Sondag 1 Augustus 2020.
Oudergewoonte is ek douvoordag op die koue Sondagoggend wakker. Stap kombuis toe om die voëltjiekos te loop haal en dan, wanneer die kossies uitgestrooi is rustig op die stoep die opkom van die son in te wag. Dis weer ‘n lieflike oggendstond met goud in die mond. Dis rustig en mooi, maar vanmore het ek ‘n besoeker wat my gedagtes vul. Ek groet knop in die keel.
“More, Breggie. Ek het jou en jou man en kind nie geken nie, maar ek weet van die vreeslike omstandighede rondom julle dood. Daar op Harstwater waar julle wou aansit vir julle Sondagmaal, net soos wat ek nou-nou gaan begin berei.”
Betraand tuur ek na die opkomende son. Ek begin bid. Ek roep na God.
“Here, dis aaklig hier, dis wreed en vreemd en so onseker. Dankie dat ek dit mag uitroep na U, soos Abraham ook destyds uitgeroep het of daar nie ‘n ander manier, behalwe sy kind se lewe was wat vir U aanneemlik sou wees nie. Iets anders Here, enigiets anders. Here ons sit soos Job en sere krap in mishope van mismoedigheid, in die as van die reënboogland se verbrande vure. Hoekom, vir wat? En dan tref dit my, dit is nie U wat hierdie post-moderne, oor-polities korrekte samelewing geskep het nie. Nee, daai het die mens mooi op sy eie reggekry. Die eerste was grootmaak sonder pak slae in Dr Spock se dae. Ons eie ekkigheid, self waan en arrogansie het ons in ‘n vergryp mensdom omskep. Ons moderne lewe en tegnologie het ons van menslikheid en redelikheid gestroop. Dankie dat U volkome lief vir ons is, selfs die moordenaars en haters. Here dis vir my swaar om daarin te berus. Kyk wat het met Breggie en haar gesin gebeur. Here, kyk die wrede statistieke en misdrywe teenoor vroue en kinders en boere. Here kyk die slagting van hulpbronne deur gieriges. Daar is soveel boosheid oral, terwyl ek rustig oor die veld kan kyk waar die nyala vreet en die lyster op die grasperk sy oggendsang kweel. Here, ek weet dit is nie U plan vir ons nie. Ek besef hoeveel dinge het te make met oorvertelde mites, onregte, armoede, haat en materialisme, alles mensgoed. Here, my gunsteling rebel prediker, Nadia Bolz-Weber het ook verlede week gebid dat hierdie rêrig ‘n ‘shit-show” is. Dis rêrig asof ons onder dwang in ‘n vuil vlooiflieksaal toegesluit is en verplig word om sonder onderbreking, sonder springmielies en ‘n slushie, aanhoudend na banale, oppervlakkige moewies moet sit en kyk, en kyk en kyk. My hart is vol kwaad. Vergewe my my uitbarsting en dankie dat U my toelaat om dit by U af te pak.”
Ek draai om om die huis in te gaan, Breggie is uit my gedagtes weg. Die honde en my liefiemense slaap snorkend, die yskaste sing agtergrondmusiek.
Uit die vrieskas haal ek vleis uit. Breggie is terug.
“Breggie, het jy ook op jou laaste Sondag so vrieskas toe geloop om vleis uit te haal? ‘n Liefdesmaal vir jou mense beplan, manlief se gunsteling poeding aanmekaar geslaan? Die foto van julle drie op die boot is net soos Dana geskrywe het, ons almal se gesinsfoto. Het julle covid-maskers by die deur gehang? Julle was besig om toekoms te beplan, om te verhuis. Alles net so weg. Wat sou hulle gemotiveer het. Het jy die vrou met haar stukkende trui en die mans wat julle so wreed oorval en ontmens het, geken? Ek het ‘n video onderhoud met haar broer gekyk, hy is verslae, Breggie. Die vraag wat hy vra is wat het haar besiel, ken hy haar enigsins die seer vrae wat hy vra. Niks wat niemand doen of sê kan julle terugbring nie. Daardie vyf paar oë, en stemme die laaste wat julle gesien en gehoor het.“
My hart ruk.
“Ag, Breggie, het julle in daardie oomblikke geweet God is by julle, dat Hy julle nie verlaat of versaak het nie? Al is julle deur lyding, en angs en pyn, dat Hy daar was om julle met oop arms en alles liefde te ontvang. Dat julle vir altyd toe verhuis het, na Hom?”
Ek stap terug stoep toe om die super platboom ysterpot uit die braaikas te loop haal. Op diie spyskaart is lamskenkel en -nek, met stampmielies en ‘n gestoofde patat. Eenvoud, aards. Uie, knoffel, seldery en wortel smoor aans in botter en olie. My skielike trane is nie van uie nie. “Breggie, dis oor julle, hierdie huil. Oor jou laaste Sondag by jou stoof.” Ek sout amper self die vleis.
Later voeg ek die vleis by en braai die buite kante seël. Lekker tiemie, tamatiepuree en Oxo skaapblokkies in kookwater bedek die vleis en toe is die deksel en die plaat word afgedraai na medium laag. Ek gaan kruip terug in die bed sodat ek koffie kan drink en kan luister na Loof die Here. Maar nes die vleis op die stoof prut my gemoed en ek bid en gesels tegelyk.
“Here, wees ons Ware Noord, maak ons sterk, hou ons veilig. Ek is so jammer Breggie. Mag julle drie en duisende ander voor julle omvou in God se liefde vir altyd veilig en heel wees. Sy Naam is El-Shadai. Ek leer nou Hebreeuse woorde om Sy woord beter te verstaan. Die ‘shadai’ verwys volgens bronne na ‘my bors’. God ons voeder, behoeder, versorger, God van allesomvattende oorweldigende onbegryplik groot Liefde. Yaweh, Ek is, behoed ons asseblief.”
Ek lees vir ons Psalm 23 uit Die Boodskap en my hart word stil. Rus in vrede Breggie, Elzabie en Oom Dan.
“Die Here sorg vir my soos ’n herder wat sy skape oppas;ek het niks meer nodig nie. Hy gee vir my die heel beste van alles: kos, veiligheid en vrede. Omdat die Here by my is, bekommer ek my nie. Wanneer ek moedeloos word, laat Hy my die lewe weer anders sien. Hy gee my die krag om elke dag reg te lewe.Soos ’n goeie gids lei Hy my elke dag om volgens sy wil te lewe. Almal in my lewe kan sien hoe belangrik God is. Selfs wanneer die lewe vir my so donker word dat ek nie weet watter kant toe nie,sal ek nie bang wees dat probleme my onderkry nie, want U is altyd by my. Dit troos my dat U my lei en beskerm. U laat my veilig voel. Soos ’n gasheer sit U net die beste van die lewe aan my voor; hulle wat nie naby U lewe nie, kan maar net verleë toekyk. U behandel my soos ’n spesiale gas; ek geniet alles in oorvloed. U sal vir my goed wees en my liefhê so lank as wat ek lewe; ek sal naby U lewe tot ek die dag doodgaan.
Die Boodskap2002. Gebruik met toestemming van Christelike Uitgewersmaatskappy,Posbus 1599, Vereeniging, 1930. Alle regte voorbehou.
*Breggie(73) en Dan (83) Brand, en hul dogter Elzabie (54) is op 26 Julie 2020 met geweld uit hul hoewehuis in Hartswater geneem. Twee dae later is hulle lyke in die veld gevind. Wreed vermorsel en vermoor. ‘n Vrou en vier mans is reeds in hegtenis en het al in die hof verskyn.
Lees en luister na meer hier: https://www.pressreader.com/south-africa/die-burger/20200803/281616717706305
Ek huil net…..😭😭
LikeLike
Ek moes dié eina uit skrywe
LikeLike
Dis mos hoekom ons skryf….😍
LikeLike
ai Vuurtjie. Ek het nie radio of tv nie so ek ken nie die gebeurtenis nie, maar wil ook liefs nie gaan kyk nie. Maar jy skryf so mooi dit roer my hart en gebed..ek is so bly jy en El Shaddai loop so mooi saam
LikeLike
Ek is dankbaar jy het die Lig vir my geskyn.💐🤗😇
LikeLike
Vuurtie, die pad wat jy loop word deur Sy lig vir jou verlig. Ek is net ‘n inocent bystander wat dankbaar kan saam reis..
LikeLike
💐🤗
LikeLike
Wat ‘n pragstuk! Jou talent om seer te verwoord gryp my nog altyd aan. Ek voel die rou pyn en die trane. Maar veral hoe verslae ons almal al voel. 💜
LikeLike
So mooi, van my talentvolle digter maat. Dankie 💝
LikeLike
Twee keer vandag het jy my in trane in geskryf – eers met Maggie en nou met Breggie. Jy verwoord so goed wat ander nie kan sê nie.
LikeLike
Ek wil nie seer maak nie, net oppspoel dat seer kan gesond kom. Dankie dat jy kom lees. 💝💐🤗
LikeLike
Dit is goed dat jy oopmaak. Dit vat baie moed om dit te verwoord. Dankie vir die gevoelvolle beskrywing.
LikeLike
Mens wil soms bars, en dan skryf mens en sit verstom dat jy stem word vir ander.
LikeLike
Ja jy weet van ek weet van ook. Hul het nounet n stuk gewys oor n baba wat eintlik dood gebore is en wat aan lewe gehou is vir n tydjie. Daardie pyn en gevoel van die ouers is onbeskryflik. Die berader het klem gelê dat mens moet praat oor die gevoel binne jou. Veral ook gepraat oor hoe swaar dit vir die man of pa is want niemand vra regtig oor hoe hy voel nie. Meeste gaan oor die liggaamlike gevoel nie die innerlike gevoel van die man nie.
LikeLike
Jy praat waar.
LikeLike
Ek lees jou klompie skrywes van die afgelope tyd. Dis altyd so lekker,- soms moerig, soms vrolik en so gaan jy aan. Maar hierdie een was vir my so spesiaal. My kinders in Hartswater ken hierdie mense. Frida van die video werk vir my swaer. My kleindogter kyk na die video van die optog en sê: Ek ken hierdie tannie. Ek en Ouma Nannie het al by haar koffie gedrink. Dan kom jy agter presies hoe na aan jou eie lyf hierdie ding sny. Dis vir my so wonderlik dat jy vir Breggie gekook het. Verlede naweek was ek vasgevang in ‘n Weltschmerz wat ongekend is. So hartseer oor hierdie ellende van die wêreld. Die ding dat jy ter ere van Breggie n ete gekook het, is vir my een van die mooiste goed ooit. Soms, as iemand nie mooi luister na die uitspraak van my naam nie, noem hulle my ook Breggie. Ek erre my daaroor, maar van nou af aan, sal ek dit met liefde aanhoor Breggie ter ere.
Dankie vir hierdie wonderlike stuk skryfwerk.
LikeLike
Liefste Bitterbossie, ek is bly as my kook en skrywe tot seën en salf is. Sterkte vir julle wat nabyseer beleef 💐
LikeLike
😢😢😢
LikeLike
Mens het nie woorde nie.
LikeLike
Ek her nog altyd kalm gebly met die wreedheid, maar die vrou het wraggies met my gemoed gebodder . Dink dis oor ons huis ook ma, pa en dogter is. Rêrig moes ek haar uitskrywe, voor al die emosie bedaar het.
LikeLike
Ek kan net my kop skud. Waar gaan dit eindig, die sinnelose wreedheid? Hoe gaan die haat gekeer word?
LikeLike
Het nie antwoorde, mens moet maar net jou omtes en binnekant veilig hou, een dag op ‘n keer.
LikeLike