’s. Ja, Fanus – ons is nie juis toegelaat om na hom te luister nie, want volgens die oumense was hy te vuilbekkig, veral na daardie grappie oor Koekie Hall se kort rokkie waaoor die SAUK hom geskors het. Ek het later jare ‘n boek gelees oor al sy uitlatinge. Coenie de Villiers – ek moet sy musiek by my luisterlys gaan voeg. ‘n Man wat Afrikaans so kan besig dat iemand hom ‘n woordsjef kan noem, verdien aandag. Het dit jou al getref dat liedjieskrywers oor die algemeen ‘n groot invloed op taal uitoefen? Ek wens die Bokkie-Bokkie sangers met hulle gemengde taal kan dit ook besef. Ek is ook een van die Covidiots – nie omdat ek nie ingeënt is nie, maar omdat ek Covid toegelaat het om my sielslewe so te verskraal. Dis tyd dat ons opstaan uit hierdie emosionele asse en Lekkervurig, jou skrywe inspireer my net al hoe meer.
LikeLiked by 1 person
Hester, my bek kort dikwels seep, dis seker Fanus se skuld dan. Hehe. Koekie Hall is my geein se woord as patriargaal met vroue in besigheid omgegaan word. Wanneer mans maak of mens ‘n ou donsdosie is…
LikeLiked by 2 people
Donsdosie. Hahaha. Ek moet dit onthou wanneer my innerlike feminis weer skietgoed benodig.
LikeLiked by 2 people
Lol… daai een het ek ook al jare terug by my oom gehoor!
LikeLiked by 1 person
Ek onthou vir Koekie Hall. My ouers was nie baie preuts nie en ons het ons vrek gelag, of sal ek sê verkneukel in Fanus se sêgoed.
LikeLiked by 2 people
As hy eers vertel ‘my pa,hý…en dan die tong in die kies spot. Meesterlik.
LikeLiked by 1 person
Wel jy weet hoe reageer kinders op so ‘n streng opvoeding – hulle rebelleer en kweek ‘n aweregse sin vir humor. Ek verkneukel my g’n niks, vrek lag pas my beter.
LikeLiked by 2 people
My pajamas is dan my ploeterpakkie…
LikeLiked by 2 people
Net so😄😉
LikeLiked by 2 people
Ag julle laat my so lekker lag met al hierdie woorde! Dankie Erna, besondere skryfsel uit ‘n skepgemaakte vlymskerp pen!
LikeLiked by 1 person
Dis jy en Hester wat vir my die skerpmaker voorsien het.
LikeLiked by 1 person
Hopelik bly die skerpmaker ook nou skerp saam met die skryfgoed.
LikeLike
Ek sal probeer…dis nou as ‘nuwe normaal’ nie inmeng nie.
LikeLiked by 1 person
Soos altyd skitterend geskryf met woorde wat my laat kopkrap. Een van die dae gaan ek glad nie weet wat gesels julle nie. Ek wou altyd ‘n skuif maak en tussen vreemdes gaan bly… net vir die ondervinding. Soos dit vir my lyk is ek sterk oppad daarheen.
LikeLike
Vat my saam, dan bly vreemd bekend😉
LikeLiked by 1 person
Heerlik interessante skrywe. Baie mooi. En dankie vir die steun. – Willem van der Walt (Binnetoe)
LikeLiked by 1 person
Hallo en dankie vir die inloer! Groetnis
LikeLike
Weereens, dankie vir steun op “Leermeester”. Kyk gerus na my Facebook-blad “Will van der Walt – writer” na ander poste en veral ook my tekeninge en grafieke. Laat weet. Groetnis – willem
LikeLiked by 1 person
Ek het. Sal volg.
LikeLike
Hartlik dank, Vurige, vir die steun vir “Ste Jeanne”. Dit was ‘n belewenis vir my – willem
LikeLiked by 1 person
Ek sal glo. Ek reis heerlik in my leunstoel saam deur jou onthoue
LikeLike
Dankie vir die steun met “Verhoudings”. My tekeninge hou my uit die moeilikheid. – Groetnis, willem
LikeLiked by 1 person
Dankie vir die steun met “Genesing”. Dit loop die hele blog deur en bly my motivering. En ek het my eie genesing nodig, veral nou> Groetnis, willem
LikeLiked by 1 person
Sterkte Willem. Ons lewensreise is immer vol ervarings en lesse en heel word.
LikeLike
Baie dankie vir die steun op “My ateis vriend”. Dit lyk my jy toer sommer alles deur, ek moet dit self weer doen, net om te sien of ek enigsins verbeter met die poste. Groetnis, willem
LikeLiked by 1 person