
‘There is no bitterness. No pro-Boer or anti-British propaganda. A very intimate and strikingly honest account . . .’ – Fransjohan Pretorius
Dat ‘n geskiedkundige so mooi praat van ‘n memoir, het my nuuskierigheid dadelik geprikkel en gou is “Maggie” van Maggie Jooste in my Kindle biblioteek.
Dit is die onthou van ‘n vrou wat as tiener saam met haar moeder en sibbe van Heidelberg as ontheemdes na die Howick konsentrasiekamp geneem is tydens die Anglo-Boereoorlog. Die manuskrip het vergete op ‘n rak bly lê om 57 jaar herontdek te word en nou gepubliseer is. Ek sê dankie aan haar familie, dis ‘n skat.
Haar kleinneef, Graham Jooste skrywe so oor die vrou in die nawoord: “Maggie het die era van die beskeie ossewa, die koms van die eerste motor en die eerste vliegtuig, drie oorloë en die lansering van ’n ruimtetuig wat om die aarde gewentel het, beleef. In 1962 is sy in die ouderdom van 76 jaar op George oorlede. Sy was ’n waarlik nederige, minsame en wonderlike mens.”
Aangrypend en eerlik kom sit Maggie Jooste sommer met haar eerste woorde langs jou, en dis jou oumagroot en haar geslag wat die ABO en konsentrasiekampe oorleef het wat saam hulle verhaal vertel. Vir my, in hierdie ontrederrende vreemde Covid-19 tyd en sy vele gevolge op ons bestaan en voortbestaan, is hierdie ‘n juweel. ‘n Vertelling wat mens diep tref.
Maggie bevestig soveel dinge wat as stories oor die oorlog en vroue en kinders se ervarings in daardie, afgemaak is.
Haar verhaal maak my oumagroot se storie weer glashelder in my onthou wakker. Hier in Vrouemaand, in ‘n tyd waar ‘n swanger ma vermoor is, ‘n ma en dogter uit hul huis ontvoer en vermoor is, wys Maggie my dat vroue oor baie tye heen deur bang, onseker en vrees moes beur en alles ten spyt, dat hoop nooit beskaam nie.
Maggie herinner my dat ons van sterk stoffasie gemaak is en dat ons die lewe vierkant in die oog kan kyk, dis geneties.
‘n Resensie is nie wat ek hier wil doen of kan nie. Ek wil julle aanmoedig om hierdie verhaal deel van jou lees skatte maak. Dis goed vir die siel.
Hier is van my onderstreepte lyne en eie gedagtes uit die hartgryp vertelling en onthou:
Maggie vertel hoe hulle uit hulle huis met besittings wat hulle kon dra, en dansky hulle Engesle vriend, ene mnr Russel, moes Sukkel Heidelberg stasie toe. Daar is hulle in vee trokke gelaai, sommiges oop. Die beesmis nog op die vloere, smerig. Sy onthou hoe die mense op HOwick stasie hulle kom aangaap het. Sy skrywe:”Was dit uit jammerte of uit nuuskierigheid om te kom kyk hoe die vuil Boere lyk?”
Die storie oor die vuil boere vind mens oral in geskiedenis skrywes. Ek word elke keer bloedig kwaad. Hoe in die lewe kan jy skoon bly as jy in veetrokke vervoer word vir dae? Hoe kan jy skoon bly as jy geen toegang tot skoon water het nie, hoe kan jy wasgoed was as jy seep het, maar geen water nie?
In herinneringe aan die lewe in die Pietersburg konsentrasiekamp, het ek iets soortgelyk raak gelees. Die steenkool en water is op Pietersburg stasie gelewer, meer as drie kilometer van waar die vroue en kinders in die konsentrasiekamp aangehou is. Verdomp.
Ek lees ontroerd hoe Maggie die primusstofie wat hulle in die kamp gebruik het wat ‘n lamp geword het beskrywe: “…is vir sy ronde voetstuk gebruik, maar vir die regop staander is die dierbare, getroue ou primus net so behou met die bakkie waarin die spiritus gegooi is. Net diegene wat die gebruik van ’n primus kan onthou, sal ook die sentimentele waarde van dié leeslamp kan waardeer.”
Later in die memoir vertel sy hoe kosbaarhede en kleinode versteek is. “Van die goed het verlore gegaan deurdat hul eienaars oorlede is en hul huismense nooit geweet het waar dit begrawe was nie. Baie is ook deur swart mense of ontroue familielede uitgehaal. Ma se mense het egter heelwat van die goed teruggekry wat hulle begrawe het. Ek het byvoorbeeld ’n pragtige, silwer halssnoer met ’n hangertjie wat omtrent ses geslagte oud is, asook ’n koperkandelaar wat my ouma begrawe en weer ná die oorlog gekry het.”
In hoeveel huise oor ons land is daar ‘n lepel, mes, kierie of keteltjie wat so behoue gebly het? My oumagroot se lepels en botterbakkie het ek agter glas laat raam en die kleinode is toeskouer van etes by my eetkamer tafel.
“As ek vandag sien hoeveel voorregte, baie boeke, papier, speelgoed, klere, skoene, en gerief die kinders het– en dan steeds ontevrede en ondankbaar is– gaan my gedagtes terug na my eie broers en sussies wat met absoluut niks moes klaarkom,” skrywe Maggie in die laat 1960s. Ek lag en wonder wat sy van vandag se materialisme en verbruikersamelewing sou sê.
My oumagroot het donkiejare gelede tydens ‘n familie saamkuier ‘n moeseliendoekie wat sy langs die familie Bybel gebêre het, uitgehaal en vir ons agterkleinkinders vertel van die Engelse se wreedheid. In die doekie was vishakke, glasstukke. Ek onthou Oumagroot se stem klokhelder. “Hulle het dit in ons kos en water gesit. Varke, hule was varke. Hulle wou ons uitwis. Ons is onteer, verneder. Maar ons het oorleef,” het sy met drif vertel. Ek kan onthou hoe sleg ek gevoel het, my pa was Engels. Oor ‘onteer’, het ek eers heelwat later begryp wat sy bedoel het.
Hieroor vertel Maggie self:“Dit was so ’n skandvlek op ons edele vroue en meisies se name dat ek nooit daarna weer daarvan gelees het nie. Toe ek ouer was het ek baiekeer gedink wat ’n bitter smart dit vir die burgers moes wees om ná al hul lyding en opofferings hul vrou of dogter terug te kry met ’n buite- egtelike kind– en dit van die vyand. Miskien moes ek dit ook maar verswyg het, maar dit bly my nog so helder voor die gees.”
Die verswyging van wat met vroue en dogters gebeur het is vir my een van die grootste onregte teenoor vroue. Die Kwien en haar mense en die manne van daardie tyd sal nooit askies genoeg kan vertel nie. Sela.
Behalwe ontberinge was geestelike seer en letsels gelaat het, het die swak omstandighede ook die vroue en kinders se gesondheid geknou. Maggie beskrywe dit so: “Net soos met die merke op my been, het sy die groot rooi merk haar lewe lank gehad. Baiekeer as ’n Engelssprekende verpleegster vir my vra watse merke dit is, sê ek: dis waar die Engelse my met ’n haelgeweer geskiet het.”
Maggie se ma blyk ook ‘n ystervrou te gewees het. Haar geloof het haar immer hoopvol gemaak, selfs toe sy kommer oor hoe sy haar kinders gekleed sou hou, het “haar Hemelse Vader na wie sy altyd met al haar nood en behoeftes gegaan het, het weer haar gebede verhoor. Sy moet vir haar en ons kinders genoeg uithou vir twee verskonings elk, en as daar oorbly, kan sy self besluit aan wie van die Heidelbergse gemeentelede sy nog iets wil gee.”
Aangrypend hoe sy haar onthou aan die koue winter en vredesluiting beskrywe: “Die nag van 31 Mei het ’n vreeslike stormwind gewaai. Die grond was baie nat en die sterk wind het ’n klomp tente omgewaai. Gelukkig het die onderste ry waarin ons tent was nie die ergste krag van die wind gekry nie. Honderde vroue en kinders moes skuiling soek totdat die weer oor was en hul tente weer opgeslaan kon word. Die storm het ’n hele paar dae aangehou. Baie mense het in die gebou van ons kerk en skool geskuil, of in die waskamers. Net voor ons tent teen die doringdraad het ’n menigte goed, waaronder klere en beddegoed, in die modder vasgespoel. Ons almal het maar gehelp uithaal en afspoel om te sien aan wie dit behoort. Geeneen van ons het geweet dat juis daardie paar dae vir ons land en volk van so ’n ontsaglike groot belang was nie. Op Vereeniging in die Transvaal was ons generaals met die vredesonderhandelinge besig.
Toe die nuus kom dat die oorlog verby is het ” die vroue wat so lank gevange gehou is, kon byna nie glo dat die dag van bevryding aangebreek het nie. Party het hardop gebid, ander het “Prys den Heer” gesing, sommige het gelag of gehuil, ander het net daar gestaan, verslae. Die groot vraag was: Het ons ons land behou of verloor? En toe die bittere teleurstelling– verloor, verloor. Waarom, Here, moes ons almal dan so lank ly, en so baie dierbares deur die dood verloor?”
Hulle gesin moet in die kamp bly en haar pa in verbanning totdat hy “onder dwang die eed van getrouheid afgelê en kon hulle na hul vaderland terugkeer. Dit was vir hulle bitter om te aanvaar dat al hul lyding en opofferings, die verlies van kosbare lewens, die lyding van die duisende vroue en kinders in die konsentrasiekampe, die verlies van al hul besittings, alles, alles, vrugteloos was. Duisende jong kinders moes nou huis toe gaan met hul gesondheid geknak en ’n groot agterstand in onderwys. Dit sou jare duur om dié verlore onderrig in te haal– en baie sou dit nooit inhaal nie. Wat ’n vreugde was dit om te hoor dat ons huis toe kon gaan. Ons kon al ons (baie!) besittings saamneem– die drie ou verroeste ysterbedjies, die tafel en twee banke, en ja, ons kampketel, die ou swart ysterpot.”
Kosbaar is haar onthou aan hulle kamp hen: “Ons het ook ’n mak hennetjie gehad met die naam Breggie Jooste wat gereeld ’n eier gelê het– sy is in ’n kissie gesit en saamgeneem. Sy het baie oud geword en toe sy later dood is het ons haar ’n plegtige begrafnis in ons tuin gegee.” (Min het ek geweet dat net ‘n paar dae ‘n ander Breggie ons land in trane sou gehad het en by my spook)
Sy vertel hoe ‘n skok dit was om na hulle verwoeste woning op Heidelberg terug te keer en die swaar en opoffering wat die eens selfversorgende trotse gesin moes deurmaak. Dat hulle besondere mense was is duidelik te sien hoe hulle as familie saam besluite oor die toekoms gemaak het en gewerk het sodat die kinders opleiding ontvang. Sy vertel: “Ons arme ouers het skielik verouder, hul gesondheid was geknak en hulle het niks gehad om weer mee te begin nie. Natuurlik was daar van die Engelse geen vergoeding nie, en ook nêrens ’n werk nie. Waar daar ’n opening was, is dit aan die National Scouts en ander ontroue Afrikaners gegee. Van Pa se florerende wamakersbesigheid was nie ’n steen opmekaar of ’n enkele spyker te sien nie. So moes hy op sy oudag by ander ambagsmanne gaan werk. Cornelis wou graag weer in die telegraafdiens gaan werk maar omdat hy ’n bittereinder was, kon hy ook nie daar werk kry nie. Daar sit ons toe met die kinders wie se onderwys al ver gevorder moes gewees het, maar hulle was ver agter in alles omdat hulle byna ’n volle drie jaar sonder enige onderrig was. Vir hulle was daar net die skool van beproewing waar hulle bitter gely het. Maar weer het ons Hemelse Vader uitkoms gegee…Ons vier moes saam met ons ouers beraadslaag oor wat om te doen. Pa moes die aanbod òf afwys òf aanvaar…Vir arme Ma sou dit meer werk en minder hulp beteken, maar dan sou ons vier ouer kinders kon gaan studeer.”
Maggie was ‘n vuurvtreter en trotse vrou. Hiedie staaltjie het my hart warm gemaak: “Van Pa en die seuns se klere weet ek nie meer nie maar op die portret het Ma en ons drie dogters ons rokkies aan wat sy ses maande tevore in die Howick- kamp gemaak het. Ons het elkeen ’n wit borsspeld aan met ons name daarop. Dié portret het jare later by ’n artikel oor konsentrasiekampe verskyn. Die skrywer het daarby geskryf dat, siende dit ’n na- oorlogse portret is, dit lyk of die Jooste- gesin ’n uitsondering was want daar is geen teken van lyding en ontbering nie. Ons het geleer om dapper en braaf te wees en nie met lang gesigte rond te loop nie. Ma het ons ook geleer om onder alle omstandighede netjies te wees. Daarom het die buitewêreld nooit geweet wat ons deurgemaak het nie. Dieselfde skrywer het opgemerk “dat ons briewe wat ons oor en weer geskryf het dan altyd opgewek en sonder klagte was. Dus het ons dit blykbaar nie so swaar gehad nie”. Gelukkig het ek die skrywer kort daarna ontmoet en sy kop goed vir hom gewas. Jy het geen reg om aanmerkings te maak oor spel- en taalfoute wat ons as kinders gemaak het en nog minder oor wat ons as ouers en kinders oor en weer geskryf het nie, het ek onder meer gesê. En bygevoeg: Het jy nie die verstand om te besef dat al daardie korrespondensie baie fyn deur die Engelse gesensor is nie? Ons was daarvan bewus as ons onder die moeilike omstandighede woorde aanmekaar geskryf het. As ons dit gewaag het om van honger, siekte en smarte melding te maak, is dit deur die sensor uitgeknip. Ek vra toe ook vir hom of hy ooit in briewe van my of Ma gelees het wat ons moes deurmaak met die vreeslike sere aan ons bene, en dat Ma se been amper afgesit is? Ons het nie daardie smart bekend gemaak nie om ons pa en broers dié ekstra bekommernis te spaar.”
Maggie is later geskool en getroud en die 1918 Spaanse Griep het ook haar nie ontsien nie. “Die groot griepepidemie van 1918 het ons in daardie deel van die Transvaal nie so erg getref nie, maar in die winter van 1921 het die griep die hele plaas getref. Al die bewoners– sowat 60 gesinne– is geraak. Toe die griep daardie Junie feitlik almal op Witpoort plattrek, was Gawie ook lank ernstig siek met dubbele longontsteking en klein Bartel met kinkhoes. Al die bediendes het weggevlug na hul huise. Daar was soveel ellende orals dat niemand kon gaan verneem hoe dit met die bure gaan nie. Toe word ek siek en ons kind het alleen in die huis rondgedwaal, totdat ek vir hom sê hy moet op die stoep gaan staan en roep. Ek kan nog sy stemmetjie hoor: “Omie, my mammie hoep ge jou.” Gelukkig hoor ’n man hom en toe hy in ons kamer kom, kon hy sy oë nie glo nie. Ons twee lê toe al vir dae sonder kos of versorging. Ek het net gesê: “Bring tog vir my man kos, hy gaan dood van die honger.” Hy het dadelik hulp gebring en iemand gestuur om ’n dokter op Ventersdorp, sowat 21 myl [sowat 34 km] daarvandaan, te gaan haal. Daar was destyds nie genoeg dokters en verpleegsters nie. Gelukkig het ’n paar dieselfde dag van Johannesburg daar aangekom en het dr Schulenburg en ’n verpleegster die aand na ons kom kyk. Hulle het my na die vrykamer gedra en my skoongemaak en by my in ’n heerlike skoon bed gesit. Die dokter het lank by Gawie gebly. Toe kom sê hy dat hy baie bekommerd oor hom is want albei sy longe is erg aangetas. Hy sê toe ook dat Barteltjie dubbele longontsteking het; ek weet nie hoeveel dae hy so alleen en onversorg was nie. Die Engelssprekende verpleegster was baie gaaf en het by ons gebly. Sy kon nie verstaan dat ons so sonder kos of versorging was nie terwyl daar kos van alle soorte op die spensrakke was– volop melk, botter, eiers en vrugte. Eers teen die sesde dag kon ek in ’n stoel sit en my kind in my arms vashou. Later het die verpleegster vir my gesê sy kon sien dat daar geen hoop vir hom was nie. Hy het die nag van 2 September vinnig verswak. Die verpleegster het Gawie gaan haal om by ons kind op die dubbelbed te lê. Ek het tussen kussings op ’n stoel voor die bed gesit. Heelparty van die bure het oorgekom. So het ons die lang ure by ons enigste klein liefling se sterfbed waggehou totdat hy teen drieuur die oggend van 3 September 1921 van ons weggeneem is. Sy pragtige bruin ogies was vir ewig toe, sy oulike stemmetjie stil en sy voetstappies sou ons nooit weer hoor nie. Vier van Gawie se skoolmeisies het sy pragtige kissie gedra. Die plaaskerkhof was naby ons huis maar arme Gawie was te swak om soontoe te loop. Die gemis was ondraaglik en ek kon niks anders dink en vra nie as “Waarom?” Van al die honderde mense in die omgewing was ons dierbare seuntjie al een wat weggeneem is.
Hoeveel van ons families gaan in hierdie Covid-tyd so ervaring hê?
Haar geliefde man is in 1941 oorlede en sy vertel dat sy laaste woorde aan haar was: “My vrou, jy was vir my goud werd. Wat ’n soete druppel in my bitter beker.”
Wat ‘n lieflike verklaring aan ‘n besondere vrou. Haar slotwoorde toe sy op 76 die onthou neergepen het is ook my bede: “Vir die res van my lewensjare, hoe kort of lank dit ook al mag wees, vertrou ek dat my Hemelse Vader my aan Sy hand sal hou.”
Ek hoop jy sal Maggie se storie ook geniet en baie daaruit put en hier in vrouemaand en vorentoe die sterk vroue op wie se skouers ons staan om die toekoms in te kan sien, sal eer en gedenk en ons dogters van hulle sal vertel.
Sjoe net hierdie vertelling van jou raak my diep.
LikeLike
Ek weet sommer jy gaan die boek geniet.
LikeLike
Sjoe, net jou opsomming het my nou rilling op rilling besorg. Dat mense deur sulke omstandighede kan leef en so positief bly … iewers skiet ons nuwer generasies tekort.
LikeLike
Mater, dis oor die verhale onvertel is…
LikeLike
jy is ‘n messterlike storie verteller en eendag as ek groot is gaan ek mooi mooi skryf soos jy. Jou skryfsels inspireer mens om te lees en te skryf. dankie
LikeLike
Dis ons voor oumas se sterk stemme. 🤗💐📚✏
LikeLike
Ek sal die boek defnitief aanskaf, is op die oomblik besig met André Brink se A Chain of Voices.
LikeLike
Dis ‘n groot boek daai, het jy ooit Textures of Silence van Gordon Vorster circa 1983 gelees? Groot stemme wat mooi geskrywe het.
LikeLike
‘n Boek wat ek sal moet lees. Dankie vir die mooi vertelling daaroor
LikeLike