So maak ek vanmore my bed op. Dis ʼn gesukkel, want my hondebende kom klim soggens douvoordag as dit koffietyd is en hulle al buite was om te gaan bene rek en lig en die nuwe dag te begroet, by ons op die bed.

Dis ʼn groot speletjie, hulle grys kombers moet oor my skoon linne gegooi word. Dan kom die twee schnauzers met ʼn gejuig ingehardloop en as Rots nog slaap, word hy gou wakker gemaak met nat neuse in sy oor!

Die bejaarde yorkie, Oscar kom met moeite die bed op.  Hy dulux. Hy spring op en af nes die hond in die verf advertensie, dan sien jy hom, dan nie. Meestal gee hy op en kom staan dan smekend aan my kant van die bed dat ek hom kan ophelp. 

Ons is net rustig dan kom mambaslagter Koda Koos ingedrentel, moeilikheid kom saam. Die kleintjies is in sy lêspasie. Dan draf hy kombuis toe, blaf asof iets vreeslik aan die gang is en die kleintjies se nuuskierigheid laat hulle bed af sprong om te gaan kyk. Dis wanneer meneer dan met groot spoed terugkom en sy plek  op die bed inneem.  Die kleintjies moet dan nou weer van voor af die bed op. Elke oggend klokslag dieselfde.

Ook witoog hulle ons tot hulle elkeen hulle beskuit in koffie gedoop happies kry. Die Schnauzers haat ook ons tablette. Ons lees smorens die koerant. Milo en Ringo sorg dat dit moeilik gaan.

Dan is dit boekevattyd en Bab kom klim ook by ons op die bed. Dis ʼn storie. Die Ontvanger van ons gebede moet soms ook net Sy kop skud vir die gewriemel.

Maar ek dwaal af.

Bed  opmaak volg nie sommer met opstaantyd nie, want ons honde raak lekker aan die slaap, dan gaan mense in die huis maar met ander take aan tot die bederfies ontwaak.

Laken word reg getrek, slaapkussings reg geskud en dan die duvet en sjokolademousse deken. Dan die honde se  grys slaapkombers.

Danksy my en Rots se rug- en nek herstel tye is die honde gewoond aan oggendslapies ook. Koos sal tjank tot jy die kamer vir hom oopmaak. Ons het babahekkies in ons kamerdeure, want die bende kan stout wees en oral invaar as hulle tyd het, en ons kan nog nie mooi vasstel wie begin die blerts kompetisies nie.

Ek het vyf strooikussings op die bed. ʼn Ngunibees aan Rots se kant, ʼn familie meerkatte vir my, ʼn Nataniël-bewoorde een in die middel, dan ʼn kussing met ʼn hondegevreetjie wat nes ons oorle Cindy lyk en ʼn  Karoo kusnswerkie.

Vanmore kyk ek die kussings so. Haai, die kussings vertel ons storie!

Rots my ega van baie jaar is trots en sterk soos daai bees as hy lus het. Ek is so nuuskierig soos die agie meerkatte, en my liefde vir woorde is daar op swart op wit en bevestig ook dat skerp en goeie gebruik van onse taal vir my baie plesier gee. Die brakkussing vertel van ons liefde vir ons hondekinders. Die karoo skepping vertel van ons liefde vir die hart van ons land, onse Graaff-Reinet. 

Die Maré’s van Waterval mooi opgesom, op die kussings op my bed.

My tone krul sommer net van lekker om so sommer in die kussings stukkies an my lewe raak te sien.

Plesier in klein dingetjies laat my sommer skatryk voel. 

Sommer so huppel in my stap en blydskap warm in my hart.

My storie op my bed.

Dis nat en koud op Waterval, Ringo maak vandag ‘n nuwe storie op my bed!

 

20200212_1138545053424366552711702.jpg