
Dankie dat die liefde vir ons Pa ons konneksie is,
dat jy my rasielei op my glo- en Bybel herontdekkingsreis.
Welkom in Steenbokkie se sandput©
Hier in Covid-19 seerge grendeltyd, maak Bondelsgedagtes en ek nouer kontak met mekaar. Ons gesels en kom agter ons glo baie dieselfde. Lees haar Sandput toe en Woord skatte oor haar reis.
Sedertdien is die piep van die selfoon my wekker, my glo-vriendin se sagte rustige stem oor ons Pa se Woord en beloftes my pad terug na die sandput toe, om self te grawe en uit te roep: “Kyk, kyk en hoor en glo!”
Wat op dees aarde wil ‘n kwaai (so verneem ek) ou vrou met ‘n seer rug en knak knieë nou in ‘n sandput loop maak? Wel, my sandput is vir my baie spesiaal. Dit is my veilige plek, my plek waar ek oor jare geleer het om rustig te wees en die wonderlikste ontdekkings gemaak het, en nog steeds maak. Mens het weinig meer speelplek nodig as dié.
Kom ek vertel:
Ek het as eerste kleinkind van my Ouma Stompie, op haar skoot geleer bid en glo. Dis sy wat my geleer het “Liefie Heertjie, laat my rus. Amen.” Dit is by haar dat ek geleer het van “Jesus, min my,” en “Op berge en in dale,” al het dit uit ‘n kleutermond “Oom Bertus dra sandale,” geword.
Ek het vroeg leer lees, dink die grootmense in my lewe het ‘n slaak van verligting gesug dat ek myself kon besig hou.
Ek is ‘n oujaarsbaba, vandaar Steenbokkie. My kers- en verjaardag geskenke altyd een. Toe ek vyf word, kry ek die King James Kinderbybel, so ‘n mooi koningsblou omslag met die allermooiste prente, as geskenk. Ek kan onthou hoe lekker die boek na ink geruik het, hoe mooi die prent van die paradys was, en Josef en sy kleed, en Baba Jesus.
Van Kersdag tot nuwejaar hoor niemand ‘n woord uit my nie, ek lees die kinderbybel van hoek tot kant deur en stap kordaat na my ouers en vra of ek nou asselief nog ‘n boek kan kry, ek het die ene klaar gelees. Net daar word vasvra gehou, en hulle vertel my jare later dat hulle my nie kon vasvra nie.
Daar het my Bybel my sandput geword.
Ek het baie gelees en opgelees, ek was onder andere die enigste katisant die jaar toe ek aangeneem en voorgestel is. So daai katkisasieboek met die belydenis en alles kerks is behoorlik my ingedril, daar was nie wegkruipplek nie. Sondagskool gehou, kerkampe bygewoon en Bybelkursusse oor die pos gedoen.
Die lewe het egter in felheid gebeur en my vuur en lus vir my geloofsreis het getaan. Ek het vele kere weggedraai, afgedraai, neergeslaan. Soms omgedraai, neer gesak en vir my Skepper jammer gesê, net om weer lou en flou aan te ploeter, want ek is so slim en sterk en meester van my eie toekoms en prestasie en adorasie van mense het toe getel, so het seer ek gereken.
My sandput het eenkant gestaan, my Liefdevolle Vader geduldig vir my gewag. Op ‘n dag besef ek dat niks saak maak sonder God se teenwoordigheid in my lewe nie. Alles ‘n gejaag na wind en die gat in my binneste onversadigbaar. Nie kos, drank, vriendskappe, werk, my huwelik maak die holte vol nie.
So kry ek werk by die Kankervereniging se hospitium. Saam met ‘n span verpleegsters en vrywilligers, word ons 6-bed hospitaaltjie ‘n trapleer na die hemel. Byna daagliks begelei ons pasiënte en hulle geliefdes deur afsterwe. Ons leer bid en glo. Ons ervaar wonderwerke en seën. Ek bly ‘n kwaaitjie en soekend. Die pad byster.
Ons gaan bly op ‘n plaas, aan die voet van die Ysterberg. Ek kom agter dat die grootsheid van die natuur, die blou lug, die berg rondom my, my ontroer en dat ek weer met God gesels, dat ek wil Bybel lees en bid. Gaan selfs gereeld kerk. Mense en dinge gebeur, en ons sterf af aan kerk, maar huiskerk bly.
Dis nou al jare, en een ding staan vas: God laat nie sommer vir jou alleen nie. Hy is ewig, Hy is by jou, in jou, om jou. Hy lei en seën en koester vir Rots, Bab en my. En vir jou.
Daarom wil ek nederig my nuwe sandput ontdekkings voortaan hier neerpen en deel.
Ek bid #Steenbokkie se sandput© is iemand anders ook tot seën.
Jy het my nou ‘n paar maal laat sluk aan die knop in my keel. Die journey wat ons deel met ons Pa, is kosbaar spesiaal en iets wat ek as skat styf in my hart toegevou het
LikeLiked by 1 person
💝🙌
LikeLike
Dit is lieflik dat jy ‘n plek van rus ontdek het. Ek hoop elke sandkorrel wat jy deur jou vingers laat gly, bring vir jou vreugde en geluk.
LikeLiked by 1 person
Jy kan dit glo. Dankie Hester.💝🤗
LikeLiked by 1 person
Dit is beslis vir my tot seën. Wonderbaarlik om jou perspektief te lees. Hou so aan. Ons almal het sulke insig nodig. 😘💖
LikeLiked by 1 person
San, jy maak my hart bly. Dankie, jy is vir my tot inspirasie met jou lofdigte en biosphere.
LikeLike
Ek leer so baie by jou. Dit is heerlik om jou wyshede te lees. Jy is besonders. 💖
LikeLiked by 1 person
Die besonders is meer soos geslyp en geskaaf. 😉Ons is mos maar almal uniek, liewe mater.🤗
LikeLike
Baie waar. Lekker spit! 💖
LikeLike
Pragtig geskryf soos altyd. 💕
LikeLiked by 1 person
Dankie dat jy kom lees .💝💐
LikeLike
Ek sien uit daarna
LikeLiked by 1 person
‘n Pragtige skrywe oor jouģ geloofspad
LikeLike