Dis Sondag komend Tuindag. Ons kruiekoningin, Antoinette Pienaar gesels met die radioengel oor die malse pers waarmee haar omtes gekleur is en hoe goed dit is om weg van skerms te kyk en in die natuur te gaan tuur, hoe dit jou siel en hartklop salf. ‘n Ware kuur, so ‘n getuur, vertel sy. So loop tuur ek in die tuin, en raai, my gemoed is lig en die son se sagte hitte na dae se bewolkigheid is salig.

Hier op Waterval het ware lente reëns emmer vol seën uitgegiet en ons hoor hoe groei alles. Dis pers en oranje en rooi en groen en die afwagting van nuwe groei oral en uitsien na die groen grasperk wat waatlemoenlekker ruik as dit pas gesny is.

Die eerste jakaranda bloeisels lê reeds spat-spat pers op die grasperk. Die boom is darem ‘n basige ene. Sit haar merk op die tuin dwarsdeur die jaar, dan blare, dan peule en dan blomme. Maar ai, sy is so mooi en windmaker waar sy bo alles uittroon dat sy maar mag. Die suikerbekkies, wewers en duiwe vind voeding, rusplek en skuiling in haar gul takke. My honde geniet haar skadu in die somer se snikhitte.

Die bloeisels is vanjaar nie uitspattig baie nie. Ek hoor in Pretoria is dit al purper pers in die strate. Wonder ek nou wat vertel ons boom, want jakaranda bloeisels en reën loop saam…

Die jong Vanwykshout is vanjaar rammetjie-uitnek. Hy swaai windmaker by die motorhuis die septer met sy trosse pers blomme. Dis ‘n gezoem van ‘n verskeidenheid nektarsoekers, klink soos ‘n konferensie as mens daar verbystap, en dan kom die gister-vandag-en-more se lieflike geur nog ook aangesweef. Hemels.

Die vygies namakwaland ook mooi. Skrale troos, ek sou wat wou gee om vanjaar se blommeskouspel met my eie oge te kon sien. Dit is blykbaar ‘n besondere blomjaar.

Die salie se pers blommetjies is vir my so mooi, soos klein orgideë. Dink ek nou aan die grappie oor die vrou wat haar huis met salie skoongebrand het om alle negatiwiteit uit te rook, hulle kon haar nog nie opspoor nie…hehe.

Hoe dit ook al sy, mag jou tuin, groot of klein ook vir jou vreugde gee.

Loop tuur,

kry daar natuurlike kuur,

dis nie eers duur.