90793311_10157887135281047_366529975009935360_o

 

Kom, kom sit vir oulaas op die stoep. Ons moet maar biekie hard praat, stoele is so meter van mekaar.  Moenie komkommer nie, die tee is van die goeie soort met gemmer en allerhande goete, en ek het ‘n masker en handskoene aangehad. Biekie ontmettingsmiddel vir jou?  Hier is die snesies. Kom ons kuier gou.

Hier op die plaas leef ek al drie jaar sosiaal gedistansieër. Julle weet mos. So hierdie ‘lockdown’ ding is vir my nogal iets om te aanskou as reeds eenkant mens.

Ek voel egter ook soos ‘n kind wat nie so lekker vir die eksamen geswot het nie. So hollerige kol net so tussen my hart en naeltjie. Daai een wat nie met kos of lafenis wyk nie. Sien ek is op my flippen senuwees om Rots en Bab 24/7 vir 21 dae om my te hê.

Ons weet nie meer hoe om heeltyd in mekaar se geselskap te wees nie, al is ons lief vir mekaar, al bly ons saam, is elke liewe Maandag tot Vrydag se agt daglig ure myne. Myne en die Watervalbende en die gevolgeltes wat veilig by my woon. Ek hoef nie te smaail nie, praat min, dink baie, doen wat ek wil. Loop in my pajamas en bad eers 14h00.

Nou berei ek voor vir  24/7 x 21 se naweekgoed:  ‘Ma, wat gaan ons eet’, ‘wie gaan help met skottelgoed’, ‘die honde moet gebad word’, wie pak die uitstallings van leë goed en gebruikte goed oral op my kombuiskaste op en smyt goed nie in die flippen asblik nie. Sewe dae ‘n week. Ek weet nie of my gemoedsbekak pil sy werk gaan doen nie.

Ag jinne, kom ons los nou eers kommerinsse,  julle sal  nou die petalje geniet. Ons en Eishkom het nie net die loadshedding verhouding nie. As daar weer op daai Elders plek van die berigte opsteek, dan sal daai bliksemstraal mos nou ‘n reële hier by ons omtes traak slaan en uitbrand. So sukkel ons vir amper 72 uur verlede naweek om Eskom tegnici te kry om die halwe fase krag toevoer reg te stel. Die ligte flikker, die yskas motors kla, dan sit ons alles af, dan is die generator op diens, dan gaan die krag aan, en so foeter ons aan.

Rots en sy nefie is baie lief vir keur boerewors. So het ons net nou die dag, voor die corona aanslag en omwentelinge, ons winter voorraad bestel. Lekkerste wors van Wegsteek Slaghuis, mooi verpak, vir ons en vir nefie kom hier op Waterval aan. Die spul wors word in die kis vrieskas verpak, saam met my meel goed en spaar brood – want ons bly op die plaas. Dis maar hoe mens beplan.

Gister wil ek brood uithaal en ek maak die kis vrieskas oop. Die brood is ontdooi, die vrieskas motor is kisboude, kapoet!  Kan jy nou jou verbeel met soveel raap-ape wat winkel rakke leeg stroop, hoe lyk dit as mens op Dag Zero in die dae van Corona,  ‘n nuwe kisvrieskas aankoop?

Rots het met ‘n kep laag oor sy gesig en ‘n hoody en sonbril, die aankoop gaan doen. Ons twee Lekker kinners gaan met die Lekker lorry plaas toe kom asof hulle ‘n aflewering van ‘n braai doen.  Flip, kon dit nie maar ‘n grassnyer of die stof suier gewees het was die gees gee nie? Ja toe, lag jou maar ‘n papie! Ek giggel al sedert gister aanmekaar.

Ek dink aan julle terwyl ek beet kook. Die huis ruk na ster anys, kardemom en koemyn. Benewelend lekker. Ek bid vir almal se veiligheid terwyl ek die kruie tuin natspuit en die geur van roosmaryn, suurlemoen verbena, salie, tiemie, wilde als en basiliekruid soos ‘n gebed na bo sweef.

Wees veilig, wees bedag om die duiwel nie spasie te gee nie. Wees nadenkend oor jou menswees, wees goed vir jouself en jou geliefdes. Was jou hande, kom veilig anderkant uit.

Terwyl ek stukkende vrieskas uitpak, lag ek oop bek, omdat ek  raap-ape en hulle selfsug so vreeslik aardig vind. My hart breek vir die bejaardes, alleen mense, armes, weerloses vir wie hierdie vreemde dae en siekte sekerlik soos oordeelsdag en die hel lyk.

Ek is dankbaar dat elke gesin in ons sorg reeds veilig tuis is, met kos, moetie, ontsmettingsmiddel, geld en die versekering dat ons daar vir hulle is.

My hart is seer oor familie en vriende wat nie meer met ons praat nie, wat nou gebede en versies omstuur. Mag daardie bruggies maar weer gebou word en oorgesteek word as ons mekaar weer kan witoog.

Sterkte en liefde aan elkeen.

Ek sal later weer kom inloer.

Naskrif:

Ek hou baie van  Carla Lewis se goeie Corona advies:
1. Bid, maar plaas jou vertroue in die wetenskap en was jou hande. Jou geloofsoortuigings skeld jou nie kwyt van die virus nie. WSJD? Waarskynlik jou gemaan het om jou hande te was. ‘Cleanliness is next to Godliness.’

2. Nee, Gertruida, Woolworths bly nie oop sodat jy elke dag vars ciabatta, croissants en bloubessies kan koop nie. Koop in grootmaat, gaan net winkels toe as jy iets dringend benodig. Vries maar daai ciabatta-broodjie.

3. As jy dit kan bekostig, betaal steeds jou huis -en tuinwerker. Hulle salarisse onderhou dikwels meer mense as wat jy dink. So help jy om die ekonomie aan te gang te hou, bestry armoede en doen ’n goeie daad. Bid ook vir jou werkers, maar nog beter, betaal hulle.

4. Moenie fopnuus versprei nie. Piesangs gaan jou nie teen Covid-19 beskerm nie. Om met heuning, asyn en warm water te gorrel, ook nie. Korona kruip nie weg in sojasous nie en jy kan steeds jou gunsteling-soeshi restaurant ondersteun. Maar net tot Donderdagaand…

5. Moenie ’n rassis of dweper wees nie. Die virus is ons almal se probleem, die feit dat dit in ’n mark in Wuhan, China ontstaan het, is blote toeval. Gaan kyk bietjie na die impak wat sondebok-soek op Jode tydens die builepes en gay mense en MIV-Vigs gehad het.

6. Hou asseblief jou kinders ver weg van ouma en oupa af. Hulle kan Skype. Nee, ouma is nie ’n kinderoppasser in die tyd nie. Al bied sy aan. Al dreig sy en raak moeilik. Dis die aard van Boomers, om stil te sit tydens ‘n krisis druis teen hul Calvinistiese beginsels.

7. Luister vir Cyril en bly by die huis. Dit beteken binne die vier mure van jou eiendom. Nee, jy mag nie met die hond gaan stap nie.

8. Moet asseblief nie al die toiletpapier en whiskey opkoop nie. Deel.

9. Ek weet die telge raak rusteloos, maar liewe ouers, probeer asseblief om hulle volumeknoppie af te draai. Ons werk tuis en dit klink gereeld asof hier ’n rituele offerhande met kinders en katte in ons straat uitgevoer word. Ek het gehoor Allergex-stropies werk.

10. Was jou hande, bly by die huis en bly kalm. En wees bly Cyril is jou president.

Spotprent: The Philadelphia Enquirer.