Kom ek red jou van die Swart Vrydag waar donkies vir koedoes voorgehou word in die naam van geldmaak.

Kom kuier liefs hier by my op Waterval se stoep. Hier is nog nie ‘n Covid-19 insident nie. Halleluja. Ons het lekker reën gehad en Tjiptjir het weer vanmore uit volle bors vertel daar is nog reent aan’t kome! My rug sê ook so.

Het met krakende knieë en stram rug die Watervalbende gebad, al vier van hulle is ek sopnat gespat en gesweet, ek het nie die Gim nodig nie.

My Agapé-brood vir Elisa het hemelhoog in die broodmaker gerys, lekker om te weet haar huis gaan smul. Dit ruik al te lekker hier.

Rots is vandag 65. Hy sit vanmore so ewe voetjies op die mat, skouers ineengetrek. Ek vra of hy seer het. “Nee, ek is nou oud,” kom dit pront.

Ek onthou ‘n stuk wat Cecile Celliers (RIV) in 2006 in die Beeld-deurloop rubriek gepen het. Die titel: ‘Soos ‘n dief in die nag kom die ouderdom.’ My skoonma het die knipsel gebêre, en is ek nou vanmore bly al haar onthou het in 2011 letterlik op my kop afgetuimel toe ons haar huisie moes oppak na haar afsterwe.

Dankie my liefste Biebs, dat ek nou die stukkie humor kan deel. Jy wat met soveel deursettingsvermoë en grasie oudword getakel het. Ek onthou hoe ons een naweek vir haar wou gaan kuier, toe wys sy ons af, want 75-jarige sy, ‘gaan vir die oumense by die tehuis Kersete bedien.’

Maar terug by Cecile Celliers. Sy vertel van haar vrinne wat vertel dat die ouderdom so sluip, sluip kom. Gister kan jy nog jou bril van die vloer optel. More kan jy om die dood toe nie van die grond opkom na jy gehurk het om die bossie uit die beddings te trek nie. Die rotstuin se klippe, die tuinmuurtjie moet help optrek.

Sy skrywe so:“Soos ‘n dief in die nag kom die ouderdom. In die spieël sien jy die gesig van ‘n mooi middeljarige, selfs jong vrou, veral as jy ‘n goeie nagrus gehad het. Maar trek ‘m trui oor jou kop en op een of ander onverklaarbare wyse kom jou ma se hande by die moue uit.”

Sy vertel van ‘n vriendin wat met katarakte gesukkel het en die wêreld deur ‘n waas moes aanskou. Lang storie kort, sy is geopereer en die pêrels is verwyder en skielik het sy lasersig, die kleinste grassie in detail. Die vriendin vertel :“Maar toe ek by die huis in die spieël kyk, skrik ek my byna dood.Want daar kyk ‘n stokhoring ou vrou vir my by my oë uit!…Maar ek het raad… Ek het elke spieël in die huis met haarsproei bespuit. Nou lyk ek weer net so jonk soos toe ons saam jonk was.” Saam met Cecile sê ek luid Sela.

Stram en seer nekke en rûe kry penne en boute en moere. Mens word oornag ‘n weervoorspeller as die nek, knie, rug so dof klop. Mens wens jy is liewer Tjiptjir, die Bosveldvisvanger wat so mooi die weer kan voorspel.

Jou hande wil nie meer lekker saamwerk om deeg te knie nie. Jy huil trane van danbaarheid vir Jamie Oliver, die Kenwood menger, wat sterk en trots daar op die kombuiskas staan en die kniewerk in ‘n japtrap klaar kry. Klop jouself op die skouer dat jy Oudword so fnuik.

Ons gang raak onvas, die voete skop matte se hoeke op, sommiges dra gehoorstukke, ons vingers knyp nie meer rafeltjies so mooi vas nie, sit in verwondering oor die verwydering tussen liggaam en siel.

Hier in my kop is ek nog lank nie klaar geleef en ervaar nie, al laat Bloubekruip, die depressiebrak my soms struikel, al kommer ek oor die wete dat in hierdie vreemde wêreld waar ons bleek velle so ‘n vloek is, en ook deur ons eie foute, ons sal moet bly woeker en werk met een voet op die piesangskil reg voor die krematorium deur. Vasbyt, sterk staan, jonk aan gees en deursettingsvermoë is al wat gaan werk.

Al kom kuier jou langverlore vriend, die Dood ewe rustig saam op die stoep. Bevriend hom, hy is alleen, al van geboorte van jou geskei en moeg om jou na te hardloop. (Lees hier hoe wys is die Iere hieroor)

So ek gaan elke dag voluit geniet, my string onthou pêrels gereeld bekyk, my oudag se vuurtjie met vergete avonture se houtjies brand en kies om nie bang, benoud, verskrik of kwaad my te laat oorweldig nie.

My gemoedsbekakpilletjie, my bloedrukpilletjie sal ek soet daagliks gebruik, oor die oudword se goete lag en boweal, met elke nuwe dag sê: Dankie vir die nag se kleindood slaap, en vanmore se nuutskepping en beter probeer wat my gegun word.

Oudword en Suid-Afrika is nie vir sissies nie, nè. Vergeet van water tekorte, geweld, Rooikappies wat aanstig, geskokte presidente, sameswerings, vals nuus en ons pyne en skete en krimpende welvaart.

Kom ons skink liewer tee. Kyk hoe mooi fier staan die keiserskroon/haaklelie/Agapant. Koninklik purper. So is ons ook geseën, Koningskind.

Hoe gaan dit met jou?

The last of one’s freedom is to choose one’s attitude to any given circumstance- Victor Frankl