Scrapy wil dat ons oor skoene vertel en haar Wasdag is al amper verby. Sal seker die agteros in die kraal met my relaas wees.

My eerste onthou aan skoene was rooi hakskoentjies wat my Tannie Stella by haar Indiërvriende vir my aangekoop het. Dit was piepklein grootmensskoene, ek dink ‘n nommer 3 of 4 wat in hulle winkel net vir my gewag het! Ek was lekker bederf as eerste kleinkind in die familie, en het vir my eerste vier jaar regeer. Saam met die rooi hakskoene onthou ek ook my Davy Crockett hoed en eerste paar jannas. Verbeel jou Juffrou Haaipolfaai Rabbadoe! 

Vandag sukkel ek met sulke half dooie tone, danksy afstap skool toe in die ryp en kapokkoue van die Ooskaapse winters in Kokstad. My swartmeraia kouse en Harley Streets het niks gehelp om winterstone en die gagga gevolge te keer nie.

Op Universiteit was my gunstelingskoene sulke kurkwighakskoene met sagte olyfgroenleer so oorkruis. Ek is oortuig ons het maar soos  Jarjar Binks en sy Gungans in  Star Wars gelyk as ons straat af is! My kamermaat, en sielsvriendin nog steeds, was mal daaroor om my skoene in die koshuisgang af te paradeer, wat vir hiper-netjiese ek op daardie stadium tot raserny kon dryf. Menige middag het mens ons twee aan die gil die gang af gekry tot ons maats se vermaak, en soms irritasie.

Ag, die dae van ons jonkwees.

Een stel platforms het vir my reg voor die Landbougebou wat ons koshuis, Tankotie se ongeskikte fluiterige buurman was, soos ‘n os laat neerslaan, darem toe so verskalwertjie van ‘n os. Oemf, ek onthou nog die neerslaan en bly lê oomblik. Ek was laat vir ‘n toets. Twee khakihemde het my kom ophelp, en ek het maar tieties en knieë afgestof, my gevalle kroontjie reggetrek en verder aangesnel. Ek moes eers toets skrywe voor ek kon bloos en kommer oor wat die manne gade moes slaan.

My trouskoene was duurder as my rok. nee, moenie omval nie. Ek het in ‘n kreukel Indian cotton rok getrou, het maar R30 gekos. Rots is effe korter as ek. Gelukkig het Lady Di teen daai tyd reeds, plathakke om nie bo haar prinspadda uit te troon nie, mode gemaak. So behalwe kreukels in my rok, was die plat trouskoene my raakpunte met haar. My begroting was egter nie in haar liga nie. Hehe. 

Het jy al op hakkies op supermark teels rond moes hol?  My voete protesteer vandag nog. Ons is as streekskakelbeamptes deur Chubby Checkers verplig om grys rompe, wit bloese, geel serpies en swarthakskoene te dra. Ek het agt winkels vanaf Pietersburg (nou Polokwane) onder my sorg gehad. Baie kilometer gereis en dan op die hakkies op gladde teels moes trippel. Eendag in Polokwane het die burgemeesteres met daai simpel houthak aanglip plakkies by die vrugteafdeling skeef getrap, die houthakke het in ysskaatslemme verander,  en sy het met min aplomb neergeslaan. Wat ‘n drama: die eerste burger van die dorp daar tussen die piesangs en druiwe op haar rug. ‘n Ambulans draagbaar, blomme en tjoklits gedoente. Plaas sy plat skoene gedra het, het ek maar by myself gedink terwyl my tone in die hofskoen kla. Vroulike ydelhheid.

 Vandag kan ek my verpes aan skoene lekker uitleef. Hier op Waterval loop ek meestal kaalvoet, lekker ge-aard in die somer,en in die winter sal jy my in sokkies kry. Die honde en  my gesin gee gelukkig nie om nie. Word ek nou en dan vrygelaat dorp toe, dan is my aanglip leer Blu Betties my trappers vir die dag.

Wyse raad oor skoene en meelewing: “Loop eers ‘n myl in iemand anders se skoene, dan sal jy beter verstaan.”