Dy00Rj9X0AI0cXcJulle wat my hier in Blogland leer ken, weet van my wroeg en oorleef en oorkom tot hier. Maar halleluja, mens is immer aan die groei en met ouderdom kom begrip en wysheid en ‘n mate van deernis met die jonger weergawes van jouself. Ek het egter ‘n waentjie van selfverwyt en hoekoms en verwerping en woede wat altyd saam met Bloubekruip dit regkry om my krans af te laat foeter. Daar na die modder van putsonderwater. ‘n Aaklige plek waar ek myself net sleg doen.  

 Iets krap my hier oor die feestyd om en ek is woerts krans af. Moedeloos kom my dogter met ‘n stuk papier by my sit waar ek op die stoep my siel uitsnik van kwaad. “Ma, teken die krans waar jy so baie teen afneuk,” sê my liefling Bab. Ek teken ‘n loodreg streep oor die lengte  van die vel. “Flip ma, niks skuinstes om teen te briek nie,” kom die verbasing. Net so my kind, regaf en ver ondertoe met spoed.

“Ma, ons gaan nou van onder af vir ma trappe op bou,” kom die bevel.

“Ok, hoe gaan ons dit doen,” vra befoeterde, betraande ek.

“Lys jou seëninge, dinge klein en groot,” se my liefkind.

Ek begin: God drie-enig, Rots, Bab, geloof, hoop, liefde, my kinders en kleinkinders van ander mammas, ons brakke, ons lekker huis, die Graaff-Reinet droom, ons besighede, die mense wat ons in diens het, hoe ons kan sorg vir almal, die tuin, die voëltjies, en my trappe stapel van onder na bo teen die krans op. Toe ek my kom kry, is ek terug bo-aan die bladsy. Krans uitgeklim.

“My kind, waar kom jy hieraan,” vra ek verstom.

“Mamma ek het gebid dat die Here vir my die regte woorde sal gee sodat ek ma kan help om nie keer op keer deur ander se onnadenkendheid so seer te moet kry nie. Ek het gebid dat ons kans sal kry om hierdie gesprek te hê.”

Ek sit doodstil. “Here, dankie vir hierdie vrou wat my kind is.” So op 61 leer ek om ‘n siklus te breek, op my stoep, onder my dogter se liefdevolle leiding!

En soos dit maar met my en ToeValLig gaan, kom die gesprek van Oprah en Lady Gaga oor my pad. Ek juig oor die raakloop van die eerste onderhoud op Oprah se 2020 Wellness Tour wat Saterdag in Amerika afgeskop het. 

  Albei vroue is op my bewonder lysie. Hulle is sprekende voorbeelde van sterk vroue. Vroue wat ten spyte van, desnieteenstaande, teen alle verwagtinge in, wéét hoe om die lewe by die horings te pak en te oorleef. Vroue wat storms en uitdagings deurstaan en voluit en kleurvol hulle beste weergawe leef.

Lady Gaga se eerlikheid en passie laat my regop sit.  “I will put my shame in a box all the way over there and make it very small and say to myself, ‘I have mental health issues, I take a lot of medication to stay on board and I’m a survivor and I’m living and I’m thriving and I’m strong and I’m going to take all my life experiences and I’m going to share them with the world and make it a better place.”

Sy verwoord wat ek tans beleef.  Dit wat ek mee besig is het ‘n naam: “Radical acceptance,” ek vertaal dit as radikale selfaanvaarding.  Dit impliseer dat jy iets uit die diepte van jou wese, hart, siel en verstand, aanvaar. Jy skop nie meer teen die prikkels van die werklikheid nie. As jy laat los en laat gaan, martel jy jouself nie meer nie. Jy word nie meer smeeyster woedend en wrewelrig oor ander se gedrag nie. Jy leer  ‘n nuwe benadering aan,en beweeg vorentoe, tree vir tree. 

Jy laat mense wat jou siel seer maak gaan. Laat los en laat gaan.  Jy straf net jouself deur boekhou van gewaande onregte en on-dinge.  Ek lees dat jou woede oor ander se aksies, wetend of onwetend,  maar net ‘n monument word wat jy gedenk. Dit hou jou vas, keer dat jy leer en leer om aan te beweeg. Dieselfde is waar as jy jouself nie kan vergewe nie. Jy sal gedurig by jou monument staan en weg tree en krans af bliksem, met alles wat daarop volg.  Die ergste is al die gewaande dinge is in die verlede, dit het gebeur, jy kan niks daaraan verander nie, mits jy die les aanvaar en self aan beweeg. 

Mens moet ook besef dat radikale aanvaarding nie impliseer dat  jy met ‘n situasie of aksie saamstem nie. Nee, jy erken dat ‘n insident plaasgevind het en werklik is. Aanvaarding beteken nie om die realiteit te probeer verander nie. Dit beteken dat indien jy die realiteit nie aanvaar nie, jy emosionele pyn gaan verduur. Die ergste, dat jy dit self toedien.  So, feite is feite, en deur dit te aanvaar, askies te sê vir ander of jouself indien die geval, dit is die pad na wonderlike genesing en groei ala Lady Gaga wat in haar eie gebrokenheid en met die hulp van medikasie en terapie, ‘n kleurvolle en sinvolle lewe lei.

Seergemaakte en verwonde ek gebruik onttrekking, woede en wrewel as skild om my teen seerkry te beskerm. Hoe simpel. Jy beland keer op keer uit gewoonte in dieselfde emosionele, smeltende, morsige scenario.  Goddank vir insig en wysheid en genade om ander maniere te kry om aan te beweeg.

So, ja my einas, werklik en gewaand, deur ander of self toegedien, gaan in my Lady Gaga boksie, daar eenkant gebêre word. Die monument van my siel se besering is afgebreek, die padteken na my af-foeter krans is afgebreek, ek gaan nie daai pad meer loop nie.

Rustigheid en kalmte my nuwe mantra, en sou ek wel in die donker my pad verloor, gaan ek onthou dat ek trappe van dankbaarheid teen die krans opgebou het as voorsorg.

My Bab, ek is jou en jou geloof en liefde en wysheid, ewig dankbaar!