20200721_1039545925039335425633941.jpg

_83955165_alice_first_edition

Hierdie is deel van die huidige Lê-Jou-Eier reisuitdaging deur ‘n groep Afrikaanse bloggers.Gebonde, gebende en byname die Towerinne. Hulle vlieg oral rond in die VVVTT.* Hulle fantasie stories is ondenkbaar, ondoenbaar, onverklaarbaar, behalwe in hulle eie koppe.

*VVVTT =V(lieënde)V(irus)V(lugtende)T(owerin)T(ent)

Kunswerk van Daniel Merriam, “Walking on Air”

Lees oor die reis tot dusver, hier: https://fresh.inlinkz.com/p/935a80f8f1d64f4f8f4a491bb1abb030

Hoofstuk 14: Die brief

Hester wil dadelik op Aalsie se aanbeveling meer lees oor Andorra. Sy stap die VVVTT tent in om haar reissak te loop haal. Sy wil op die tablet googeloer om in volkleur te bekyk wat die land so noemenswaardig maak, die Towerinne vertel min van wat hulle en hulle nuwe tandeborsels beleef het.

Wat sou ‘quelle barbe‘ beteken wat Frannie so praat? Sy tik dit so in die stap in op Google Translate en bars van die lag uit. “What a drag,” dis wat Frannie gesê het! Baie uit aard vir ons elegante gryskop, die taal misverstand moes vir haar erg gewees het dat sy so praat, dink Hester en sy buk om die sak onder haar sitplek te trek.

“Waddehel,” sê sy verbaas. Die sak is boepens en weeg ‘n baksteen en so bietjie. Hester rits dit oop. ‘n Dikke slapbandboek en ‘n lieflike weergawe van die eerste geïllustreerde Alice in Wonderland met ‘n rooi strik omgebind, gly vloer toe. ‘n Koevert steek tussen die twee boek uit.

Hester gaan sit doodstil op haar sitplek. “Nee tent, stil jy ook,” raas Hester toe VVVTT so voel of sy wil opstyg, skoon stuitig omdat sy sonder die Towerinne vir Musica op ‘n onthoureis na haar kindertye geneem het.

Sy skeur die koevert oop en vou die wit folio oop.

Regs is die adres en datum. Sy lees:

Stokkies 10

Graaff-Reinet

Dag 117 van Covid-19 inperking in Suid-Afrika

aka 21 Julie 2020

Liewe Hester Sintester

Dis weke sedert die VVVTT op Rebusfontein aarde toe gekom het en ek my in vergeet in geval het. Toortsie se “jammer, jammer, jammer,” galm nou nog in my ore. Dit is van die min goed wat ek kan onthou.

Ek het so vyf dae gelede op Rebusfontein, in Towerinstraat 14 wakker geword, of sal mens sê tot verhaal gekom. Lorenzo en Quasimodo en die Rebusdiere was omtrent bly toe ek hulle herken.

Hulle het my vertel van julle vertrek met die VVVTT op julle wêreldreis en hulle ontsteltenis toe hulle my agter die put op die meent by Broodina se heengaan plaatjie kry. Katswink vir ‘n tweede keer.

Ek onthou hoe ek dronk, dronk op pad was om die VVVTT te bestyg, toe sien ek net sterre. Quasimodo sê dis pizzaplat Broodina wat my gemoker het en toe terwyl Bondels so vryf aan die Kwien se pennie, in ‘n kloon van my, Vuurvliegie vervorm het; en haar nou, as die uwe tussen julle bevind. Ek het probeer op Woordnoot se reis inskrywing kommentaar dat Vuurvliegie nie mense op die skouer klap nie, maar julle kom nie agter ek probeer julle waarsku nie!

Hester, hier het, buiten Broodina se verraad (julle moet haar laat haar les opsê) iets vreeslik gebeur. Ek hoop jy sit en lees hierdie alleen, sodat jy dit behoorlik en rustig kan verwerk en Dan met die Towerinne kan deel.

Sedert my tot verhaal kom, dra Lorenzo liefdevol hoendersop aan en ek sit rustig op die stoep in die son met al die diere. Een oggend sit ons nog en akkedis in die son, toe kom daar polisie en ambulansmense met ‘n helse lawaai op Rebusfontein aan.

Jy sal nie glo wie klim uit die voorste voertuig nie! Sersant Gigaba, ja, einste hy van Toweropstal. “What are you doing here,” het hy verbaas uitgeroep toe hy my eien. Ek het hom gesê ek bly hier. Hy sê toe nee, ek kan nie. ‘n Miss Breekslag en Mister De Kaak het die owerhede laat weet daar op Rebusfontein ‘n coronavirus aanslag was. Hulle kom die plek isoleer en saniteer.

Ek probeer nog keer en reg vertel, toe is die diere geskut. Ek en Lorenzo kry net kans om ‘n tassie te pak want ons gaan na die naaste kwartantyn kamp geneem word. Goddank dis die Eiland by Upington – die beste een in die land.

Arme Quasimodo hoor hy word gerepatrieer. Daar is genoeg van Notre Dame restoureer dat hy huistoe kan gaan. Elon Musk het ook handlangers gestuur om die Vliegmasjien te kom haal, hy is vies oor die Towerinne nou met die VVVTT rondreis. Ek het maar die briefie weggegooi. Julle harte sal dit nie hou om die lelike woordsnoer oor ons ondankbaarheid onder oë te kry nie. Ek het maar jammer namens almal gesê.

Hester, Lorenzo en ek word toe soos kriminele deur ‘n smoelkappie bende burokrate na ‘n bussie gelei. Ons albei snik van skrik en kommer. Niemand wil ons uitluister nie.

Ons sit so in die bussie die sanitasie en gadeslaan, toe begin ‘n vreeslike ding gebeur. Jy onthou daai eerste Microsoft Windows logo wat so blokkies verbrokkel gelyk het? Wel, skielik begin Towerinstraat so blokkie verbrokkel. Eers by Christa, toe so af in die straat. Poef. Weg is die straat.

dissolve

Ek gil en skree en vertel hulle moet stop. Maar niemand luister nie. Hulle is by die put besig. Hester, toe die ontsmetting moetie ons put se water tref, toe is dit kismet. Ons Rebusfontein is weg. Skielik is die hele spul ontsmetters ontsettend verskrik en almal gaan aan die hardloop. Iemand skree “Tokoloshe” en hulle steek sommer die veld aan die brand. Ons is onder rook- en stofwolke daar vort.

Hulle moes my inspuit, want ek was beserk van ontsteltenis om ons droomplek so te sien vergaan. Lorenzo het floute gekry en ons twee het eers later in ons huisie op die Eiland wakker geword. Die skok is vir ons baie erg. Rebusfontein is weg, kapoet. Soos mis voor die son verdwene.

Ons twee het geen manier om julle te waarsku oor Broodina en om die skoknuus oor te dra nie. Wat dierbare Lorenzo wel reggekry het is om te sorg dat al die diere kinders by die regte wêreld se huise besorg word. Ons het ‘n wit leuntjie vertel dat ons vriende oorsee op Bali en die VSA gestrand is en die repatriasie vliegtuie misgeloop het. So laat almal weet die honde, gevolgetes en katte is veilig, maar almal verlang na die toerbelustigdes.

Ag, Hester, en toe besluit Lorenzo om die geleentheid te gebruik om ‘n sjef by ‘n Kaapse restaurant te gaan word toe die grendel na vlak drie verlig word. Ek was hartseer, maar ek het ook verstaan. Hy verlang vreeslik na jou. “Firefly, I cannot seet like this, with empty hands and no Hester to look after. Djoe know I laf all de Towwerinne, but I miss Hester to much. I must keep busy.”

Ons het mekaar gister betraand gegroet. Ek het alleen op die Eiland agter gebly. Die mense het my maar laat begaan. Toe kom daar laatmiddag ‘n bus vol vrolike mense aan. Dit het my laat onthou van ons Giggelgroenbus, waar ons so vrolik in getoer het. Dit was Amoré van RSG en haar Kannabus.

Kannabus

Maat, is daar nou vir jou ‘n karakter op daai bus. Ek dink julle klomp sal van hom hou. Sy naam is Hans. Hy het die Rubicon oorgesteek en ‘n rebellie van formaat in ‘n ouetehuis gelei. Hy het ook daggakoekies wat hy aan almal uitdeel. Hy laat my na Frannie en haar broodjies verlang.

Enniehoe, ek het hulle van Rebusfontein vertel en ook dat ek desperaat ‘n boodskap by julle moet uitkry. Gelukkig maak die Kannabus net soos die VVVTT, en kan vinnig van een plek na die ander rits, ongesiens. Dis hoe ek die pakkie op Waenhuiskrans in jou sak kon kry. Kannbus het vir VVVTT gekry net voor Musika haar in kerkbanke gevou het….

Ek mis julle en my hart is stukkend oor Rebusfontein. Die dierbare mense op die Kannabus het vir my die agtersitplek gegee. Ek het sit daar soos met die giggelroenbus toer en luister en kyk en lees. Dis nie lekker sonder julle nie. Ons was gister buite Graafwater by die Heerenlogement grot waar Simon van der Stel oornag het. Dis die oudste gastehuis in Suid-Afrika. Julle moet kom blomme kyk – dit gaan vanjaar ‘n skouspel wees vertel die mense van die omtes.

Vanaand gaan die Kannabus my daar by Stokkies 10 op Graaff-Reinet aflaai. Ek moet klaar rou oor Rebusfontein wat nie meer is nie.

As julle klaar getoer het, moet julle maar met VVVTT kom kuier dat ons reünie kan hou, en nuwe avonture beplan. Ek sal smiddae op ry Vallei van Verlatenheid se uitkyk toe om te kyk of julle aankom.

Ek het ook gelukkig ‘n plekkie waarheen ek ontsnap as julle so rondrits sonder my. Dis ‘n kroeg waar ek sommer net soos ‘n vlieg teen die muur luister na Getruida en haar maats se pittighede. Hulle kan darem vir jou raak praat by Rolbos. Dankie tog Covid-19 inperking tel nie daar nie.

Ek weet nie hoe jy vir Broodina wat as Vuurvliegie in julle midde skouer klap en flamenco, gaan uitvang nie, maar ek en Lorenzo het volle vertroue dat jy plan sal sien dat die waarheid seëvier.

Ek stuur vir jou Alice in Wonderland se oorspronklike weergawe wat ek vir jou via ons Columbiaanse pelle laat ‘leen het” by die Ingelse. Ek reken Alice en die wit hasie sal jou met Broodina kan help.

Die ander boek is vir Kameel, Toortsie, Seegogga, Positief, Christa, Woordnoot, Tannie Frannie, Una, Sonell, VirgoC, Aalsie, Bondels, Musika en Perdebytjie wat die VVVTT toer so geniet. Daar is 1000 plekke waarnatoe hulle kan gaan om die inperking te ontsnap. Cliveden, Tinakilly Country House, Delphi, Ulriksdals Wärdshus, Mada’In Saleh, Guanajuato, Belém, Virgin Gorda…. te veel plekke om te lys.

Sê hulle moet gaan loer en vertel oor wie, wat waar, wanneer en hoekom oor die 1000 emmerskoplys plekke, dan sal hulle nooit weer ingeperk voel nie. Ek reken VVVTT kan nie wag om op te styg nie, sy hou van vlieg en nuwe vistas. Nie so staties soos Rebusfontein nie.

Sê hulle moet oopbek en los hande voluit gaan maar nooit Rebusfontein vergeet nie.

Groetnis, allesbeste en vlieg veilig.

Vuurvliegie.

Hester sit met die vel papier in haar hand. Die nuus te veel om te hanteer. Haar oë traan en haar neus loop, en dis nie van sinus nie.

Sy gaan nou self verder vertel…