Rots (gebore Petrus) is besonder lief vir eiers, toe hy bykans tien jaar gelede met die koerantknipsel by die huis aankom het ek amper gat agteroor geslaan. Want eier en avo en aarbeie en bokkos is nou nie sy standaard eier gereg nie. Nee, hy verkies gebakte, gekookte en geroerde eier, waarvan ‘n botter gebakte eier die absolute gunsteling is. Hy beskou eier as ‘n groente.

Nietemin, hy reken ons moet die resep van Petrus Madutlela (Toe van Le Quartier Francais, in Kaapstad en pas aangewys as die Unilever Food Solutions Chef of the Year 2009, probeer. Die Sjef Petrus is ‘n besondere mens wat van kombuisskoonmaker tot top sjef sy opgang gemaak het. ‘n Lieflike, nederige man en vandag die Chef Patron by The Poet At Matfield, in Engeland.

So bekyk ek die resep en reken daar moet kaas bykom, en spek, en vandag is Petrus se slaai ‘n staatmaker op warm someraande.

Ons maak so:

Pak lekker ‘Butter lettuce’ of daai gemengde kleurvolle blare op die bord. Roket is te bitter na ons smaak, Halveer vars aarbeie en kersie tamaties en strooi bo-oor die blare. Sny lekker romerige avo (ons hou van die fuerte variteit) in skywe en rangskik dit ook op die blare.

Ons is lui kokke, so ons gebruik ‘n posjeer pannetjie om twee eiers per persoon na smaak te maak. Maar as jy avontuurlustig is, maak die geposjeerde eiers soos die resep vertel.

Vooraf meng ek drie eetlepels elk balsamiese asyn (die wit ene), bruinsuiker en olyfolie goed en plaas dit in die yskas. Skud die mengsel goed dat die bestanddele kan vermeng, ook voor jy dit oor die slaai giet.

Rots maak vir ons in die oond strepiespek bros gaar en ons braai haloumi skywe in ‘n gietysterpan.

Die eiers, repies bros spek en die haloumi word nou by die blare bord gevoeg. Ons gooi sout en swartpeper na smaak, en Bab se groot vreugde is om die stroperige balsamiese glasuur kunstig oor die slaai te patroon, net so vir die mooi en lekker diep, skerp smaak. Laastens kom die verkilde slaaisous aan die beurt.

Dis net die krieke se gekriek en die naggeluide en ons kakebene se gekaak, as ons aansit om die Waterval weergawe van Pertus se somerslaai op die stoep te geniet. Njammies!

O, hoekom deel ek dit, dis wêreld Eierdag, maar dis Vrydag en vanaand word daar vleis gebraai op Waterval.