Photo by Emiliano Arano on Pexels.com

Bab was nog in die kleuterskool en ons het in ‘n ruim huis buite Polokwane gewoon, oostekant toe.

Rots het die oggend vertrek om saam met kollegas Vrystaat toe te gaan. Dit was net ons twee evakinders wat laatmiddag, bedompig en warm die kar se neus huis se kant toe draai.

Ons ry uit die toe nog dorp, en ek merk waterplasse. Dink by myself die elders reën het hier geval. Hoe nader ons aan die huis kom merk Bab op dat die plasse water oral soos spieëls in die veld blink. Ek lag vir my kleuter se oulike waarneming.

My goeie bui sak so effe toe ek op die tweespoorpad wat na ons huis lei afdraai. Dis ‘n stroom…

Hoe nader ons aan die huis kom, word die stroom al hoe groter en wyer. Dit lyk soos ‘n pan.

Daar in die middel van die massa water staan die huis met sy groot stoep. Doer teen die heining lê ons tuinstoele.

My brein wil nie verwerk wat my oë sien nie. My kind huil verskrik. Ek draai net daar om en ry bure toe. My dierbare Belgiese buurvrou kom uit en groet. Kom agter ons is uit ons gesels geskrik.

“Die huis is in ‘n dam,” huil Bab toe sy in haar Tannie Evelyn se arms spring. Evelyn kyk my verbaas aan.

“Wat op dees aarde, watter dam,” vra sy. Vertel van ‘n bui reën die middag, maar damme, sy lyk of sy ons nie glo nie.

Ek is steeds oorbluf, en vra om haar foon te gebruik. Probeer vir Rots ‘n boodskap by sy bestemming kry. Bel ons vriend om met hulp te kom, los vir Bab veilig by haar Tannie en ry weer stroomop huis toe.

In verstarde ongeloof loop ek enkeldiep deur die water. My houtmeubels, my boekrakke, my oorgetrekte stoele staan bedremmeld in die water. In die gang wat met ‘n trap na die laer deel van die huis lei, kom Bab se Kewpie pop aangedryf.

Ek hol plas, plas waskamer toe en gryp skottels en emmers. Die water moet uit en gou ook. Die laer deel van die huis is tot by die vensterbanke in die water, die beddens, dekens, lessenaar skuins gedobber. Ek bid ons vriende kom gou. Emmer vir emmer begin ek water skep, smyt dit by die venster uit. ‘n Hopelose taak wat iewers moet begin.

Ek is seker vir ‘n uur alleen in die choas, toe ek toeters buite hoor.

Ek hol buitetoe. Ons vriende kom deur die water aangeplas. “Fok Sus, dis ‘n moerse geiser wat hier gebars het,” haak een af. Ek weet nie of ek moet lag of huil nie.

Met groot gelag en geterg takel ons die onbegonne taak. Die water buite het begin wegloop en sak en gou het ons die stoep so dat ons meubels kan uitdra. Nog meters word ingeroep en ons telegraafvriend, jy weet daai een wat van alles weet voor dit gebeur, bel rond en vind uit waar die baie water so uit die bloute vandaan kon kom.

Dit blyk dat ‘n keerwal by die skietbaan bokant ons huis nie die skielike water van ‘n wolkbreuk kon hanteer nie. Die reën het so vinnig geval en opgedam, dat die wal meegegee het en die spul opgedamde water het net een pad gehad. Deur ons erf en huis.

So tussen die opdroog en gelag, word die skottelbraai aangesteek en wyn geskink. Nat en modder sal nie ‘n braai keer nie. Bab is veilig, en ons skerts en lag oor die ‘moerse geiser.’ Ons mater vertel dat ek so histeries gebabbel het dat hy net water, huis gehoor het, en geweet het Rots is nie tuis nie en toe besluit het dit mort ‘n geiser wees wat die huis belek het. Mans, luister nooit as ons praat nie.

Rots kry ons klomp klam en effe aangeklam en laf op die stoep tussen die meubels.

“Wat gaan aan,” vra hy wat benoud terugejaag het huistoe na hy die noodboodskap gekry het.

Ons almal koor gelyk. “‘n Moerse geiser het gebars.”

Die water wat die dag so enkeldiep afgekom het, het oornag verdwyn. Die volgende dag met vrot matte en meubels op die stoep, kom ‘n warm wind en waai die poeier droë afloop slik soos ‘n stofstorm deur die huis.

Gelukkig was ons nog jonk en avontuurlustig en het maar met sand se gegrint op ons tande en meubels skouer opgetrek en gelag.

Ek sal vandag die olel kry as ons weer so iets oor kom.

NS. Hierdie is Scrapy se Maandag Wasdag uitdaging, waar ons oor water avonture relaas. Gaan lees gerus oor haar Neptunus water avontuur.