Ek skrik vanmore 03h00 wakker. Vol blaas, wakker lê en met God gesels tyd het aangebreek. Dis warm en bedompig.

Ek lees ‘n meditasie van Richard Rohr en ook The Sacred Braid van Dan Miller. Die vers wat my by bly is Kollosense 1:17 : Hy was daar voor alles en alles trek saam in Hom.  Die boodskap: Ons moet ophou vaskleef aan Jesus wat 33 jaar hier op die ondermaanse tussen mense en volkome mens kom word het. Ons moet leer van Ewige, Vir Altyd Jesus. Jesus was daar in die oomblikke van die Skepping se eerste asem.  Jesus is deel van God drie-enig se ewigheidsplan.

Ja, dis Jesus en Vader God en Heilige Gees wat die Ons van Genesis is. Dis wie ons uitgedink en gedroom het.  Ons na Beeld geskape het. Dis in Wie ons verlede, hede en toekoms berus. Die heilige Ons se plan vir die wêreld staan vas. Dis mense en mens-dinge wat dit verdoesel en wegsteek. God praat met ons. Oral, elke oomblik. In ons om ons by ons. Ons moet luister godsdiens beoefen.

Soos op ‘n oop boekrak, staan die boeke van die seisoene van ons elkeen se lewe. Ons kinder feëverhale, avonture, naïewe kindwees, ons ontluikende menswees, ons jeug se vurigheid, ons argwaan, arrogansie, skades, skandes, krisisse. Ons liefde(s), groei, genesing, seëninge, geloof. Deur die boekrak van jou lewe kan jy blaai. Al die stories deur jou gemaak, deur jou besluite ontketen, deur jou keuses beïnvloed. Sela.

Die stories oor tye wat jy liewer langs as in jou eie skoene wou loop, die tye van alleen, seer, bang, en ook die verhale oor tye van absolute ekstase en vreugde is op jou lewensrak. Jou boekrak het wonderbaarlik twee stutte. In die begin Jesus en Vir altyd en ewig Jesus. Soos ‘n goue draad van genade is Sy teenwoordigheid in jou stories een konstante.

Of ons nou in die woestyn rond strompel, reuse moet aanvat, na die vleispotte van Egipte verlang, moet ons vashou aan God se beloftes en liefs die eerste klein tree vorentoe gee. Al bewe jou broek, al lyk dinge te swaar vir woorde. Ons moet Habakuk en juig, al is die pad vol dorings en die opdraand steil.

Want kyk, sien. Die son sal opkom, en sal sak. Die lyster sal die son se koms eerste groet en vanaand die laaste sê inkry. Seisoene sal kom en gaan. Omstandighede sal verander. Op jou boekrak staan plek vir 2020. Ongeskrewe. Stap die verhaal vreesloos tegemoet. Onthou om te kyk na die boekstutte op jou rak. Dit het ewigheidswaarde.

Allesbeste vir more en die dae van 2020 wat volg op hierdie laaste dag van 2019.

Dit is my viering van 61 lewensjare. My boekrak is kleurvol verweef met seer, soet, mooi, lelik, vreugde en spyt.  “Ewige Jesus, dankie vir U genade liefde in my lewe,” my stil elke dag gebed.

Ek blaas die kers op 2019 se storie dood, om more weer ‘n hoopvolle kers vir 2020 se verhaal aan te steek.

(Die foto is op Kersdag 2019 geneem. Ons dek altyd ‘n ekstra plek aan ons Kerstafel om die geliefdes wat ons vooruitgegaan het huistoe en ons Ewige Jesus aan tafel te verwelkom.)

Geniet my mooi bederf blomme saam met my.

20191230_165859