burning

Die skildery van Andrea Kowch, eintlik al haar werk, tref my toe ek so op die Vuisboek rondblaai. Dis op ‘n blad wat sorgsaam lieflike betekenisvolle woordsnoere en skilderye plaas. Gaan loer gerus by Ravenous Butterflies..

Die aanhaling daarby: “She did not need much, wanted very little. A kind word, sincerity, fresh air, clean water, a garden, kisses, books to read, sheltering arms, a cosy bed, and to love and be loved in return.”

Die woorde van Starra Neely Blade is al jare in omloop.

Ek sit so en kyk en lees en klomp ironie en teenstelling tref my.

Wat is die prys van ‘min’ dinge. Wat kos dit om skoon water, tuine, boeke, warm bed te wil hê? Wat gebeur met jou as dit onbekombaar is, as jy nie eens basiese middele om jou behoefte aan veiligheid en beskerming kan bekom nie?

Dan gaan boeke brandhout word en wie ook al nader kom,  kwaai afgejak word. Vra die welmenende tannie wat vir ‘n honger straatloper ‘n paar ontwerperskoene en ‘n Bybel wil gee gee.

Wat kos liefde, koestering, opregtheid, veiligheid? Veral as dit nie wederkerig is nie. Eenrigting liefde en omgee is uitputtend.

Om diensmaagd  vir ander se arrogansie en selfsug te wees maak sagte omgee en koestering ‘n turksvy. Die wêreld is ‘n plek waar geveinsdheid aan die orde van die dag is. Die oënskynlike glimlag en omgee so oppervlakkig soos ‘n Vuisboek status of WhatsApp boodskap. Maklik om uit te deel, en jy hoef nie werklik in die wit van seerkry en alleen se oë te kyk nie.

 

Veiligheid, sjoe ek wil eintlik nie eens daaraan dink nie. Met alles so boos en korrup in ons land, die geweld en moorde. Nou weer sommer hier naby ons  ‘n verkragting en skietery (een van die bliksems is dood na hy met die polisie by ons stad se sirkel slaags geraak het) – dis ‘n duur ding om voor te wens en a die veiligheidsmaatreëls in die wêreld is geen waarborg nie.

Die skildery en woorde daarby waarsku teen naïewe wensdenkery wat mooi snoere soms verkondig. Dis net woorde en prentjies.

 

Nee, Lekkervurig is nie so sinies nie. Op hierdie gegrendelde Vrouedag,  waar ou CR op Vuisboek voos gevoetsek word oor hy waag om lewendig sy orasie te lewer; waar mense bang en seer en rou is na aanvalle;  waar 37 mense gisteraand in Limpopo  en honderde elders aan Covid-19 komplikasies oorlede is;  meer as 500 000 mense die gogga reeds had, of het; waar mense snak na hulle asems, tref die boodskap in die skildery my.

 

Die huis waarvan die venster op die brandende wa uitkyk is jy. Die vrou wat vir jou kyk is jou siel. Sorg dat jou huis, jou binnewêreld heel is en jou siel kalm, maak nie saak wat daar buite aangaan nie. Al brand dit buite, al lê die oes braak.

Dis tog  net ‘n oomblik, hier op aarde. Jy bepaal die kwaliteit van jou tyd hier. My happie waarheid op Vrouedag 2020.