27 Maart 2020, 304 dae gelede, het ons lewens onherroeplik verander. Die Covid-19 pandemie wat ‘n veraf gerug was sedert laat 2019 het haar skrikbewind oor die aardbol getrek en kom vasskop in Mzanzi. Ons is meestal soos lamme ter slagting die vreeslike inperking in.
Mense koop asof dit oordeelsdag se voorloop is, tot boudjiepapier verkoop uit. Blyk gou dat die virus niks met spuitpoep te make nie. Dit kom steel ons asems, en in baie gevalle tot die dood toe. Maar ek hoef jou nie te vertel nie. Ons beleef dit mos saam.
Aanvanklik is dit vêr en mense is moedswillig en opstandig oor aan huis gekluister wees. Ag, dink ek, as ons maar net mekaar voorop gestel het, en die morele wysheid aan die dag gelê het om rerig al die reëls na te kom het, sou die bangkombers nie al stywer en stywer om ons gespan het nie.
Nou ken jy mense wie baie siek word, gesinne wat sterf, kollegas, bejaardes, bekendes en beroemdes. Niemand word ontsien nie. Ook nie Jackson of Larry nie. RIV.
Ek rou oor my kind se Rachel wat haar eerste ses jaar help vorm het. Rachel was my vriendin, redder van my huis en haard terwyl ek moes werk om die pot aan die kook te hou toe die Weermag nog vir Rots klokslag vir kampe bly oproep het, al was die politieke skrif reeds aan die muur en PW se Rubicon reeds in vloed.
Op ‘n dag kom Rachel en bedank. Ons ween, maar haar geliefde Andries wat ‘n bouer was, het vir haar geld bymekaargemaak en’n kleuterskool gebou. Haar droom het arriveer, ek sou dit nooit in die wiele ry nie. Daardie twee mense was ‘n voorbeeld van liefwees, respek en waardigheid. Wat ‘n voorreg dat ons gesin hulle in ons lewe kon hê.
Verlede Donderdag lui die foon. Rachel se suster werk al die jare steeds vir oud-kollegas van Rots. Die vrou snik so dat Rots nie kan uitmaak wat aangaan nie. Rachel en Andries is Maandag binne ure van mekaar aan Covid verwante komplikasies oorlede. So kom die kring nader en nader.
Ons kinners van anner mammas se moederlief is ook vir meer as 10 dae baie siek in die hospitaal en die dokter se prognose was nie goed nie. Ons huil van vreugde toe sy verlede week ontslaan is.
Wat niemand egter hulle op voorberei nie is die trauma wat saam met haar huistoe gekom het. Dis vreemde tye.
“Splintered from the ones we hold dear,estranged from polarised politics,distant from people we struggle to understand,we come to God, who is close,closer than our own breath.
Angry about empty cupboards,anxious about hungry children,beside ourselves with worry,we come to God, who is close,closer than our own breath.
Overwhelmed with sadness,tired from the struggle,determined to persevere,we come to God, who is close,closer than our own breath.
God is near to the broken-hearted,and saves the crushed in spirit.
We wait for God; we wait in hope,more than those who wait for the morning, more than those who look for the dawn.“
From Psalms 34 & 130
#Iona
Ek lees van die Iona gemeente in Engeland wat mense in gebed opdra. Summier gaan soek ek my draadkremetart en blikengele en haal kerse uit die kas. Ek vertel vir die Here dat ek nie meer weet hoe om al my vra en smeek bid by die altaar voor Sy troon te kry nie, want self is ek moeg.
Moeg om in angs oor verlies aan finansiële sekuriteit, moeg om te sien hoe my man en kind spartel en spook. Moeg om te sien hoe korrupsie gedy, hoe die miljarde rande nie by mense soos ons uitkom nie. Moeg dat die bank se sisteem nie jou unieke omstandighede in ag kan neem nie. Moeg, moeg, moeg.
Moeg dat die duiwel my probeer wysmaak dat niks die moeite werd is nie. Dat ek en my geliefdes sondebokke is, dat ons lewe niks beteken nie, dat ons nie ‘n verskil maak nie.
Daar is selfs vriendskappe wat in die slag bly, want ons almal al effe bossies soos recces uit die bosoorlog.
En nou so klompie weke kort van ‘n ‘n jaar later moet ons hoor van swak beplanning, te min geld om ons almal ingeënt te kry om die virus hok te slaan. Ons weergawe het al muteer en is hoogs aansteeklik. Die Engelse blameer ons alweer vir alles, Joe Biden sê ons mag nie na die New Dawn Amerika reis nie, en Australië en die Kiwis se grense is ook nie oor te steek nie.
Ag, en dan wil ek nie eers praat oor die sameswering twak wat oral vir waarheid verkoop word nie. Bang mense is maklike teikens vir allerlei verbale diaree. Fok, ek word so kwaad. Ons is reeds almal deur Jesus gemerk as Syne. Waar sal jy nou loop en pieker oor merke van die tyd. Ruk jou reg man!
So van inent gepraat. Almal van ons is in hierdie land ingeënt. Kyk daai tjap op jou boarm, onthou jy hoe ons op skool in rye gewag het vir die klinieksusters om te spuit en poliodruppels in te gee? Hoe ons kinnerkies dokter en kliniek toe geneem is en ons saam geween het as hulle so huil van die inspuitingskrik. Hoe de hel dink julle is polio en masels en ander plae gestop? Inenting.
Nou kommer jule oor mikroskyfies en goed wat ons DNA kan wysig? Die Sjinese is goed, maar wragtig nie so goed nie en wat wil iemand in alle geval met jou maak? Dis makliker om robotte te bou. Hoop nie jy gaan kerk met die sameswering twak in jou gedagtes en optrede nie. Jy sal beskermengele skade aandoen, newwermaaind die skade wat jy met jou bog aan jouself en naastes aanrig nie! Sela, ek stap weg hiervan.
Kyk waar leuens en twak verkoop vir Trumpie en sy mense laat beland het. Daai was darem ‘n allervreeslike weergawe van Les Misrables. Daar bid die bestormers toe mos kliphard na hulle die Capitol beset vir hulle regte, en God antwoord met arrestasie en ‘n senaat wat na die skrik hulle konstitusionele plig nakom, en nou is Trumpie per heli weg en Lady Gaga sing die nuwe dagbreek hoendervleis mooi in, en Amerika hoor van woorde soos empatie en samewerking. Mag die was van misverstand en misleiding uit ons almal se ore val.
Terwyl ek die bidboom en engele staanmaak en die kers aansteek, spoel vrede oor my. Ons boekevat is uit Openbaring daar waar God met Jesus neffens Hom sit, en die hemeleskare Hom loof en prys, en ons gebede in die altaar voor die hemeltroon geurige lieflike offers is.
Ek lees iewers van ‘n Joodse boer wat om een of ander rede die Sabbatvieringe misgeloop het. Dis mos nou groot Joodse moeilikheid. Toe die Rabbi hom vra wat hy gedoen het om die Sabbat te vier daar in die land, vertel die boer hy het maar die ABC opgesê, want God weet watter woorde om te vorm. Weet wat ons wil vra nog voor ons woorde vorm. Sela.
Sedertdien brand hier ‘n kers in gebed vir elke mens vir wie ons lief is, ook vir die duisende mediese personeel en noodmense wat onverpoos werk om mense te red van die skrik van die pandemie. Ons gedenk ook gesondes, bekendes, onbekendes, ons bid vir onse president. Hy het dit swaar binne die politiek en die breë Mzanzi familie. Kyk net hoe gaan ons tekere na ‘n familievergadering, en smokkel ons met pynappelbier. By Louterwater, buite Joubertina is polisie deur mense getakel to hulle brousels gekonfikseer is. Louterwater, nogal. Hehe.
Nou bid ons nog by, vir die mense wat swaarkry en ontwortel is na Storm Eloise haar woede kom uitsmyt het oor ons gewestes. Hier by my huis het ons ses kransswaweltjie families wat oral ‘n nes onder dak kom bou het.
Een paartjie wil opsluit teen die lapsonskerm van ons slaapkamer bly. Ons gee nie om nie, maar elke keer as dit reen, word die lap nat en hulle huis val grond toe. Drie keer al van hulle laat verlede jaar huistoe gekom het moes hulle moeisaam bekkie vir bekkie modder oor kom plak.
Vrydagaand sê ek vir Rots en Bab ek sien nie kans dat die voëltjies se huis deur Eloise se moerigheid verwoes word nie. Ons is uit met swart sakke en maskeerband en het vir hulle ‘n skerm bewimpel. Hulle was bietjie verward, maar ag, as ek daai kleintjies hoor skree as ma en pa kossies aanbring, is ek bly dat ons plan kon maak.
Dit tref my. God, wat weet wat ons bid nog voor ons woorde uiter, nog voor ons bewus is van katastrofe en ongeluk. Hy trek ook swart sakke van genade oor ons, sodat ons hier op aarde kan oorleef. Veral in tye waar wysheid skaars blyk te wees.
Stephan Joubert beskrywe die skat so: “Wysheid is geloof, wat uitmond in ’n lewe van nederigheid, insig en onderskeiding voor God en tussen mense. Dit vra om ’n tweede bekering, ’n daaglikse een. Wysheid is ’n lewenslange skattejag in die skatkamers van die Allerhoogste, soos wat Spreuke 3 ons leer. Wysheid is om voortdurend te onderskei tussen reg en verkeerd. Dit is om die regte woord op die regte tyd te sê. Dit is om respek te hê vir alle mense. Wysheid, wat gegrond is in die Here, is gelyk aan die morele wil om in woord en daad reg te leef. Wysheid is om te volhard op die Here se pad, al is jy die enigste een in die buurt wat dit doen. Sulke wysheid is skaars. Trouens, dit is die skaarsste item in 2021. Maak dit jou eie!”
Here,
ek kom met my bidboom,
my swartsak oplossings,
en die ABC,
my bang en twyfel en kwaad en seer.
Mag my offer vir U anneemlik wees.
Wees ons U twyfel kinders genadig
en help ons om die skaarste skat,
wysheid wat van U kom,
te bly nastreef
soos Salomo toe hy klein was.
Amen.
Goeie leesstof Lekkervurig, en baie stof tot nadenke.
LikeLiked by 1 person
Ek voel skoon lig uit ge skrywe. Die goed broei soos ‘n ettersweer.
LikeLiked by 1 person
Dis hoekom ek begin blog het: om ontslae te raak van onverwerkte gevoelens. Dis goeie terapie. Totdat ‘n trol of twee op die verhoog kom en die show bederf.
LikeLike
Ek dink ons omtes is trolvry, kom ons kyk….🤔😉
LikeLiked by 1 person
Jou skrywe is vandag vir my soos daai swartsak wat bietjie skerm teen die aanslae. Baie dankie.
LikeLiked by 1 person
Dit is darem tuimeldroër siklusse wat nie lekker is mie. Bly as my griffel en warrel help. Dankie dat jy inloer.
LikeLiked by 1 person
Netso. Dis al wat ek kan sê.
LikeLiked by 1 person
Haai Liza. Is julle mooi aangesterk en veilig? 💝💐
LikeLiked by 1 person
Dit gaan goed! Ek begin Maandag werk en my kind stap nie meer nie, sy draf! Sy is steeds in afsondering – ek kan haar nie sien nie, so ek verlang my byna dood. Maar sy leef!
LikeLiked by 1 person
Halleluja. Wees veilig by die werk.
LikeLiked by 1 person
Wat ‘n heerlike stuk. Soveel bevestiging van alles wat ek ondervind en die troos wat ek gekry het. Ek voel getroos met jou bidboom en ABC en swartsak sorgsaamheid. Mag jou kerse lank brand, jou bidboom sterk staan en jy nooit jou ABC vergeet nie.
LikeLiked by 1 person
Dit is die lieflikste troos om te weet ons Vader weet, nog voor ons weet of dink of uiter.😇
LikeLike
Diep dinge wat jy hier kwytraak. Ek is bly God verstaan die ABC van ons harte… het ook nie meer aldag woorde om my hart leeg te bid nie.
LikeLiked by 1 person
Dis ware troos dat selfs ons ABC genoeg is.😇💝
LikeLike
“…wat wil iemand in alle geval met jou maak?” 😆 Toe skryf jy my in trane in. Gelukkige swaeltjies wat daar by julle bly.
LikeLiked by 1 person
Frannie, die wanilgting en vreeshisterie maak vir my rooiwarm…skuus. Ag jy moet sien hoe sit hulle op die vensterraam en kweel en koudkry dat die vere so pof. Ek is die gelukkige een dat hulle hier wil bly.💝💐
LikeLiked by 1 person
Dankie tog vir mense wat bid vir mense en swartsakliefde en – beskerm uitdeel vir swaeltjies. Doe so voort ‘n maatjie, en hou aan mooi woorde skryf.😘😘
LikeLiked by 1 person
Dankie Nelie vir die inloer. Seënwense.💐💝😇
LikeLike
Dankie tog vir mense wat bid vir mense en swartsakliefde en – beskerm uitdeel vir swaeltjies. Doe so voort ‘n maatjie, en hou aan mooi woorde skryf.😘😘
LikeLike
Baie bly dat jy jou hart kom uitskryf het. Daar is baie waarheid in al die dinge wat jy se en dan gee jy nog versagting ook deur jou boom en ABC te beskryf. O en om kers te brand en dan die belangrikste te bid. Jou swaeltjies sal jou ewig dankbaar bly.
LikeLiked by 1 person
Dankie my blogmaat wat my altyd aanmoedig.💝💐
LikeLike
Jy bly spesiaal onthou! En dan bly jy nog in n bekende plek ook.
LikeLiked by 1 person
Ek is ook op vir “fake” nuus, vir sameswering teoriee, dit beset mense so dat alle logika by die deur uit trek. Fokus liewer op die positiewe en die ware nood.
LikeLiked by 1 person
Ek sê sela daarop! Dankie vir die inloer. Bly veilig na liggaam en siel.
LikeLiked by 1 person