Rots, aka Pieter, wat glad nie elektronies bedrewe is nie (so glo hy) het ‘n ruk gelede ons toentertydse, trougeskenk-Pineware braaipan nuwe lewe gegee. Ek wonder hoe dankbaar ek moet wees, want haar bynaam is Mrs Beeton, gewild maar nie so betroubaar nie. Jy moet die temperatuurstelling dophou want 3 is soos 7. Ek gebruik haar wanneer ek kerrievis berei, en baie hoender moet gaar kry. Aandagvraat sy.

Mrs Beeton, die braaipan.

 Mrs Beeton’s Book of Household Management is ‘n epiese publikasie wat in die Vikrotiaanse era ‘n moet vir middeklas vrou was omhul huishoudings te laat vlot. Haar man het die publikasie behartig en na haar afsterwe in 1865 het die gewildheid van die boek nie getaan nie. So deel van die Viktoriaanse samelewing het die boek geword dat ‘n karakter in een van Arthur Conan Doyle se skrywes in 1899, verkaar: “Mrs Beeton must have been the finest housekeeper in the world, therefore Mr. Beeton must have been the happiest and most comfortable man”.

Maar hier lê ‘n knoop. Mrs Beeton, of dan haar publiseerder man, het blatant plagiaristies met ander se kalwers geploeg. Skandalig, maar dit het klaarblyklik die leke van die lewe niks gebodder nie. Teen 1868 is meer as 2miljoen kopieë verkoop! Teen 1905 was die boek ‘n lywige 74 hoofstukke en oor die 2000 bladsye. Praat van Viktoriaanse moralisme. Pffft.

Daar is maar 23 bladsye aan huishouding in die boek, die res is ‘n miasme van teenstrydige kommentare. Sy meen mango proe soos terpentyn, pasta moet vir meer as ‘n uur gekook word, kreef is oneetbaar, kaas kan nie deur alml geëet word nie, aartappels is verdag, en oor tamaties kon sy nie haar mening vorm nie.

Verdedigers meen Mrs Beeton het resepte kopiëer, soos ons almal maar oor die jare maak: Tant Saar se Melktert, Ma se worsrolletjiedeeg, Thea se souttert, Nita se mieliepaai. Kritici reken as ons by Mrs Beeton sou leer kook het, dit nag sou wees. Daar is ‘n sêding in kulinere kringe: “Mrs Beeton could not cook, she could copy.”

Buiten Miss Beeton, kook en smook ek in my kombuis met ‘n klomp karakters. Dit het alles begin to die broodmasjien, (Ja, ek knie nie self nie, waarom moet ek as tegnologie dit maklik maak?), genaamd Ma Baker, haar intrek op die werkblad kom inneem.

Ontmoet Julia, Jamie Oliver, Nigella en Toks en Tjops. My kombuisgenote van formaat.

Voor ek my kon kry heet die Kenwood Chef, Jamie Oliver, hy gaan net sy gang en basta. Danksy sy teenwoordigheid is ek nou bekend vir die lieflikste beskuit. Tant Hannie se krakelinge uit Dine van Zyl se Groot BoerekosBoek. Mensig, ek loop mooi gekroon rond as my huismense en kuiermense kwylend smorens die beskuit in hul koffie doop en dis net ‘oe en a’

Dan is daar Nigella, die seksie gietysterpot. Rond en gul en effe morsig. Sy en ek kook-braai die lekkerste goulash, kortrib en brisket. My oumas sit en skoppelmaai op die dak van pure plesier as die reuke van hulle huise uit Nigella my tuiste omgewe.

My vinnig kookvleis en sopvriendin is Julia. My betroubare 38 jarige Tedelex stoompot. Outyds in haar eenvoud, nie soos vandag se vreesaanjaende stoompotte nie. Kan ons twee darem nou lekker sop en bredies aanmekaar sit. Ertjiesop so lekker dik en romerig. Daar is juis vanmore so winterbyt wat my en Julia se seisoen aankondig. Albei goed gebrei deur jare, en so effe van ouderdom lekkerig. Hehe!

My ma het met hulle troue in 1957 so aluminium opskeppbak met ‘n deksel met so ronde bakaliet handvatsel ontvang. Dit het oor die jare Rots se braaibak geword. So twintig jaar gelede pak my skoonma en haar skoonsus die se moeder se huis op. Agter in ‘n kas, nog in plastiek, kry hulle ‘n bak identies aan die een wat geliefde Rots, Pietertjie vir hulle twee, gebruik! So kry ons twee bakke uit dieselfde era. Die meer gebruikte een van die twee se handvatsel breek middeldeur van harde arbeid. Rots vervang dit met ‘n braaikas handvatsel. Dit lyk heel oulik. Ons sit een aand en lag oor die genaamde goed in die kombuis en Bab kyk die twee braaibakke, een met die plat vatsel, die ander bonkig en lank. “En hier is Toks en Tjops.” Ons giggel nou met elke braai, en dis gereeld.

My liefling kookgenoot is pure Africana. Susann Naudé se lywige, Keurige kos. Ek deel Peter Veldsman se liefde vir die boek en het twee eksemplare. Een wat my ma as trougeskenk ontvang het en al rof om die rande van gebruik is, en een wat ek op Bid or Buy bekom het en in puik toestand op die boekrak tussen ander interessante kook- en reisskrywes haar lê gekry het.

‘n Ander gunsteling kookboek is so wit ene, en voor in is ‘n skrywe van my Aardrykskunde onderwyser in matriek. “Aan Erna, vir uitsonderlike prestasie in Aardrykskunde.” Ek sal daardie prysuitdeling nooit vergeet nie. Ek was die enigste matriekdogter in die skool wat nie huishoudkunde geneem het nie. Die hele matriek rooster moes rondom my rangskik word. Ek het alleen in die biblioteek my werk moes doen, met meneer, wat houtwerk vir die seuns moes leer, wat so nou en dan kom inloer of ek regkom. Ek het met groot verwagting verhoog toe geloop met die opwinding dat ek aans ‘n lieflike reisboek of atlas in my hand sou hê. My gesig het die onderwysers laat skaterlag en toe ek die boek omhoog hou dat die skool kan sien – vergeet ‘n goeie graptoneel in ‘n flike. Dis wat jy kry as jy een van tien matrieks in ‘n klein Oos-kaapse skool is. Vandag maak ek ‘n bevange lekker pizza danksy my aardrykskunde prys.

Tannie Susan, Jamie, Nigella, MaBaker, Mrs Beeton en vele ander kookgenote het hierdie linkshandige onsekere kok al baie selfvertroue gegee. Ek wat as kind liewer kombuis uit gestuur is oor ek mors en onhandig met messe lyk, wat die familie boekwurm geword het, kan kook. En ek geniet dit. Vreeslik.

Die vertroue het juis uit my lesery ontstaan. Ek het nie net storieboeke gelees nie. Ek het resepteboeke en woordeboeke ook gelees. Wys jou nou net as woorde reg gesnoer is, kan dit vele onontdekte en onontwikkelde talente ontgin. Viva geletterdheid.

Laastens, my daaglikse genote in die kombuis is al die oumas se erdeskottels, ons maak bruinbeskuit aan, skil groente, meng frikadelle, en so aan. My Biebs het gesorg dat die geskiedenis my toeval, sal haar ewig dankbaar bly.

Wie is jou kookgenote. Naam jy hulle? Gesels saam toe!

NS. Daai twee lieflike butternuts kom uit my Eli se eie groentetuin agter haar HOP huisie. Een Maandagoggend kom sy by die werk met die twee pampoen. “Dis vir jou, wat soveel uitdeel, en nooit iets in ruil vra nie.” My hart het oorgeloop van seëninge.