
Scrapy se Maandag = Wasdag Uitdaging No 43 vra ons moet oor brand vertel. Nou daar is sonbrandstories en dan is daar vuur stories.
Een het uit die onthouboks gespring toe die berigte van die vreeslike brande in Knysna en omstreke, in 2017 se winter ons bereik. Ek deel weer ‘n gedeelte van die blog (en vir die hele onthou, lees hier https://lekkervurigeaffere.blog/2017/06/11/vuur/ )
“Die dennenaalde en dooie takke het ‘n brosdroë, roesrooi tapyt deur die plantasie oop gegooi. Dit was winter, brandtyd. My pa was die saagmeulebestuurder by Millsite, ‘n bosbou gemeenskap so in ‘n kom gelê het, omring deur derduisende dennebome. Naby Piggs Peak in Swaziland.
Die Sondagoggend rustigheid word skril deur die loei van die brandsirene verbreek. Ek onthou hoe my pa na die luiende telefoon toe drafstap, antwoord, verbleek en my ma nader roep.
Die plantasie reg rondom die woonhuise en saagmeule is aan die brand. Die wind help die vuur vinnig aan.
“Pak ons dokumente en ‘n stel klere vir elkeen, die busse kom vrouens en kinders haal,” gee my pa opdaag.
My ma is net daar steeks. “Hoe gaan jy alleen ons huis beskerm? Ek bly.”
My pa het beter geweet as om terug te praat. Die huise se dakteëls was uit kresootpale gesny en baie vlambaar.
Ons staan binne minute gereed, my swartkop kleutersussie en ek, elkeen met ons gunsteling trooskomberse en teddies, en pa se portefeulje met al ons paspoorte, en dokumente bo in ons enigste reistas met ons klere en tandeborsels.
(Ek verwonder my nog na al die jare oor die tandeborsel en ekstra onderklere ding in krisistye. Jy kan alles verloor, jy moet net nie vuil wees, of jou asem moet nie stink nie. Pffft. Ek sou liewer boeke saam vat.)
Ons is huilend in die busse gelaai, my ouers kwaai en gespanne. ‘n Skielike afskeid wat my nou nog by bly. Vyftig jaar later. My hart klop bo in my keel, my trane sluk ek hard aan, want, sê pa en ma ek moet nou sterk wees vir my sussie, vier jaar jonger as ek. Soet en voorbeeldig. My Achilleshiel van kleintyd, die voorbeeld en sterk wees ding.
Ons reis met die meanderende stofstrate van huis na huis. Die vlammesee om ons word verdring deur digte rook. Elke nou en dan skiet vuurvonke die lug in, soos die dennebome ontplof. Oral op die huise se dakke het mans met tuinslange en nat sakke gestaan, om te keer dat vuurvonke die dakke aan die brand sou steek. Klein het hulle teen die rook en vuur se oormag gelyk.
Die busse is gou vol, en ons word by die saagmeule se administratiewe blok afgelaai. Gou is die kantien ‘n kits dagsorgsentrum met geen voorsiening om ontstelde, bang vroue en kinders te hanteer nie. My sussie en ek het ons by ‘n venster staan gemaak, albei weier om na vermanings te luister om nie te kyk nie.
Ek onthou my sussie se klam handjie in myne. Ons kon nie veel sien nie, want die saagmeule het tussen ons en die woonhuise gestaan. Rook en vonke wel. Dit was ‘n lang dag vir ons kindergemoedere, en kan my net indink hoe die volwassenes moes voel.
Teen skemer breek daar oral ‘n gejuig uit. ‘n Oom kom vertel dat die wind die vuur in homself laat inbrand het en dat die gevaar verby is. Een huis se dak het begin brand, en natuurlik was almal van die roet besmeer, my mooi ma ook. Ek het nie omgegee toe sy ons stuyf vasdruk en die swart roet ons ook besmeer nie.
Daar is later uitgevind dat ‘n man wat die vorige week by die meule afgedank is oor dronk by die werk aankom, daardie Sondagoggend reg rondom die woonbuurt en meule gestap het met twee kanne brandstof. Hy het gaatjies in die dromme gedruk, en so met die lekkende houers gestap deur die baie droeë plantasie. Wetende hoe groot die brandgevaar was.
Hoe weet ons? Wel, toe die vuur omdraai, is hy en sy kanne vasgekeer. Hy is deur die vuur wat hy op onskuldige mense ontketen het, verteer. Die dromme nog so in sy hande vasgebrand het ek die grootmense by die volgende braaivleisvuur hoor vertel.
Daardie oer angs, die naakte vrees, die geweld van naderende vlamme en die suis geluid saam met knetternede vonke, is in my geheue vasgesweis. Mens vergeet dit nie.”
Daar is ook ander brande wat my by bly.
Die ontploffing in ons lieflike houthuis se kombuis na ‘n blerrie muis die gaspyp deurgeknaag het. Gelukkig was my ma weg van die stoof toe die ongeluk gebeur het. Ons hele familie is sedertdien lugtig vir gas.
Toe Bab in die laerskool was, en een of ander groot rugby, ek dink dit was die wêreldbeker van 1991 en die wedstryde op ongoddelike ure uitgesaai is, het Rots besluit om slaptjips in ‘n vlak pan olie te maak. Dis nou vroegoggend voor bidtyd, na rugby en wat ookal hy en buurman oorkant die straat tydens die 80 minute ingeneem het. Ons vroumense het rustig geslaap, want mens moet werk en skool die volgende dag.
My man het “in die sitkamer gaan rus” terwyl die olie opwarm. Nodeloos om te sê, ek en hy het gelyk wakker geskrik van verstikkende rook. Wat ‘n gemors. Gelukkig het ons onthou van ‘n deksel oor die pan kry. Die gordyne wat aan die brand geslaan het en die swart roet op die mure en plafon, kon darem vervang word danksy versekering. Ons is nou “airfryer” tjipsmakers!
‘n Ander brand in my onthou is op die mooie Eerstelingplaas teen die Ysterberg. Die foto hierbo vertel daarvan. Ons vriend het ‘n suurlemoenboord op die plaas aangelê. Derduisende bome en die mooie berg, waar arende sweef en jy die bobbejane hoor speel.
Dit was vroeg lente en nog vuurhoutjiedroog. Die goud besig om aan die bome te bot. Heel week het ons die rook aan die anderkant van die berg sien borrel. Seker gemaak die brandpaaie is skoon en dat die watertenks op die sleepwaens regstaan.
Elke dag kom die rook nader. Tot een môre toe die wind opsteek, en voor jy kon oggknipper is die veld oral om ons aan die vlam. Niemand in die omtrek kom help nie. Praat van buurskap. Dit daar gelaat. Die plaasbestuurder, personeel en Rots en mense uit die dorp het ingespring en ek het gebid en honde kalm gehou en kos en water aangery.
Die brand het mens en dier getoets daardie dag. Asembenemend toe die luiperd uit die rook voor die vlamme uitgestorm kom, tussen ons deur. Sonder om links of regs te kyk, een doel voor oë: Kom weg voor die hitte.
Die boord het danksy almal se harde werk net ‘n paar verskroeide blare aan die rye bome naaste aan die veld, skade gely.
NS. Die sonbrandstories is in sproete op my rug vir ewig vasgebrand. Al wat ek daaroor kan sê is dit was seer, en lesse swaar geleer. Ek is maar tevrede dat ek bleek moet wees. My blogmaat Kameel se sonbrand relaas is epies. Gaan lees!
Ek het nou op jou ou blog kommentaar gelewer. Vuur is definitief nie iets om mee te speel nie. Julle liefde vir braai het darem nie in die slag gebly nie 😊
LikeLiked by 1 person
Nee, daai tipe vuurliefde, vir die braai nou, dink ek is geneties.🤣🤣
LikeLiked by 1 person
Dit was nou sommer ‘n lekker boeiende vertelling Lekkervurig. Ek het sommer saam met jou warm gekry en angstig gevoel.
LikeLiked by 1 person
Daai gevoelens wel steeds op as ek veldbrande sien.
LikeLiked by 1 person
Jou beskrywing van die luiperd wat uit die rook storm, laat my dit so duidelik sien!
LikeLiked by 1 person
Dit was ‘n rare oomblik
LikeLike
Sjoe jy het darem beslis angstige vuur/ brande beleef. Ek onthou ook nog wintertyd en daardie eerste rokie wys dat n veldbrand begin is hoog in berge. Dis meestal met n valkoog doogehou omdat dit onbekombaar is om te blus. Dankie dat jy weer jou onthoue gedeel het.
LikeLiked by 1 person
Jy is my inspirasie wat so getrou met jou blog aktiwiteite voortgaan. ‘n Reddingsboei in hierdie vreemde tyd en voorbeeld.💝💐
LikeLike
Baie dankie vir jou mooi woorde. Ek het ook maar baie aanmoediging nodig. Elke keer as ek sien daar is nie veel reaksie nie dan dink om oor te slaan maar dan dink ek veral aan Kameel wat ook altyd getrou skryf. Jy maak dit ook die moeite werd as jy so deelneem. Alles gaan net om net vir n rukkie te verdiep in die skryfstukkie.
LikeLiked by 1 person