Foto: Taalgenoot

Vanmore luister ek die radioengel en haar tjom op RSG. Kyk Amore en Sue maak smorens voor 12 groot pret vir my en ek weet sommer klomp ander mense ook.

Voor die twee die oggend opvrolik, luister ek ook Lynette-praatsaam. Vanmore vir oulaas oor erfenis, oor Afrikaans, oor kultuur. Ek luister hoe Prof Willa Boesak en Flip Buys, soos ou vrinne ordentlik met mekaar praat oor aan wie en watse Afrikaans die ware erfenis sou wees. As almal maar so kan redeneer dink ek by myself.

Daar is streke en in streke woon mense, en mense en hulle laaie en mensstreke gee kleur aan die praattaal vanweë omtes. Die natuur, die gemeenskap, die ekonomie, die afstand van die see of ‘n waterbron, die afwesigheid van gras, die oorvloed of min aan hulpbbronne – alles maar alles sal beïnvloed hoe jy en jou mense daar waar jy geplant is sal leef, beleef en kommunikeer. Dis net hoe dit is.

Ek is mal oor annerlike Afrikaans, argaïese uitdrukkings, Afrikaaps, Standaard Afrikaans, watookal, solank dit die taal van my hart is kan jy hom met my praat en jou eie maak. Daar is genoeg skakerings om ons almal te pas en in te pas. Die danspassie wat ons moet leer is om mekaar se manier van taal te verstaan en te aanvaar, sonder voorbehoud.

En raai, ek is nie eens ras-eg Afrikaans nie. Pa was Ingels, ma, Afrikaans. Ons gesin het baie rondgetrek en so het ek nooit êrens wortelgeskiet nie. Die taal het wel in my wortelgeskiet, en halfnaaitjie-Afrikaner of te nôt, dis die taal van my hart en waarin ek met my Maker praat en my man uittrap indien nodig en lekkervurig skrywe. Sela.

Ek stem met Prof Boesak saam, die taal het hier in Afrika ontstaan, ons moet dit omarm en aanvaar dat nie almal dit dieselfde sal praat nie. Hierdie taal is in onse gene, en kan nie tot akademie en taalnazi korrektes beperk word nie. Dis ‘n taal van vryheid én verdrukking. Dis soos ek en menige Afrikaanssprekende, jy druk ons nie sommer in ‘n blik nie. Genoeg ernstig oor erfenis.

Ek luister elke Woensdag, omdat ek self nie meer weet as Oupas en Oumas se waarvandaan nie en ook nog half-half is, slaafs na die “Van waar, Gehasie” insetsel op die radioengel se program. Daar word vanmore na die van, De Vries gekyk, en ek wonder omdat die De Vriese so in die toneel en skrywe opgang gemaak het en steeds doen, of ek miskien iewers van daai gene het. En ek wonder of ek ook soos die Mellet ou wat die 1652 is jokkens boek geskrywe het, iets van Krotoa in my het. Ons Maker belowe immers ons is almal Eva se kinners….

So, terwyl ons van De Vries meer te wete kom, gebruik Aubrey Springfield, ‘n woord. Komvandaan. Die woord slaat vir my. Dis ‘n gelaaide woord en ek onthou Diana Ferrus se ontroerende gedig.

Ons Komvandaan

Was dit my ma se ma se ma, se ma, se ma

of

haar pa se pa, se pa, se pa, se pa

in boeie,

vasgemaak

en diep onder

in ‘n skip gegooi,

en nagte lank en dagte lank

gevoel het hoe waters hard

aan hulle ore slaan?

Wat was hul gedagtes?

Het hulle gehuil?

Het hulle gevrees?

Het hulle gebid

vir die dood om te kom?

Was dit my ma se ma, se ma, se ma, se ma, se ma

of

haar pa se pa, se pa, se pa, se pa?

En toe hulle hier land,

ver van familieband –

wat was hulle gedagtes?

Het hulle verlang?

Het hulle getreur

of

het hulle aanvaar?

Was dit my ma se ma, se ma, se ma, se ma

of

haar pa se pa se pa, se pa, se pa?

Nou is ons Januarie, Februarie, Maart en April,

Fortuin, Arendse, Fransman en Gabier.

Maar iewers, lank gelede,

baie ver van hier

het ons ons feeste

onder ‘n ander naam gevier!

© Diana Ferrus

Komvandaan. Dis nie ‘n woord wat jy sommer vir jouself kan vat nie, want seer geskiedenis. Ek besef dat ons moet veg vir almal se Afrikaans, ons moet opstaan vir mekaar se waarvandaan en veral ander se komvandaan. Maar ons moet die taal praat.

Julies en Tebogo en ek wat wil Afrikaans praat, al is ons nie gebore in staat om Prôtôria te besig nie; al het ons nie ‘n honneurs in Afrikaans nie – ons gee op streek- en annerlike manier kleur en lewe aan ons taal.

Ons kan die huis waar die mense onnodig ligte aanlos en nie hulle kragverbruik bestuur nie as ‘ligtelaaiers’ beskryf. Ons kan komvandaan en ‘hoessit my bra’ en djy en djou.

Ons kan dink Joe Biden het gisteraand vir Donald Trump gesê ‘fokkof’, want dis hoe Tebogo vanoggend in Afrikaans ‘please shut up’ vertaal toe hy vir die Chappies vasvra inbel. Niks daarmee verkeerd nie.

Praat die taal van jou hart. Dis jou komvandaan en ook jou kragtaal.

Aweh.

Sela.